Ons het maar gesoek en mense met duikbrille het probeer help, maar wats die kanse om so iets in die rivier te kry?? Een wat vloei?? Ons het aanvanklik moed opgegee, maar die Koreane is baie determineerde mense en het aangedring om nog te soek. Hulle het daardie aktiwiteit gestop en seker amper 10 werkers het begin duik en soek en raai wat?? Hulle het hom so waar as wragtig gekry!!! Kan dit nou nog nie glo nie. Maar ek moet sê, ons het nogal ‘n skietgebedjie of twee opgesê. Nodeloos om te sê, is ons ringe vir alle water-aktiwiteite afgehaal en mooi gebêre. Gelukkig is diefstal nie iets waaroor ons hier hoef te worry nie.
Hulle gee vir jou sulke papier-agtige klere, baie soos ‘n hospitaal-jurkie om aan te trek. Ek was maar versigtig en het my bikini aangehou. Adi het wel meer Adam gegaan. Die bome het glo helende eienskappe en dis goed vir ons as ons vel iets van dit absorbeer of so aan. Ons was so moeg, ons het maar net op een van die platforms gelê tot die tyd om was en nie veel ge’walk’ nie.
Was nie sleg nie, maar ‘n matras is verseker meer gemaklik as bamboes. Dit was wel baie mooi met al die liggies wat in die rivier weerkaats het.
Van daar het ons weer ‘n ander ferry na Udo eiland gevat. So 20 min. Dis ook baie mooi daar en ons het so bietjie rondgestap daar en die natuurskoon bewonder. Ons is toe na die coral beach.
Baie mooi en die seesand is meer soos baie klein klippies/korreltjies… Die water was net ongelooflik koud. Tot die mense van Kaapstad het na hul asems gesnak. Dit was wel lekker aangesien dit nou hoogsomer hier is en ons vrek van die hitte. Hulle het nie golwe by hul see soos ons nie. Net rustige deininkies. Maar ek geniet dit om nie deur branders gerol te word met ‘n mond vol sout nie.
Dis baie mooi, maar in die somer wil ek regtig nie stap nie. Het wel die army sien oefen op die strand – in Korea moet jy 2 jaar militêre diensplig doen as jy ‘n man is, en jy is glo baie gelukkig as jy na Jeju gestuur word. Die sand was meestal sulke swart korrels – natuurlik omdat Jeju ‘n vulkaniese eiland, nes Hawaii is. Die rotse daar was ook anders.
Ons het na Japanese grotte gegaan daar op die strand. Hulle het die gegrou om kanonne in die oorlog weg te steek, ek dink dit was met die 2de Wêreldoorlog. Daar was net vreeslik baie goggos op die dak van die grot.
HEERLIK verby. Hier was die water warm soos ‘n warm swembad (East China Sea). Dit is ook omtrent ‘n 100m lank knie-hoogte voor dit dieper begin raak. Die water was baie helder en ons kon die vissies saam ons sien swem het. Dit was vreeslik cool!! Ons het so lekker geswem en ontspan dat ons nooit besef het die gety het ingekom nie…Die eilandjie waar ons al ons goed neergesit het was toe nie meer daar toe ons teruggaan nie. Gelukkig het iemand ons goed geskuif – ongelukkig nadat als ge’soak’ is. gelukkig het ek my kamera en selfoon die oggend in ‘n waterproof sakkie gesit binne my groot sak, anders sou dit tickets gewees het.
Ander mense was na die klub toe, maar ek verkies swem bo dans in hierdie warm plek. Ons klomp wat teruggegaan het het darem baie lekker saam gekuier.
Dis omtrent soos lang grotte, maar dis nogal groot. Die dak is seker so 15-20m en dis omtrent net so breed. Ek’s net nie heeltemal seker hoe lank dit was nie, want ons het nie tot die einde geloop nie. Dit was darem lekker koel daar onder. Ons het ook die maze gaan besoek en probeer om hom reg te kry. Het maar gesukkel maar op die ou end het ons wel by die eindpunt aangekom.
Nou dis iets heel anders as die konserwatiewe Korea waaraan ek gewoond is. Seks-beelde orals en natuurlik museum ook. Van die Amerikaners het nogal mal gegaan met fotos saam die beelde (party is baie erg!!!), maar ons het maar gesoek na die meer beskaafdes (daars maar min sulkes gewees). Dit was wel ietsie wat nogal snaaks was. Jy kon ook allerhande dingetjies by ‘n winkeltjie daar koop…tot ‘n spesiale mussie vir die winter…
Ons woonstel is ook ‘n groot verbetering. Al wat my bekommer is dat ek nog nie ‘n bus of busstop in ons omgewing gesien het nie. Die skoolbus sal ons wel elke dag op en aflaai. Die mense hier is ook glad nie engels magtig nie.
Hulle kom groet ons op straat vreeslik entoesiasties, maar dis maar al wat hulle kan sê: “Hello, pleased to meet you.” En dan slaan hulle blank. Shame, dis nogal cute as hulle so graag wil probeer.
Ingrid kom Sondag kuier as als volgens plan verloop. Ek sien baie uit om bietjie ‘n bekende te sien!! Hoop maar sy kom reg met ‘n trein of bus tot by ‘n nabygeleë stasie en dat die taxi-drywer haar by ons huis sal kan aflaai. Ek het darem die adres in hangul vir haar gegee, so hy behoort dit te kan lees.