Dinge waar Suid-Afrika vir Nederland oortref

LEES EERS: HIERDIE IS NIE “N POST WAT DIE TWEE LANDE IN ALLE OPSIGTE MET MEKAAR VERGELYK NIE. DIT IS INELKGEVAL ONMOONTLIK. EK SÊ NIE SA IS BETER OF NL IS BETER NIE. EK KLA OOK NIE OOR WAAR EK TANS WOON NIE. EK VERGELYK SLEGS SEKERE DINGE MET MEKAAR. HIERDIE IS MY EIE ERVARING. DUS, KAN ONS ERVARINGE OOK VAN MEKAAR VERSKIL. DANKIE DAT JY MY BLOG LEES!

Ek woon nou al vir byna 3 jaar oorsee waarvan 18 maande in Nederland is. Alhoewel ek dit geniet om in Europa te woon en soms bly is ek woon hier as ek almal se Facebook statusse lees oor bv loadshedding en misdaad, raak ek mettertyd bewus van dinge wat beter in onse elektrisiteitslose land is. Ek’t besluit om bietjie meer hiervan te vertel en sal ook die lysie mettertyd aanvul soos wat ek nuwe dinge ervaar en dit moontlik raak om te vergelyk. Dit is in geen spesifieke volgorde nie, ek skryf bloot soos ek onthou.

  1. Die weer. Daar’s nie ‘n ander manier om dit te stel nie, maar Europese weer SUCK! Veral in Nederland is die weer ook baie onvoorspelbaar. Die een oomblik skyn die son en die volgende oomblik reën jy sopnat. Nou die oggend voor ek my oppas-kinders skool toe vat, toe skyn die sonnetjie heerlik by die eetkamer in. Ek het met blydskap verklaar dat dit soos ‘n goeie dag lyk tot die kiddie my herinner dat ek nie moet opgewonde raak  nie. En sowaar die res van die dag was in ‘n grou wolk met ‘n pisreëntjie gehul. Die winter is nou nie doodgaan koue nie, maar hou ook ontsaglik lank aan. Dit is nou byvoorbeeld al einde Mei en ons maksimum temperature die week oorskry nog nie eers 15 grade nie. Dis nou as dit ooit by 15 uitkom die dag. Ek verlang regtig na die Afrika son! Ek weet my skoonfamilie sing altyd “prys die Heer met blye galme” as dit reën op die plaas. Ek sing daardie selfde lied sodra die reën ophou in Nederland. Voordeel: die dae wat die son skyn, waardeer jy dit wel opreg. Ook is dit dan heel gesellig om na die park toe te gaan en is daar ‘n opgewonde atmosfeer in die lug.
  2. Ruimte/ spasie. Ek dink nie Suid-Afrikaners besef hoe geseënd hul is met al die oop ruimtes en groot huise nie. My huisie in Nederland is dalk nou wel maklik om skoon te maak, maar ek’t al vir my bloukolle gestamp net in ‘n poging om te stort. En ek’s nie eers ‘n groot persoon nie! My arme boetie het met sy kuiertjie ook ‘n harde tyd gehad om hier te beweeg. My kombuis is ook net groot genoeg vir een persoon om op ‘n slag daar in te pas. Ek weet regtig nie hoe die Nederlanders, die langste mense in die wêreld, dit regkry om in hierdie klein spasies te oorleef nie. As jy wel in ‘n klein dorpie kan woon, is die huisies effens groter.
  3. Huurgeld: Dit is ongelóóflik duur om ‘n plek te huur. Ons bly in ‘n 1-slaapkamer woonstel. En dan moet ook in ag geneem word dat ons kombuisie en badkamer piepklein is en daar letterlik net 1 mens op ‘n slag kan inpas. Huur is 875€ per maand. Dit teenoor ons R2000 p.m in Bloemfontein vir ‘n groter woonstel. Ek sit dit maar in Euros, want jy gaan in jou oggendkoffie stik as jy dit in Rand moet oorsit. Ek doen dit nie eers meer nie, dit maak my net depressief!! Hul manier om ‘n huurhuis te bekom is ook heel anders. Waar mens in SA net na ‘n agent gaan en ‘n plek kry, moet jy hier eers op ‘n website jouself inskryf (dit kos natuurlik ook geld per jaar) en dan moet jy punte opbou, voor jy ‘n lekker huurhuis kan kry. Ons sou dalk kon goedkoper kry, maar sommige van ons Nederlandse vriende moes vir 5 jaar lank punte opbou voor hul eers ‘n plek kon kry. En so baie tyd het ons nou ook nie. Koop is ook nie altyd maklik nie. Sommige huise kan wel goedkoop (Nederlandse goedkoop) gekry word, maar dan kom daar ook soms baie ander reëls by, soos dat jy byvoorbeeld nooit die huis mag uitverhuur nie. Dus, as jy trek, kan jy nie altyd jou huis as belegging hou en ‘n inkomste genereer daarmee nie. Dit is wel net in bepaalde gevalle en hang ook af van jou dorp se eie reëls.
