The American dream – ‘n nagmerrie by die konsulaat

Tydens die Somer van 2015 is ek en Adi bietjie na Amerika gewees waar ons van ons Facebook vriende in persoon gaan ontmoet het en waar Adi vir 4 Sondae by ‘n klein kerkie gaan preek het. Maar meer oor ons trippie later. Eers wil ek my ervaring met die visum-aansoek deel.

Ek wou al lankal vertel, maar was so bang ek word gearresteer of assassinate as ek uitpraat voor ons trippie dat ek dit vir ‘n rukkie eers uitgestel het, haha.

Eerstens as jy op die internet jou afspraak maak, moet jy ‘n vraelys invul. Die vreemdste vrae onder die son. Vrae soos: “Do you plan on being a prostitute” of “do you plan to engage in terrorist activities?” Imagine nou ek tick “no” en gaan blaas ‘n bank of iets op… Gaan hul dan met my raas en sê “Jy’t BELOWE jy sal nie!!!”

Op die website sê hul dat as mens jou selfoon saambring, dit dalk jou afspraak kan vertraag weens sekuriteitskontrole. Maar aangesien ek die middag weer terug in Groningen moes wees om die oppaskinders by die skool op te tel en ek nie geweet het hoe lank dit gaan vat nie (die treinrit alleen is 2 ure lank), kon ek nie regtig my foon tuis los nie aangesien ek die kinders se ouers sou moes bel as ek nie betyds kon terug wees nie. Dus beplan ek toe om ‘n uur vroeër al vir my afspraak daar op te daag.

Daar gekom staan daar een norse man voor die konsulaat. Ek gaan na hom en wys my papiere. Hy sien ek’s vroeg en stuur my toe weg. “Come back at your appointed time.” Nou ja, ek stroll toe maar daar op Amsterdam se museumplein rond, drink ‘n koffie’kie en eet ‘n stroopwafel. So 5 minute voor my afspraaktyd gaan ek terug. Die keer verloor die meneer dit en skree op my “I told you to come back at your appointed time!!!!” F****t ou, haal die boeing uit jou hol, dis net 5 minute!!! (Ek’t dit net gedink – nie hardop gesê nie, maar ek wou).

Ek’t maar weer vir 5 minute gaan stap en toe teruggekom. Terug daar, vra hy of ek my selfoon by my het. Ja ek het. Ek het dit ook al die eerste keer wat ek soontoe gegaan het vir hom gesê. Baie nors word ek na ‘n ander ry gestuur. Die ry van die “stout kinders” wat hul selfone by hul het.

Daar staan ons toe vir seker ‘n driekwartier en wag tot ‘n sekuriteitswag uitkom en vir ons vertel dat die konsulaat nou gaan sluit en dis nou sleg vir ons maar ons moet re-schedule want hul het nie tyd om ons selfone deur die security check te sit nie. Maar….hy sê toe ook: “If you can get rid of your phone within the next 10 minutes, you can go right in.” Ek en die een Hollander daar dink dadelik dieselfde ding en ons hardloop na ‘n blombedding aan die oorkant van die plein en gooi ons fone sommer daar in. Ons het besluit ons vat die kans vir ons fone om gesteel te word — myne was toe net ‘n ou Blackberry en dit sou my inelkgeval meer gekos het om te re-schedule. Terug by die konsulaat kom daar ‘n shitload sekuriteit uit. “You have committed an act of terrorism by planting electronic devices in front of a US consulate, this is a felony.”

Kyk, ek bevuil amper myself en bars in trane uit. Ek sê vir die mense “do I look like a terrorist??? You told us to get rid of our phones, that’s what we did!” Ons word toe beveel om ons fone te gaan haal, hul sal gou die check doen. Ek glo nie hul wou ons regtig arresteer nie, net weer bietjie hul eie magsgevoel boost deur ons te intimideer.

Hollandertjie word beveel om sy foon se battery uit te haal. Ek wil nie tyd mors nie en haal my battery ook uit. Die offisier ontplof. “I did not tell YOU to take out your battery, I need to see it on!!!!” Okay okay, ek sit weer die battery in. Nou ek weet nie of jy weet hoe lank ‘n Blackberry vat om aan te gaan as jy die battery insit nie. Laaaaaank. Offisier verloor weer sy cool en dinges my uit omdat my foon so lank vat. Ek kan mós die foon aanjaag. Op die ou end is hy te ongeduldig om te wag tot die foon aangaan en word ek gevra om die battery uit te haal. Nou weet julle wat is die sekuriteits check wat apparently so lank vat??? Dis so wit papiertjie dingetjie wat hy net so oor my foon waai. Vat 2 sekondes tops!!!

Binne die gebou moet ons ook deur een van daardie scanner goed loop. Stupid kaaskop het toe ‘n broodmes in sy tas! Ja, dis nou een ding van die Hollanders. Hul pak nie ‘n klaargemaakte broodjie vir die dag in nie. Hul pak ‘n halwe brood, mes en grondboontjiebotter in en maak dan deur die dag broodjies wanneer hul honger is.

Eerste balie waar ek moet aanmeld daar binne kry ek toe ‘n baie vriendelike man wat my help. Toevallig is hy ‘n Nederlander. Baie opgewonde toe hy my SA paspoort sien en wil net hê ek moet asseblief bietjie Afrikaans met hom praat. Hy’t my nogals gehelp om te kalmeer na my “felony” van vroeër.

In die onderhoud ry hoor ek die gesprek met die meisie voor my. Sy word haar visum geweier. Sy’s oppad na ‘n konferensie in die VSA, maar het pas klaar studeer en nog nie werk in Nederland nie, toe figure die beampte dat sy nie genoeg bewyse het dat sy gaan terugkom nie. O donner, ek gaan nie my visum vandag kry nie, is al waaraan ek kan dink.

My beurt. Nog ‘n nors Amerikaner. Hy val weg met klomp name wat hy opnoem en vra of ken ek die mense. Ek ken niemand nie. Hy kyk my aan asof hy nie ‘n woord uit my mond glo nie met “are you sure you don’t know them?” Hy vra toe wat ek in Nederland doen vir ‘n werk. Ek’s ‘n nanny. Nee ek het nie ‘n kontrak nie. Maar geluk (prys die Here) het ek ‘n brief van my werkgewers wat my vakansiedatums uitstippel en wanneer ek weer moet begin werk. Volgende vraag: hoe ken ek my vriende in die VSA? Okay, so ek kon net nie vir hom sê dat ons hul op Facebook ontmoet het nie. Dan gaan ek mós die visum kry. Ek sê “networking”. Hy kyk my weer weird aan. Dit lyk nie of ek die visum gaan kry nie. Hy vra my “What are you going to do at thát church?” Nou omdat daardie kerkie nog bitter klein is en nog nie geregistreer is as ‘n kerk nie het ek heeltemal niks daaroor gesê of so nie. Bloot net dat ons vir vriende gaan kuier. Dus het hul op ‘n manier goed op my gespy om goed te weet wat ek nie vertel het nie. My tong knoop amper soos wat ek iets probeer uitdink “we are Christians and planning to attend church on Sundays.”

Skielik kry ek die brainwave om te sê dat Adi al die mense ontmoet het. Hy was vroeër die jaar in Florida vir ‘n konferensie. Ek sê dit vir die man. “Did we issue his visa?” Yes. Gelukkig het ek op die laaste minuut voor ek die oggend by die huis weg is, sy paspoort saamgevat en kon ek vir hom wys. Toe wou hy weet wat ons in Korea gesoek het… Net bietjie gaan geld maak ou.

Die man kyk my stip in die oë. Ek dink “o shit.” Hy sê: “Enjoy your stay in the United States of America.” Ek glo dit nie. Ek vra hom “so is my visa approved????” “Yes.”

All’s well that ends well, maar dit was vir seker een van die mees stresvolle dinge wat ek nog gedoen het. Oppad terug Groningen toe tjank ek van verligting in die trein. Drie dae later word my paspoort met die visa by my afgelewer. 10 jaar geldig. Dankie tog!! Nou weet ek darem vir seker ek hoef die volgende 10 jaar nie deur dieselfde stront te gaan nie.

Nou wonder ek… julle Amerikaanse boikies, gaan julle my blog vertaal en lees? Watch my lekker hoor!