Pro-lewe, selfs in die moeilike gevalle.

Diegene wat my goed ken, weet dat die hele pro-lewe kwessie een groot passie van my is en ek sal myself seker ook as aktivis kan beskryf. Ek dink dis absurd dat vrouens die keuse mag hê om hul kind te vermoor. Moord mag nooit ‘n reg wees nie. In kort, ek dink dis walglik as jy jouself soos ‘n slet gedra het en dan toelaat dat ‘n babatjie met sy lewe daarvoor moet boet.

pro-life_feet prolife2 quote-the-greatest-destroyer-of-peace-is-abortion-because-if-a-mother-can-kill-her-own-child-what-is-mother-teresa-183493

Maar nou ja. Sonder om die mees algemeenste rede vir aborsie (naamlik “choice”) in ag te neem, gaan ek bietjie my standpunt verduidelik oor die moeiliker kwessies. Ek begryp dat baie mense nie met my oor my standpunte gaan saamstem nie, maar voel steeds welkom om my iets te vra in die comments en om my sieninge te “challenge”. As daar egter vloek en skel en persoonlike aanvalle by jou comment betrokke is, sal hy nie geplaas word nie. Ek gaan eers net ‘n stuk met my opinie oor die betrokke kwessies skryf, en sal dan later skakels inplaas om van my stellings te steun.

Verkragting:

Hierdie is seker die argument wat altyd eerste opgebring word as mense aborsie wil verdedig. Verkragting is ook ‘n verskriklike traumatiese gebeurtenis en iets wat elke 17 sekondes in Suid-Afrika plaasvind. Dus is dit baie relevant vir ons en voel ek dis die een om eerste aan te spreek aangesien meeste Suid-Afrikaners aborsie in hierdie geval steun sonder om ‘n oog te knip.

Eerstens is dit ‘n ongelooflike klein persentasie van mense wat ‘n aborsie ondergaan wat wel verkrag is. Dit gebeur dat iemand swanger kan raak na verkragting, dit sal ek nie ontken nie, al is die kans baie skraal. ‘n Vrou se liggaam is so in ‘n veg-of-vlug toestand vol adrenalien as verkragting plaasvind dat die kans op bevrugting baie klein is. Dus, selfs al sou ons aborsie slegs toelaat op grond van verkragting, is dit nogsteeds nie ‘n rede om aborsie te wettig vir enige rede nie, aangesien hierdie maar so ‘n klein persentasie is.

Tweedens. ‘n Lewe is ‘n lewe. En moord is moord. Die Engelse het die gesegde “two wrongs don’t make a right.” Ook is daar al baie verhale van meisies wat meen dat die aborsie vir hul meer traumaties was as die verkragting en dat hul ‘n ongelooflike skuldlas na die tyd gevoel het. Hoekom sal mens iemand wat alreeds deur hel is, deur nog meer hel wil sit deur ‘n aborsie aan te beveel? Daar is ook vele gevalle van kinders wat die resultate van verkragting was, wat wonderlike mense uitgedraai het. Hoekom sou mens hul ‘n lewe, lewe wat deur God gegee is, ontneem?

Derdens. Dis nie net die verkragter se kind nie. Elke kind het twee ouers. Dus is jý, die mamma van hierdie babatjie. Onthou dit! Dis JOU kind. Mens kry baie slegte ouers, hulle is nie noodwendig verkragters nie. Omdat iemand ‘n slegte ouer is, beteken nie hul kinders verdien die dood nie. As onderwyseres het ek geleer dat mens nooit ‘n kind mag kwalik neem indien hy simpel ouers het nie. Maak nie saak hoe kwaad die ouers jou gemaak het nie, jy mag nie die kind anders hanteer nie.

Wat is jou opsies sal jy dan vra?

  1. Werk deur jou trauma en laat iets goeds daaruit kom. Laat jou kind vir jou ‘n nuwe begin wees. Hou jou babatjie en wees die beste mamma vir die kindjie wat jy ooit kan wees.
  2. Gee jou babatjie op vir aanneming. So kan jy ‘n ander paartjie gelukkig maak, sonder dat jy die skuldlas van moord ook op jou skouers moet dra.

Omdat hierdie so ‘n relevante onderwerp in SA is, het ek self ook al baie gewonder wat ek in so posisie sou doen. Ek weet ek sal vir seker nie met myself kan saamleef as ek ‘n babatjie se lewe geneem het nie. Aanneming klink soos ‘n baie beter opsie, alhoewel ek ook nie weet of ek dit oor my hart sal kan kry om die babatjie weg te gee nie. Dis dan mý kind! Dalk is dit te maklik vir my om te sê omdat ek juis nie ooit in hierdie posisie was nie, maar ek glo ek sou my kind gehou het en die beste van ‘n slegte saak probeer maak het.

Getuienisse deur mense wat dmv verkragting gebore is of wat swanger geraak het na verkragting:

https://www.lifesitenews.com/news/we-are-not-cannon-fodder-woman-conceived-in-rape-calls-out-pro-lifers-over

https://www.lifesitenews.com/news/woman-who-chose-life-after-brutal-rape-at-12-has-no-regrets-says-her-daught

 

Down sindroom

Om een of ander rede dink Suid-Afrikaanse Christene dit is okay om gestremdes te vermoor. Ek’t nog nooit een van my Amerikaanse of Nederlandse Christen-vriende hoor sê dat hul aborsie sal steun in hierdie geval nie, maar om een of ander rede verwag Suid-Afrikaners dat mens moet aborteer as down sindroom opgetel word by ‘n ongebore baba. Ek blameer die kerke in SA, asook die ou regering wat vroeër die standpunt gehuldig het dat aborsie okay is onder sekere omstandighede. Nou glo Afrikaners dat dit ook okay is. Dit is nie okay nie! Moord is nooit okay nie. Om gestremdes as minderwaardige lewens te beskou is nie okay nie!!!! Daar is NIKS Christeliks daaraan nie. As jy aborsie steun is jy nie ‘n Christen nie. Hier is van die selfsugtige redes wat voornemende ouers meestal gebruik: https://www.lifesitenews.com/pulse/real-couples-who-plan-to-abort-down-syndrome-babies-defend-their-choice. Die aaklige waarheid is dat 90% van babatjies wat met down sindroom gediagnoseer word, die doodsvonnis opgelê word.  Soms lyk dit vir my dat diere beter moeders is as mens sien hoe hierdie chimpanzee vir haar downs babatjie gesorg het.

Opnames het al gewys dat meer Down sindroom mense hulself as gelukkig beskou as ‘normale’ mense. So hoekom sal mens wil redeneer dat jy dit ter wille van die kind wil doen en meen jy wil die kind so ‘n lewe ‘spaar’? Is dit nie eerder jou eie gemak waarvan jy praat nie? Ook meen baie van die ouers dat hul lewe meer verryk is met hul down sindroom kind.

Mens kan hoë hoogtes bereik, selfs al het jy Down’s. Bloemfontein se eie Sheri Brynard is bewys daarvan. Google haar bietjie. Wat ‘n inspirasie!!

Natuurlik gaan mens baie hindernisse op die pad ervaar met ‘n gestremde kind. Dit sal ek nie ontken nie. Maar is dit die spyt en verwyt werd wat jy die res van jou lewe gaan ervaar omdat jy jou eie kind se lewe geneem het? Ek ken nou al ‘n paar mense wat kindertjies het met Down’s. Ek kan jul belowe dat hul soveel liefde en vreugde uit hul kindertjies put. Amerikaanse vriende het selfs 3 aangenome Down’s boetie en sussies. Ek haal my hoed af vir hul ouers wat dit op hul geneem het om so ‘n taak heeltemal vrywillig aan te pak.

Weereens, as jy regtig nie self kans sien om jou eie kind groot te maak nie, is aanneming nogsteeds die meer liefdevolle keuse. In die VSA is daar selfs ‘n waglys van ouers wat bereid is om ‘n Downs babatjie aan te neem. Onthou, dit is nie ‘n doodsvonnis nie, moenie dit een maak nie!

Ongelukkig is daar ook baie hartelose dokters daarbuite wat dalk selfs gaan weier om jou gestremde kind te behandel. Bid asb vir die ouers van gestremde kinders vir hoop en krag, bid ook vir mediese personeel sodat hul harte kan verander. Bid vir die algemene populasie om hul houding teenoor gestremdes te verander sodat hul ook sal besef elke lewe is waardevol, ongeag gestremdheid.

Onvereenigbaar met die lewe

Baie dokters sal dalk afwykings vooraf optel en dan aborsie aanbeveel aangesien die baba heel moontlik nie na geboorte sal oorleef nie. Dit kan waar wees. Maar dokters is nie altyd reg nie. Ek’t al gehoor dat babatjies 100% normaal gebore word na ‘n vreeslike diagnose. Ek’t ook gehoor dat babatjies ook met erge gebreke gebore word en tog oorleef en ‘n seëning aan hul ouers is. Ek’t vanoggend hierdie artikel oor baba Jaxon gesien wat nie eers ‘n hele brein het nie, wat so pas sy eerste verjaarsdag gevier het en al woordjies soos “hello” kan sê.

Self 23 weke swanger en ek kan nie eers begin om te imagine waardeur ‘n ouer moet gaan wat so ‘n slegte diagnose kry nie. In hierdie week het ek gehoor van ‘n vriendin se familielid wie se babatjie ook met net een breinlob gediagnoseer is. Ook 23 weke. Dit het aan my hart geruk. Dit het my aan die dink laat sit. Wat sal ek in so ‘n situasie doen? My konklusie is dat as mens weet jy net ‘n kort geleende tydjie saam jou kind mag oor hê, sal jy die tydjie wil verkort of die meeste daarvan wil maak? Nog soveel moontlik skoppies voel, nog jou babatjie vashou? Dalk is die uiteinde soos baba Jaxon? Dalk sterf jou kindjie na geboorte. Maar dan kan jy darem jou kindjie vashou, afskeid neem. Foto’s neem. ‘n Afdruk van die voetjie maak. Ietsie oor hou. Begrafnis hou. Waar laat aborsies meestal gepaard gaan met ledemate uitmekaar ruk, met niks om vas te hou nie. Dalk net jou baba se organe vir navorsing en die vervaardiging van kosmetiese produkte gebruik? Die onlangse Planned Parenthood videos bewys dat hierdie dinge gebeur.

Nog ‘n rede om liewers met so swangerskap voort te gaan is omdat babatjies wat onder 26 weke gebore word en sterwe, volgens Suid-Afrikaanse wet nie op ‘n begrafnis geregtig is nie en dus as “mediese afval” gesien word.

Gaan kyk ook deur die foto’s van Genevieve Edman van hul seuntjie wat met Acrania gediagnoseer was. Hulle het gekies om die swangerskap te laat voortgaan al het hulle geweet dat sy geboortedag ook sy sterfdag sal wees. So kon hul vir 9 maande lank tyd saam hul seuntjie spandeer, hom vashou na geboorte en vir hom ‘n waardige begrafnis bied. Persoonlik dink ek dit was baie minder traumaties vir hulle as wat dit vir iemand sou wees wat self verantwoordelikheid vir hul kind se dood geneem het.

