Na 3 jaar van getroude lewe het ons ‘n regte egte honeymoon gekry! Ons het besluit op Griekeland en is voort na die reisagent. Die goedkoopste opsies was Kreta en Kos. Ja ja, ons is al goed suinige Nederlanders. Ek’t nog nooit voorheen in my lewe van Kos gehoor nie, maar het besluit om te gaan google en het op ‘n ekspat-groep gevra vir aanbevelings. Kos het loshande gewen en ons het bespreek. Jippie!!! Met bietjie google het ek ook gesien dat Kos in die Bybel voorkom. Handelinge 21:1. Nogal pretty cool om op ‘n plek te kon wees waar die ysters van die geloof ook was baie baie lank terug.
EN nadat ons ons van hulle losgeskeur het, het ons afgevaar en reguit koers gehou en by Kos aangekom, en die volgende dag by Rhodus en daarvandaan by Pátara.
Dis net ‘n week gewees, maar was so so nodig. Ons het besef met die wat ons so oorsee bly het ons eintlik lanklaas net ‘n gewone vakansie van rus beleef. Ons wou natuurlik soveel moontlik van Europa sien en het elke keer baie intense toere gedoen wat ons eintlik meer uitgeput as uitgerus gelaat het na die tyd. Ek het verlief geraak op Kos-eiland en sou ons langer in Europa woon of ooit weer dit kan bekostig, sal ek weer en weer en weer op ‘n Griekse eiland wil gaan vakansie hou.
Ons het Sondag 10 Mei vanaf Schiphol gevlieg. Terwyl ons wag vir ons vlug het ‘n snaakse mannetjie na ons geloop en vir Adi kom sonroom aansmeer. Gingers en ‘n son-vakansie is gevaarlik… Ons vlug met Arke was heerlik en dit was ‘n direkte vlug. Ons is vanaf Kos se lughawe weer met ‘n bus opgelaai wat ons tot by Imperial Hotel gebring het. Ons het die goedkoopste opsie vir ‘n kamer gekies maar later gedink dat dit dalk meer ekonomies sou wees as ons liewers ‘n duurder kamer met kombuisapparaat gekies het want op die ou end moes ons elke ete gaan uiteet het wat maar mens se geld vinnig opvreet. Die aand het ons so bietjie in die dorpie gaan rondloop en vir ons elkeen ‘n hoed teen die son gekoop. Ons het heerlike skaaptjops by La Strega Restaurant naby ons hotel geëet. Die baklava was ook van die beste wat ek nog geproe het. Die Grieke was ontsettend vriendelik en oral is geselsies aangeknoop en die verbasing was vir hul super groot om Suid-Afrikaners daar te kry. Ek dink nie dis ‘n algemene gesig nie.
Maandag 11 Mei: Ons het besluit om ons onmiddelike omgewing te gaan verken en het na al die bouvalle gaan kyk. Dit was nogals indrukwekkend, veral om te dink dat sommige pilare en mosaïekwerk al voor Jesus se tyd ontstaan het. Ons het na ‘n bitter lang winter in Nederland ook die warmte van die son ingedrink. Ons het ons eerste gyros pita geëet en dit was byna elke middagete se storie siende dat dit so vullend en goedkoop is. Ons het ook die boom van Hippokrates gesien wat glo een van die oudste bome in Europa is. Hippokrates is op Kos gebore en het daar gepraktiseer. Ons het vir ons ‘n kopie van die eed gekoop en ek was nogals verbaas hoe spesifiek dit sê dat geen geneesheer vir ‘n vrou iets mag gee wat tot ‘n aborsie sal lei nie en hoe ‘n geneesheer ook geensins euthanasie sal toepas, selfs al word daarna gevra nie. Deesdae vee meeste geneeshere hul bloot daaraan af. Geen trots meer in die beroep om te GENEES ipv dood te maak nie.
Nor shall any man’s entreaty prevail upon me to administer poison to anyone; neither will I counsel any man to do so. Moreover, I will give no sort of medicine to any pregnant woman, with a view to destroy the child.
Dinsdag 12 Mei: Die dag was bietjie reënerig en nie juis ‘n strand-dag nie, so ons was bly dat ons die vorige dag vir die ekskursie na Nisyros-eiland bespreek het. Ons het ‘n ferry geneem en vriende gemaak met ‘n ouer Britse paartjie. Die vertel ons toe dat hul baie graag SA sou wou besoek maar dat dit vir hul net te duur is. Dit was aanvanklik vir my ‘n skok want ek was altyd onder die indruk dat SA goedkoop is. Die ander kant is seker dat ek nog altyd SA se plaaslike fooie betaal het en nie as buitelander uitgebuit word deur hotelle en plekke nie. Ek weet wel dat die Gautrein belaglik duur is in vergelyking met treine en subways in Europa. Die vulkaan op Nisyros was nogals indrukwekkend. Ons het in die groot krater afgeklim en kon die hitte onder ons voete voel. Ook kon mens die stink-eier-reuk van die swael ruik en rook by gate sien uitkom en water hoor borrel. Daar is ‘n legende dat Poseidon glo met een of ander god baklei het en ‘n stuk van Kos-eiland afgebreek het en toe op die god gegooi het. Dis nou glo hoe Nisyros ontstaan het en die vulkaan is eintlik die ander god wat kwaad is en probeer uitkom. Ons het verder in die dorpie rondgestap wat te skattig is met sy blou en wit huisies, katte orals en mosaïek vloere.
Woensdag 13 Mei: Die dag het ons heerlik op die strand spandeer, getan en geswem. Die water is super helder en ons kon die vissies saam ons sien swem. So wow!! En natuurlik het ons die cocktails-op-die-strand ding gedoen! Die een waiter by die restaurant kan vlot Nederlands praat en ons het nogal lekker gelag vir hom. Hy’t perongeluk vir ‘n Nederlandse omie gesê goede morgen ipv goede middag en die oom het dadelik op sy horlosie gekyk en gereken dat hy die jong man moet reghelp. Die Griek was sommer geïrriteerd en het om “mureneuker” toegesnou. Glad nie ‘n mooi woord nie, maar ek en Adi het uitgebars van die lag. Ons het lekker met hom gesels oor al die snaakse gewoontetjies wat die Nederlanders soms kan hê. Wat ons glad nie van Kos-eiland verwag het nie, was hoe Nederlands dit is. Die restaurante adverteer vir kelners wat Grieks, Engels en Nederlands magtig is, daar is tot Nederlandse vlae en posters van die Koningsgesin oral op en natuurlik ‘n paar Hollandse restaurante vir die Nederlanders wat doodbang is om enige vreemde kos te probeer. Byna ‘n Nederlandse kolonie!
Met sonsondergang het ons gaan perdry by Salt Lake Stables. Ek was die een in die groep wat die beste kon perdry en was voor-in-die-koor saam die Griek terwyl die ander doer ver agter gebly het omdat hul te bang was vir gallop. Ek’t nogals spesiaal en super cool gevoel. Een van ons beste besluite gewees! Hulle het ons by die hotel kom op-en-aflaai, die perdry langs die strand met die son wat oor die water sak was amazing en ons is boonop deur die Grieke genooi om saam hulle te kom braai. Die vark is die middag geslag en ons kon seker nie vir varser vleis gevra het nie. Drinkgoed was op die huis. Ek wonder of hulle nie eintlik teen ‘n verlies gewerk het nie — ek dink die Grieke se gasvryheid is dalk ‘n goeie eienskap wat hul nou in ‘n ekonomiese krisis gekry het. Interessant van die aand — ons was ‘n baie diverse Europese groep met mense o.a. vanuit Holland, Denemarke, Tseggië, Duitsland ens, maar tog was die voertaal meestal Duits en nie Engels soos wat mens so maklik aanneem dit sal wees nie. Ons het lekker met die ou Griekse omie gesels — hy was super polities inkorrek en ek sal dit liefs nie herhaal wat hy als gesê het nie…ek wil nie deur die menseregtekommissie ondersoek word nie en netnou kry die omie ook grief as een of ander Afrikaanse libtard hier kan lees. Ek’t dit weer baie geniet om met iemand te gesels wat nie doekies omdraai as daar oor die realiteit gepraat word nie.
Donderdag 14 Mei: Ons het vir die dag ‘n karretjie gehuur om die hele eiland te kan volry. Snaaks genoeg wou hul my internasionale lisensie eerder as Adi se SA lisensie hê, maar tog moes hy bestuur. Ek weet nie hoe dit gewerk het nie, maar anyways! Dit was toe ook nou ‘n eerste vir Adi om aan die regterkant van die pad te ry en ook goeie oefening vir ons Amerika-trippie later vanjaar.
Ons is eerste na Thermes waar daar natuurlike warm water is weens ‘n vulkaan. Ek’s bly ons het vroeg gegaan want dit was toe nog taamlik stil daar. Die warm water was heerlik al het die swael-reuk maar erg gestink. Toe ons oppak en terug kar toe gaan, toe kom daar massas mense aan, so ons het dit goed getime.
Ons volgende stop was Zia, ‘n dorpie baie hoog in die berge. Ons kon pragtige uitsigte van daar bo kry al was die paadjie soms senutergend. Daar was klomp stalletjies en Adi het vir hom heuningrum gekry en ek ‘n paar olyf-sepies. Ek was super tempted om van die skattige Griekse babarokkies te koop, maar aangesien ons nog nie enige vooruitsig vir kinders gesien het nie, het ek dit maar gelos. Nou is ek lekker spyt!
Van Zia af het ons gery tot by Paradise Beach en dit is nou sowaar paradys! Wit sagte strande, nog helderder water, see wat baie lank vat om diep te word. Selfs die ginger wat gewoonlik son vermy en nie juis swem nie, het dit geweldig baie geniet.
Vandaar na Agios Stefanos, ‘n vervalle tempel en toe na Kefalos waar ons ‘n melkskommel gaan drink het. Ons het maar tussen plasies in die omgewing gery en die landskap herinner ontsettend baie aan Oos-kaap Karoo. Selfs die skape wat daar wei! By Kefalos se hawe het ons die helderste turkoois water beleef en kon ons ook die visse sien swem. Wow wow wow! Van daar is ons weer terug na Kos-stad.
Vrydag 15 Mei. Ons het die dag weer heerlik in die son en op die strand deurgebring en net gechill. Die aand is ons na ‘n Griekse kultuur-aand. Daar is Griekse danse gelewer met ‘n ete en onbeperk wyn. Wat ‘n bliksem! My glas is heelaand opgetop en vir iemand wat basies nooit drink nie, was dit nie goed nie. Ek kan niks meer van die aand onthou nie, maar het glo vir die Britte aan tafel gesê ons Suid-Afrikaners like hulle niks. Hoe ek by die hotel gekom het weet ek ook nie. Ek weet net die volgende dag was sleg. Hoekom mense ooit vrywilliglik wil dronk word, sal ek nooit verstaan nie. Ek sak my kop in skaamte.
Saterdag 15 Mei. Babbeleer. Later die dag het ons wel na ‘n kissing-fish plekkie gegaan waar jy met jou voete in die water sit en die visse aan jou voete knibbel. Dink dit het dalk gehelp deur my bloedsomloop weer mooi aan die gang te kry. Dit was erg kielierig in die begin — veral as hul so tussen jou tone suig, maar my voete was nog nooit ooit so skoon en mooi nie. Iets wat ek definitief elke Somer wil laat doen.
Sondag 16 Mei. Ons laaste tydjie op die eiland. Ons het uitgeboek en toe strand toe gegaan. Daar het ek ‘n lekker rugmassering deur ‘n Chinese vroutjie gekry. Aangesien ons geld na die week bietjie aan die min kant was, het ek haar erg afgestry en toe sy my deur die massering (wat mal lekker was) vertel sy’t ‘n man en kind by die huis en sy’s vir 6 maande in Griekeland om geld bymekaar te maak omdat hul regtig swaarkry, toe voel ek nogals baie sleg dat ek haar so kwaai afgestry het. Maar aan die ander kant, sy’t darem iets gekry waar ek die normale prys nie sou kon betaal nie. Die middag het ons by die hotel se swembad deurgebring en net gechill tot ons bus wat ons lughawe toe geneem het ons kom oppik het.
Van daar is ons weer op die vliegtuig Schiphol toe. Ons het so bietjie genip toe ons bagasie vreeslik lank vat om te kom. Ons het ampertjies die laaste trein na Groningen gemis en sou op die stasie moes slaap tot die volgende oggend indien ons hom nie betyds gevang het nie. Dank die Here ons kon op hom kom.
Dit was werklik een van die lekkerste vakansies in my lewe. Vir ‘n keer het dit gevoel of daar niks is wat my jaag en my opstres nie. Ons het elke dag net gevat soos dit kom. Selfs Adi wat dit moeilik vind om totaal en al te ontspan en weg van die studies te wees, het ek vir die eerste keer werklik sien ontspan. En die ontspanning het ons goed gedoen. Na dese verwag ons ons eersteling! Made in Greece.