Hoe was mens lapdoeke?

Wat as die baba poef??? Hoe was jy dan daardie doek? Dis seker die eerste vraag wat ek kry as mense hoor ek lapdoek. Kyk, poenami is ‘n groter horror-storie as ‘n tsunami sou vele meen. In hierdie blog as deel van my reeks oor die lapdoeke vir die #flatschallenge2016 sal ek dan my wasroetine verduidelik.

Deel van die #flatschallenge is ook die #handwashchallenge hierdie week. Na 5 dae kan ek jou dan ook waarborg dat mens lapdoeke kan doen, al besit jy nie ‘n wasmasjien nie. Mens KAN, dit beteken nie noodwendig ek hou daarvan nie. In teendeel ek haat die handwas deel veral met hierdie poep-weer (see what I did) in Nederland.

My wasroetine as ek handwas:

My was-emmer

Elke oggend sodra ek sussie se nagdoek afgehaal het, dan tap ek water by die emmer vol doeke sodat die meeste piepie bietjie kan uitwas. Ek gooi ook so 2 druppels Tea tree oil in met die hoop dat dit bietjie meer higiënies is (of dit werk, weet ek nie, maar dit hou my hart rustig). Ek laat dit dan so bietjie soak tot sussie weer ‘n slapie vat. Ek gooi dan die hele emmer weer uit in die stort en droog die doeke uit. Dan weer terug in die emmer met ‘n lepel waspoeier dan maak ek hom weer vol. Ek laat staan dit dan so 2 minute en dan maak ek die stort se dreineringsgat toe en keer die emmer om. Dan skrop ek so oor my hande die doeke soos wat Maria my nog geleer het daar op die plaas in die waskamer doen. Weer droog ek als uit en terug in die emmer wat ek weer vol water maak vir afspoel. As ek tevrede is dat dit mooi afgespoel is, dan droog ek als uit en gaan hang op. That’s it! PS. Vir poefdoeke sit ek ‘n fleece-liner in die doek. Ek was hom dan net uit sommer in die toilet voor ek dit by die res van die doeke in die emmer gooi tot ek was.

My wasroetine as ek die wasmasjien gebruik.

Ek volg dieselfde protokol met poefdoeke as wat ek met die handwas ook volg. Al die doeke bewaar ek in ‘n droë emmer met gaatjies (niks geweek in steri nappi en daardie goed van lank gelede nie). Ek was so elke derde dag. Eers sit ek die doeke op ‘n kort siklus of voorwas in die masjien om dit te spoel. Ek gooi so paar druppels tea tree oil in die bakkie. Dit is om die ergste piepie uit te was.

Na die voorwas sit ek nog wasgoed by as daar nog plek in die trommel is. Ek sit dan die masjien op die lang siklus en ek gooi die nodige waspoeier in die bakkie. GEEN versagter nie! As dit klaar is doen ek soms nog ‘n ekstra spoel en spin. Dan hang ek dit op. NOG makliker!

Sien, niks te bevrees nie!!!

Die flats-and-handwash challenge 2016 is ‘n inisiatief van The Dirty Diaper Laundry.