#Flatschallenge2016 Dag 1: Hoekom ek besluit het om aan die uitdaging deel te neem

Dag 1: Hoekom ek besluit het om aan die uitdaging deel te neem:

Vandat ek swanger is en in Amerika die eerste keer met die moderne lapdoeke te doen gekry het soos wat ek in ‘n vorige post genoem het, het ek verlief geraak op die idee om lapdoeke te gebruik.

Al het ek nou ook moderne fluff, is daar tog steeds iets lekkers aan die regte outydse doeke wat mens nog moet vou en met ‘n snappi vasmaak. ‘n Spoegdoek het my al uit ‘n penarie gehelp (nie regtig nie – ek het weggooidoek ook gehad, maar wil dit nie gebruik as dit nie régtig nodig is nie) toe sussie in die stad besluit het om al die moderne doeke te bevuil.

Ek’t by die SACNU Facebook groep basies deel geraak van ‘n gemeenskap. Daar kan mens oor jou lapdoek-liefde praat met ander mammas wat jou passie deel sonder dat enigiemand dink jy’s ‘n weirdo. Dis dan ook hier waar ek van die uitdaging gehoor het en natuurlik kan ek nou nie die enigste loser in hierdie gemeenskap wees wat te pissie vir so uitdaging is nie. Dus, doen ek dit omdat dit die ‘in-ding’ is, lol!

Ander redes hoekom ek die challenge doen:

Ek’s heeldag by die huis en alhoewel ek baie het wat gedoen moet word (hoor ek die skottelgoed roep??? Joke net, ek was nie skottelgoed nie), kort mens soms iets anders om jou ook mee besig te hou.

Alhoewel ek eintlik ‘n baie lui mens is, kry ek nogals bevrediging as ek met my hande werk, so hopelik is dit die geval met die handwas ook.

Omtrent so 8 van sussie se doeke is maat 1 en gaan sy dit binnekort uitgroei. Moderne lapdoeke is duur, dus wil ek met die challenge ook kyk of ons dalk heeltemal sonder dit sal kan regkom deur net van die goedkoop “flats” gebruik te kan maak.

Ek wil vir die klomp ou bitterbekke wat my so afraai van lapdoeke bewys ek kán ook lapdoeke doen soos wat hulle dit in hulle tyd gedoen het — én oorleef.

Ek hou van die idee om mense meer bewus te maak van die alternatief om liewers lapdoeke te gebruik as plastiekdoeke. Ter wille van die wêreld, ons kinders én ons beursies.

Die flats and handwash challenge is ‘n inisiatief van Dirty Diaper Laundry.

Ek het altesaam 7 doeke gebruik op dag 1.

Foto’s van dag 1: