Handig om te hê babagoedjies

Omdat ek nou soveel vriendinne het wat tans swanger is, het ek besluit om ‘n blog te skryf oor die dinge wat ek as onmisbaar gevind het in die eerste 5 maande van Hanna se lewe. Dan kan hul sommer hier loer en hoef dit nie te voel of ek beterweterig heeltyd wil raad gee nie. Ek hoop sommer dit kan dalk help vir diegene wat wonder wat hul kan koop vir ooievaarstees. Ook sommer om te noem watter goed oorbodig is. Omdat ons die eerste 6 maande oorsee bly, het ons eintlik baie minimalisties klaargekom, tog het ek steeds ‘n wenslysie vir sodra ons weer in SA is of selfs vir die volgende kindertjies wat dalk mag kom.

  1. Meubels: Die eerste jaar het die baba regtig nie eers ‘n kamer nodig nie. Veral aangesien mens in die aande ook moet voed, is dit soms net eenvoudig makliker as baba by jou in die kamer slaap. Dis natuurlik seker wel lekker om alreeds ‘n ingerigte kamer te hê. Maar as jy bv net ‘n een-slaapkamer huis of woonstel het wanneer jy swanger raak, hoef jy jouself nie op te stres en te voel jy moet onmiddelik trek na ‘n groter plek nie. Hanna slaap op die oomblik in ‘n ou stootwaentjie se “carry cot” gedeelte langs ons bed. Die waentjie was in die begin gerieflik omdat ons haar dan orals elders in die huis kon stoot. Hy raak nou ongelukkig bietjie klein vir haar en ek kan agter kom dat sy nie meer so gemaklik slaap nie omdat sy graag wil omrol ens. Iets wat definitief op my wenslysie is vir ‘n volgende kind, is ‘n co-sleeper. Dit is soos ‘n kleiner kot, maar die een kant is heeltemal oop en sluit aan by jou bed. Op Pinterest is daar nogals baie foto’s van co-sleepers en ook hoe om self een te maak. Nog iets wat mens ook sal moet hê is ‘n spasie om baba op skoon te maak. Dit hoef nie per sé ‘n commode te wees nie, enige laaikas wat genoeg plek bo-op het vir die ruil-matrassie sal kan doen. Ons het ook ‘n ekstra ruil-matrassie langs die bed waar ons sommer die volgende oggend haar doek ruil op die bed as ons nog te lui is om heeltemal op te staan.
  2. Borsvoeding: Lansinoh tepelsalf! Koop dit, dit is nodig veral in die begin. Rooibostee – deur gehidreër te wees, gaan jou melkproduksie ook hoog hou. Neem in ag dat rooibostee die opname van yster wel kan belemmer, so moenie te veel drink as jy dalk baie bloed verlies het met die geboorte nie. ‘n Waterbottel langs jou bed is ook noodsaaklik. Mens raak DORS! Anys help ook vir melkproduksie, so gebruik dit sommer as ‘n lekker verskoning hoekom die tannies vir jou beskuit kan bak! Ek sal ‘n borspomp ook aan beveel, selfs al beplan jy nie om terug te gaan werk toe nie. Dit kom baie handig te pas vir die onvoorsiene kere wat jy sonder baba êrens heen moet gaan, of in die begin as mens so oorvol is en bietjie verligting moet bring. Voedingsbra’s en voedingsklere is vir my super handig. Sommige mense mag dalk sê dat dit onnodig is, maar dit maak vir seker my lewe makliker. Die toppies help jou om diskreet in die publiek te kan borsvoed. Ek is all about publieke borsvoeding, so self gebruik ek nie ‘n cover nie (my baba haat dit en ons sukkel 10x meer as sonder dit), maar as jy te skaam is, is dit ook vir seker iets om op jou lysie te sit. Dit is baie maklik om een te maak ook. Vat ‘n stuk materiaal (dink amper aan ‘n tafel loper), vou in die helfte en stik dan die lang kante toe. Los by die een kant net ongeveer 25cm opening vir jou kop om deur te pas. As jy dit dan aantrek, gaan dit basies soos ‘n poncho aan jou hang en is perfek vir ‘n borsvoed cover. Materiaal soogkompresse (breastpads) is ook baie gemakliker as die weggooi-soort. Dit skuif nie so rond nie en mens kan dit oor en oor gebruik. Die meeste het ‘n 11cm deursneë. As jy baie lek, beveel ek aan om te soek vir die met 13cm deursnit. Dit maak nogals ‘n groot verskil. ‘n Voedingskussing is ook super handig. Ek het sommer twee, een vir die kamer en een vir in die sitkamer.

    Iphone Junie 2016 045

    Met die borsvoedingstoppie is byna niks sigbaar as mens jou babatjie in die publiek wil voed nie. 

  3. Ontvangskombersies. Dit is die wonderlikste goed. Soveel gebruike! Ek gebruik myne as kombersie, doek (baie absorberend!) en handdoek – soveel sagter vir die ou babavelletjies as ‘n regte handdoek. Ook kan mens dit in kleiner stukkies van 10x10cm knip en omsoom en as wasbare wet wipes gebruik. Jy los klapperolie in kookwater op, gooi so 2 druppels baba-seep in en sit die wipes in. Dit spaar BAIE geld – babas gaan deur wetwipes met ‘n stink spoed (pun intended) en ek vind dat die materiaal wipes baie meer effektief is as die wetwipes. Wetwipes is natuurlik ook super welkom vir ‘n ooievaarstee. Iets waarvan mens nooit te veel kan hê nie.
  4. Doeke: Seker obvious dat mens dit nodig het. Volgens ‘n vinnige google search blyk dit dat mens tussen 3000 en 5000 doeke benodig in die eerste jaar. Dws ‘n shitload (pun intended). Dus is dit baie handig as jy doeke present kry vir jou ooievaarstee. Ek sal mense wel aanmoedig om ook liewers groter doeke te koop. Dit help nie die mamma het tien pakke nommer 1 doeke, maar niks nommer 3’s nie. Oorweeg ook lapdoeke. Ek gebruik slegs lapdoeke op my dogtertjie. Natuurlik handig om weggooidoeke in die huis te hê vir noodgevalle ook. Mens kan old-school voudoeke gebruik (soos vroeër genoem werk ontvangskombersies wonderlik) of mens kan van die nuwe moderne lapdoeke koop. Mens het so 20 nodig. Dit mag op een slag dalk vreeslik duur lyk, maar op die ou end werk dit by verre goedkoper uit. So teen die einde van elke maand is ek darem bitter bly ek hoef nie nog doeke en poeiermelk ook te koop nie.
  5. Klere. Newborn kleertjies is cute, maar almal koop dit vir ooievaars. Ek stel voor mamma koop glad nie kleertjies tot na die ooievaarstee nie, dan kan sy eers kyk wat sy nog nodig het. As jy kleertjies vir ‘n tee koop, probeer ook kyk vir groter nommers wat later vir babatjie kan pas. Tips: Moenie by Jet koop nie, hul kwaliteit is ***. Ek’t ‘n verskeidenheid kleertjies van ma en skoonma gekry van PEP, Ackermans en Jet. Omtrent al die Jet kleertjies het probleme. Of dit is swak gestik, of die kleur was sommer vinnig uit of dit sit net eenvoudig nie mooi nie. Iphone Mei 2016 232Met rompers – probeer vir die wat so oorslaan en vasknip in plaas van die wat jy oor die kop moet aantrek – pasgeborenes HAAT dit. Kyk ook dat jy glad nie kleertjies met ‘n kraag vir pasgeborenes koop nie – dit skuur teen hul wangetjies en hul drink refleks maak dan dat hul die heeltyd tietie soek.
  6. Bad-tyd en versorgingsprodukte. Omdat ons nie ‘n bad het nie, moes ons noodgedwonge ‘n baba-badjie ook koop. Maar teen 5 maande lyk dit ook al bietjie te klein te wees, so as ons terug in SA is gaan ons sommer in die groot bad bad. Mens het ook glad nie al hierdie baie baba-produkte nodig nie. Poeier is die grootste onnodigheid ook en is glad nie gesond nie. Seep hoef mens ook net eintlik te gebruik as baba nou regtig egtig vuil geword het. Water is meestal genoeg. Boudjieroom hoef ook nie elke keer gebruik te word nie. Net as daar rooi boudjies is.
  7. ‘n Goeie waentjie.
  8. Kar-stoeltjie
  9. Nagliggie. ‘n Vriend het vir ons as geskenk gegee toe hulle kom baba kyk het. Prys die Here daarvoor. Nou as sy wakker word of kerm in die nag hoef ek net die liggie aan te sit. Dis dowwer as ‘n gewone lig, so maak nie vir pappa wakker nie, maar gee genoeg lig dat ek kan sien wat ek doen. Omdat hy by die bed is hoef ek ook nie uit te klim om ‘n lig te gaan aansit nie.
  10. Fopspeen. Okay, dis ‘n kontroversiële onderwerp. Sommige mense sal sê dis die duiwel. Wel, in my opinie moet hul dan hul skreeuende kind geniet. Dummy was vir my ‘n lewensredder. As baba ontsteld is, is daar min dinge wat hul so vinnig kalmeer soos om dummy te suig. ‘n Lintjie om seker te maak hy verloor nie is ook super handig.
    Iphone Mei 2016 118

    Dummy met lintjie

     

  11. Speelgoed: Speelmat. Vanaf 2 maande het sy baie geniet om op haar rug te lê op die speelmat en met die goedjies te speel bo haar kop. Noudat sy ouer word geniet sy weer die speelmat om op haar magie te lê en te probeer kruip.

    Kraakboekie. Dis ‘n sagte bababoekie met prentjies, maar die bladsye kraak – amper asof daar chips papier tussen-in sit. Hanna love dit! Iets wat vir my weer bietjie onnodig was, is hierdie speelgoed om aan die stootwaentjie te sit. Sussie stel glad nie daarin belang nie. Dis vir haar soveel lekkerder om sommer buitentoe te kyk vir almal en andersins slaap sy.

  12. Spoegdoeke. Sommer baie! Ek hou nogals van moeseliendoeke. Ook baie veelsydig. Soms gebruik ek dit as doek, soms handdoek en soms spoegdoek. Sussie hou ook daarvan om met ‘n moeseliendoekie aan die slaap te raak. Sy vryf dit so teen haar wangetjies.
  13. Borslappe. Ek hou baie van hierdie driehoekie tipe borslappe. Dis nie so groot nie, so dit oordonner nie die skattige kleertjies nie, maar is genoeg om enige spoeg op te vang.
  14. Romper-verlengers. Dit is so 5cm lange stukkie materiaal met drukknopies aan beide kante. Werk uitstekend veral met die lapdoeke waar die boudjies bietjie groter is, maar selfs sonder lapdoeke gee dit jou rompers so ‘n klein bietjie langer lewe.
  15. ‘n Inkopie-net vir jou waentjie. As jy beplan om met die stootwaentjie te gaan inkopies doen is die ‘n moet. Dit hak aan jou waentjie was en jy sit jou inkopies daarin soos jy shop. Baie makliker as wat jy nog ‘n inkopie trollie of mandjie ook moet stoot/dra.
  16. Swem-doek. Ons dra een onder die swembroekie om “embaressing” poo-namis in die swembad te keer. Ek persoonlik gril vir die weggooi soort – maar dit kan dalk wees omdat ek regtig ‘n afkeer in die weggooidoeke en hoe hul die omgewing opmors het. Baie van die webtuistes wat moderne lapdoeke verkoop, het ook swemdoeke.Iphone Junie 2016 029

Soos wat sy ouer raak sal ek seker nog meer bewus raak van watter dinge goed vir ons werk en watter nie.

Oulike website om ‘n ooievaarstee register te maak met die dinge wat jy graag sal wil hê is gifster. Nog ‘n oulike website is mealtrain. Dit is vir net na baba se geboorte. Laat jou vriendinne en kerktannies invul watter dae hul sal sorg vir kos vir jou. Ek sou sê dit sal baie handig wees en dit kan ook dien as iemand se ooievaarstee geskenk.

As enige mammas my blog lees – comment asb met die onmisbare dinge vir jul. So kan ons ander voornemende mammas help.