  4. Mediese dinge: Alhoewel ek baie daarvan hou dat die dokters in Nederland nie net links-en-regs antibiotika voorskryf nie en dat hul selfs ‘n natuurlike pad kies, is daar tog dinge wat my vreeslik frustreer. Soos wanneer jy oor iets bekommerd is, en die dokter nie juis vir jou ‘n antwoord gee nie en iets sê soos “kom terug as dit vererger.” Ek weet vriende wat ‘n babatjie het, is ook al moedeloos om dit te hoor, veral as hul regtig bekommerd is oor hul siek kind. Adi het ook een keer oor iets gaan uitvind, toe sê die dokter vir hom “ek’t nooit eers vir myself vir so iets getoets nie” Wat de hel het dit te make of die dokter al homself daarvoor getoets het of nie??? Die ander ding is, die feit dat jy altyd ‘n verwysing van die dokter benodig om na ander spesialiste of so te gaan. Jy kan byvoorbeeld nie direk na ‘n pediater of ginekoloog of fisioterapeut gaan nie, dus is dit soveel ekstra moeite. Gepraat van fisio!! Dalk is ek baie bederf met my moeder wat self ‘n fisio is (een van die bestes), maar die fisio hier in Nederland is nie naastenby op dieselfde vlak nie. Die hele behandeling is maar slegs 15min lank (in teenstelling met ‘n uur in SA). En dan is dit natuurlik ook dubbeld so duur. Dit het ook gevoel of die fisio net hier bietjie druk en daar bietjie druk en toe is hy klaar. Ek voel dis iets wat ek self ook sou kon doen en dat die fisio uitstappie net ‘n mors van 15 minute en baie geld was.
  5. Boerdery: in Nederland mag ‘n boer nie self ‘n dier vir eie gebruik slag nie. Ook mag die boer nie self medikasie aan ‘n siek dier toedien nie, maar moet ‘n veearts uitgeroep word. My vader wat ‘n bemarker vir Cipla Agrimed in SA is, sou byvoorbeeld nie hier kon werk nie. Boerderygrond is ook ongelooflik duur hier en dan is dit ook nogsteeds moeilik om ‘n lewe van die piepklein stukkie grond te maak. Selfs met al die moeilikhede wat SA boere het, dink ek hulle het dit vir seker makliker as in Nederland.
  6. Haarkappers: My gunsteling ding vir as ek vir ‘n haarsny in SA gegaan het, was daardie hare was en kop massering wat mens voor die sny gekry het. ‘n Blaas was ook meestal ingesluit by die baie ordentlike prys (R70 vir ‘n sny-en-blaas by HEADS salon in Bloemfontein – Presidentstraat 5).**Ek’s intussen ook in kennis gestel dat pryse in SA ook al redelik gestyg het. Ten minste kry julle nog ‘n kopwas!**  In Nederland is daar nie so iets nie. Nee outjies, hier gebruik hul ‘n spuit kannetjie, spuit jou haartjies so stukkie-vir-stukkie nat en sny dan. En as jy wil blaas moet jy ekstra betaal. Vir ‘n vrou om hare te laat sny kos ongeveer 25€ of meer. Ek’t onlangs my oppaskind vir ‘n haarsny gevat (seuntjie) en dit was alreeds 14€ vir 3 minute se werk.  En ek is vas oortuig dat SA haarkappers BAIE meer talentvol is as die in Nederland. Ek’t wel ‘n staaltjie om te vertel…. een van die opleidingskole in Nederland het ‘n meisie een keer op ‘n FB groep gevra vir modelle om op te oefen. Omdat ek altyd kans sien vir iets wat verniet is, het ek dadelik vir haar ‘n boodskap gestuur. In die boodskap vra ek verskoning vir my gebroke Nederlands omdat ek van Suid-Afrika is. Ek kry toe die boodskap terug dat sy jammer is, maar ongelukkig nie weet hoe om met kroesies te werk nie!!! En dit terwyl ek ‘n baie wit profielfoto van myself op het! Ek het dit maar daar gelaat en nou het ek iets om te vertel. Ai ai!
  7. Troues. Hier trou mens eers voor die wet en dan in die kerk indien jy ‘n gelowige is. Die kerkdiens is ook net ‘n normale diens (met ouderlinge en als wat instap) en glad nie ‘n spesiale diens vir die paartjie nie. Die paartjie staan nie eers daar voor soos ons in SA doen nie, maar sit ook in die banke soos die res van die mense. Dit is ook nie ‘n gegewe dat daar gaan kos wees nie. Veral as die troue na 6 plaasvind (Nederlanders eet almal, op die kop, om 6 uur aandete. Niks vroeër nie en niks later nie). Ek en Adi is gewoond mens kry so groot ete by ‘n troue dat ons onsself een keer uitgehonger het die heeldag vir die ‘groot eet.’ Daar was toe egter nie ‘n ‘groot eet’  nie en ons het amper doodgegaan so honger was ons! Ek sien wel op ander uitnodigings dat daar genoem word dat daar restaurante in die omgewing is, sou jy iets wou gaan eet (vreemd né??). Maar dit lyk nie of ‘n ete saam jou uitnodiging hier aan die orde van die dag is nie.  Hulle dans ook glad nie. Verál nie as jy in ‘n Gereformeerde kerk is nie. Ek’t een keer vertel van my en Adi se troue waarop daar gedans is en die een man was verskriklik geskok dat ons, wat Christene is, aan sulke dinge meedoen. Dan kos die troue dieselfde as wat my en Adi s’n met 200 gaste met ‘n ete en ‘n dans gekos het. * Ek’t intussen terugvoer gekry dat nie alle troues in Nederland is soos ek beskryf nie en dat daar vele is wat glo net soos die in SA is. Ek sal meer moet vriende maak met verloofdes….
  8. Kerk: Ek het baie kritiek vir die kerke in SA en ek ontken nie dat daar ook groot goggas daar is nie. Maar ek mis die kerk vreeslik. Dit is baie moeilik om middle ground hier in Nederland te vind. Onder baie streng gereformeerdes, glo hul byna soos ‘n sekte dat slegs mense in hul kerk ‘ware gelowiges’ is en sal hul nie eers ‘n troue of ‘n doop van vriende in ‘n ander kerkdenominasie gaan bywoon nie. Dit is nou as hul ooit vriende in ‘n ander kerkverband het. Selfs al is dit ook ‘n gereformeerde kerk, maar in hul oë nie die ‘enigste ware kerk’ nie. Christene in ander kerke is ook nie hierdie mense se ‘broers of susters in Christus’ nie. Ek vind dit bietjie belaglik. Kerkmusiek: ek hou nie juis van ‘n band in die kerk nie, alhoewel ek die band in ons Korea-kerk vreeslik geniet het en ook ‘n voorsanger is. Maar die Psalms in Nederland het die aakligste wysies en word super stadig en trekkerig gesing. Veral “sing vrolik” is ‘n dolk deur my hart soos wat dit hier as ‘n begrafnislied gesing word. Vele konserwatiewe kerke sing dan ook nie gesange nie. Ek ervaar dat die Nederlanders glad nie musiektalent het nie. Dink bietjie…van hoeveel bekendes en klassieke komponiste van Nederland het jy al gehoor? André Rieu tel nie, hy’s van Maastricht wat byna in België of Duitsland is. Nederlanders moet maar by prentjies teken bly (dink Rembrandt van Rhyn, Johannes Vermeer, Vincent van Gogh…). Ek moet wel toegee, dat ten spyte van die aaklige Geneevse wysies, die Nederlanders wel sing! In Suid-Afrika het ons regtig mooi kerkmusiek en Totius het so ‘n goeie job gedoen met die Psalms dat dit eintlik ‘n skande is dat lidmate skaars hul monde oopmaak. Die kerke wat dan minder streng is, is óf heeltemal van die pad af, óf is Baptiste wat ons wil gedoop kry. Ons was eers lidmate van ‘n konserwatiewe kerk, maar hul het beswaar gemaak en ons is deur die ouderlinge aangespreek omdat ons ander kerke se dienste bygewoon het (hoe durf ons met súlke Christene wat nie deel is van die ‘ware kerk’ nie meng). Ons het besluit dat ons nie weer lidmaat van ‘n kerk hier sal word tot ons tyd klaar is nie. Intussen besoek ons gereeld verskillende kerke en ons het twee kerke waar ons tans die gemaklikste voel en meer gereeld as ander besoek (Vrijgemaakte kerk en ‘n meer internasionale CCG)
  9. Kersfees. Kersfees is niks besonders in Nederland nie. Soos glad nie!! Hulle vier wel vroeër in Desember Sinterklaas, maar Kersfees self bestaan dalk uit ‘n kerkdiens en niks meer nie. Ons eerste Kersfees hier het ek ‘n Kersboom opgesit en die ouderling het vir my mooi kom vertel dis nie hoe gereformeerdes dit moet doen nie. Nou gaan ons Desembers Duitsland toe, waar Kersfees amazing is! Ons was die laaste Kersfees ook by ‘n Lutherse Kerk gewees en dit was ongelooflik om met daardie kerkmusiek die Here te kon loof. Die Duitsers het weer hope talent gekry as dit by musiek kom. Ook het hul orals oor Duitsland Kersmarkte waar jy versierings, glühwein, warm sjokkolade of enige oulike goedjies kan koop. ‘n Winter-Kersfees is ook heeltemal overrated. Meestal sneeu dit nog nie teen Kerstyd nie en daar’s niks lekker aan koudkry nie. SA se warm Somerkersfeeste is baie meer ‘festive’ waar die kinders kan buite speel en Ou Kersaand ook sommer buite langs die braai en swembad gevier kan word.
  10. Braai. Ek was nogals verstom om te sien hoe baie die Nederlanders braai. Maar, slegs binne seisoen!! Die koerante kondig selfs aan wanneer die braaiseisoen begin en dan sal jy die volgende week kan kole koop by die supermark. Moenie dink om kole te kry voor dan nie. Die Nederlanders eet ook die vleis soos dit van die braaier afkom en dus eet niemand saam nie. Anders as wat ons in SA al die vleis in die braaibak sit en dan almal saam die ete geniet. Ek vind SA se manier baie meer “gezellig” as in Nederland. En natuurlik het hul nie pap en sheba soos ons nie. Maar die kan ek darem self maak met geel meel.
  11. Restaurante. Restaurante is baie duur in Nederland. Ek vind wel dat dit wissel van plek tot plek. Volgens my ervaring (nie dat ek juis baie in hierdie area het nie) is die restaurante in Groningen byvoorbeeld duurder as in Amsterdam or Rotterdam. Ek dink ons eet baie meer uit in Suid-Afrika as hier in Nederland. Maar dalk is dit ‘n goeie ding! Tuis-etes is gewoonlik gesonder!
  12. Jy moet als SELF doen. Self huis skoonmaak, self petrol ingooi, self jou inkopies inpak ens. Nou hierdie puntjie is nie noodwendig vir my ‘n slegte ding nie en is dalk juis ‘n goeie ding. Dalk het ons Suid-Afrikaners te veel in gemak geval deurdat ons nooit meer self iets doen nie. Hierdie een sal dalk weer op die lys vir ‘n volgende beplande blog waar ek oor die goeie dinge in Nederland wil skryf, kom.
  13. Rook. Die mense hier is nie juis bedagsaam as hul rook nie (alhoewel ek tog ‘n paar onbedagsame rokers in SA ook ken). Rokers sal maklik sommer ‘n sigaret aansteek terwyl jy met ‘n baba langs hul staan. Of by uitgange (soos bv die kerk of ‘n besigheid) staan en rook sodat jy noodgedwonge deur die stank moet loop om in/uit te gaan. In my ervaring rook Suid-Afrikaners ook uit respek nie by die kerk nie en sal kinders, selfs al weet hul ouers dat hul rook, ook uit respek nie voor hul ouers rook nie. In Nederland staan die 14-jarige sommer buite die kerk ook en rook en dis ook geen probleem nie. As ek dit sou waag….
  14. Laster. In Suid-Afrika sal jy nie sommer die Here se naam net misbruik nie. Altans, waar ek vandaan kom is dit erger as vloek en dis net gewoon nie iets wat mens doen nie. Ja ons hoor dit baie in Hollywood films en so, maar ek was regtig nie voorbereid op hoe die Nederlanders (moet sê dis nie die gelowiges nie) laster nie. Hulle “Jezus” die hele tyd! Dit offend my BAIE. Ek hoop ten minste as Nederlanders hier lees wat dit doen, dat hul daaroor sal dink dat dit super disrespekvol is om die Almagtige God se Naam sommer net so rond te slinger.

Verder kan ek nie aan nog goedjies op die oomblik dink nie, maar ek is taamlik seker die lys sal nog aangevul word. Indien jy ook ‘n Suid-Afrikaner is wat in Nederland woon, is jy welkom om kommentaar te lewer van dinge wat jy ook ervaar het. Bogenoemde dinge is als my eie ervaring en ek’t niks gaan navors nie. So jy is welkom om my te korrigeer! Dan wil ek ook noem dat ek nie blind is vir SA se foute nie, maar tog ook net wou noem watter dinge wel beter in onse mooie land is.

PS. Hierdie is ook GLAD nie ‘n poging om Nederland te probeer sleg maak nie. Hier is ook hope dinge wat lekker en beter mag wees. Ek wil bloot net wys dat ALS nie altyd beter is nie en dat daar ook ‘n paar dinge in SA is waarvoor ons dankbaar moet wees. Ek het belowe om ook ‘n stukkie nog oor die goeie dinge in Nederland te skryf. Daar is egter nogals baie goeie dinge, so ek sal eers bietjie meer tyd op hande moet hê. xxx