Lewe van die moeder is in gevaar:

Beslis ‘n baie moeilike keuse! Ook, net soos verkragting, is dit net ‘n baie klein persentasie van swangerskappe waar dit gebeur, tog word dit ook heeltyd as argument gebruik om aborsie te wettig. Hier moet mens egter onthou dat dit soms anders as die ander gevalle kan wees. As dit ‘n uitgemaakte saak is dat die vrou gaan sterf indien ‘n aborsie nie gedoen word nie, dan is die beeindiging van die swangerskap geoorloof. Soos in die geval van buisswangerskappe. Dus sal die vrou en kind sterf. 2 Lewens. Indien die swangerskap beeindig word, red jy dalk een lewe. Jy neem dus nie ‘n lewe  net om te moor nie, maar om ‘n lewe te red. Dit is die verskil. Gevalle soos kanker is anders dink ek. Ek verstaan nie die argument dat jy ‘n baba doodmaak omdat die kanker-behandeling hom dalk kan doodmaak nie. Indien die babatjie wel doodgaan agv die behandeling, is dit nie omdat jy hom doodgemaak het nie, dit was ‘n nagevolg van die kanker.

Ek hoor pre-eklampsie kan ook as rede gebruik word, maar ek het self nie genoeg kennis daaroor om enigsins my opinie te gee nie. Dus sal die argument wat ek ook gebruik het met die buisswangerskap hier van toepassing wees. As dit wel ‘n toestand is wat andersins onder beheer gebring kan word, dan moet dit eers probeer word. Aborsie moet altyd die heel heel laaste uitweg wees.

Hoe kan jy betrokke raak by die pro-lewe beweging?

Ek moet erken dat ek in SA nog nie meer as net ‘n Facebook-aktivis was nie. Dis eers vandat ek in Nederland woon dat ek meer aktief in daardie opsig geraak het. Ek kry wel gereeld navraag van Suid-Afrikaners oor hoe hul betrokke kan word.

  • Facebook is ‘n baie handige en nuttige ‘tool’. Gaan volg blaaie soos African Christian Action en Abort97 om op hoogte te kom van wat in SA aangaan.
  • Share gereeld jou opinie. Baie mense sal jou delete. Maar baie sal jou later inbox en vertel hoe jy hul lewe verander het. Dit is baie bevredigend!
  • Woon die March 4 Life en LifeChain Sundays by. Inligting word jaarliks op African Christian Action se page gegee. Daar word verskeie aksies in verskeie dorpe geloods.
  • Indien daar nog nie aksies in jou dorp of stad is nie, begin iets. Staatshospitale en Marie Stopes klinieke doen aborsies. Die maklikste is om literatuur in die hande te kry (ek’s seker Africa Christian Action sal bereid wees om te help) en dit dan uit te deel aan mense wat die kliniek of hospitaal wil binnegaan. Dit sal jou ook meer vrymoedigheid gee om ‘n gesprek te begin.
  • Motiveer jou predikant om meer oor hierdie kwessie te praat.
  • Betoon liefde aan gestremdes. Moenie hul minderwaardig ag nie.
  • Bied hulp aan enkel-moeders aan.
  • Moenie vir politieke partye stem wat aborsie ondersteun nie. Kyk op www.savotersguide.org om te sien watter partye nog Bybelse beginsels navolg.

Ek hoop om hierdie blog nog aan te vul met links na artikels en foto’s en dies meer. Ek hoop dat dit vir iemand iets kan beteken.

Ekstra vir die Mandela-aanbidders: Aborsie is deur hom gewettig in SA. Dr Peter Hammond vertel van sy ontmoeting met Mandela om hom te vra om nie aborsie te wettig nie. Kyk die video hier.

Kragtige getuienis van aborsie oorlewendes: https://www.lifesitenews.com/news/abortion-survivors-story-goes-viral-after-she-testifies-in-congress.

Indien jy wel self al ‘n aborsie ondergaan het, vir welke rede ookal. God se vergifnis is vir jou ook beskikbaar. Stort jou hart voor Hom uit. Bely skuld. Ontvang vergifnis. Gaan en sondig nie meer nie. Ek sal jou dan ook aanmoedig om vir pastorale berading te gaan. Jy hoef nie alleen hiermee te worstel nie.