Geboorte van ‘n wonderwerk

In my vorige post het ek kortliks vertel van die verloop van my swangerskap. Hier volg die geboorteverhaal van ons babatjie.

Ten spyte van almal wat voorspel het dat baba vroeg gaan kom, het baba besluit sy is nie haastig nie. Ek onthou nog hoe miserabel ek gevoel het. Ek’t nog vir Adi gesê die laaste maand voel nie so lank omdat jy noodwendig opgewonde is nie, maar omdat jy so vrekken ongemaklik is. Ek moes letterlik momentum opbou deur te wieg voor ek kon opstaan. Hoe doen vet mense dit ELKE dag?? My niggie Elmien het nog gewhatsapp en gesê ek moet net chill en die aftyd geniet…skeer jou beenhare of iets….bahahaha! Vinnig agtergekom hoe onmoontlik haar voorstel is.

12650930_10153862274728476_8397930063984170908_n

Sussie se “due date” was 31 Januarie en so het ons familie ook ‘n familielid ryker geword. Behalwe dat dit Johan was wat sy opwagting gemaak het en sussie besluit het sy broei nog bietjie langer. Ek’t my bes probeer om bly te wees vir hulle, haha!

Ek’t vreeslik probeer om dit aan te help…weet nie of dit enigsins gewerk het nie, maar het pynappels verorber, op die bal gewieg en dat Adi my enkels so hard as wat hy kan masseer.

Die oggend 7 uur op 2 Februarie het ek wakker geskrik met iets soos ligte kriewels. Dadelik vir Adi wakker gemaak en gesê “shit’s getting real.” As ek net kon weet HOE real dit bietjie later kon word. Ons het 10am ‘n afspraak by die vroedvrou gehad, maar sy het dit afgelag en gesê dit kan nog dae duur. Als was nog goed met baba en geskatte geboortegewig 2,7kg. Een kleine babytje! Heeldag deur het niks juis verander nie, so ek’t ook maar begin glo dit gaan nog dae duur.

So teen die aand se kant het dinge begin intense raak. 10pm bel ons die vroedvrou want ons reken dit raak nou tyd. Sy kom kyk – geen ontsluiting. “Neem een paracetamolletje en gaan naar bed. Ik kom in de ochtend langs.” Weet die vroumens dat parasetamol nie eers vir hoofpyn help nie??? Volgens haar sou dit nog maklik 8-12 uur geneem het voor daar regtig kraam is.

Middernag toe kry ek skielik hierdie gevoel wat my lyf self druk en meteens swem ek en Adi in die bed van my water wat gebreek het. Ek’t nooit gedink daar is só baie water nie! Toe raak shit regtig bietjie real. Kontraksies sonder ruskans. Adi bel die vroedvrou. Sy wil weet of die water helder is en of dit ‘n kleur het. Dis helder. “Gaat gewoon weer slapen, ik kom dan in de ochtend langs.” WTF???

Ek’t maar in die stort gaan staan, bed skoon oorgetrek en weer probeer slaap. My liewe man het darem probeer masseer en saam my die asemhalingstegnieke gedoen wat ons in die kursus geleer het toe ek opeens die drang kry om te druk. Dis iets wat mens nie regtig kan beskryf nie. Jou liggaam doen dit net vanself. Die beste beskrywing wat ek al daarvan gehoor het, is dat dit is soos om op te gooi. Maar na onder toe. Jy kan dit nie keer nie, dit gebeur net.

Nou ek puff toe maar om die druk te probeer keer want ek’t al gehoor mens moenie druk as jy dalk nie reg is nie. Adi bel weer die vroedvrou. Sy dink net ek weet nie hoe “egte kontraksies” voel nie, dus glo sy nie ek het persdrang nie. Vra hom so ewe “moet ik langskomen?” Ja flippen vroumens en roer jou &^&*#^$&# gat!!! Natuurlik dink sy ek’s net ‘n stupid buitelander wat nie die Nederlandse manier van geboorte gewoond is nie. Sy stuur toe die “trainee” om te kom kyk.

Toe die vroedvrou in opleiding hier aankom, rek haar oë so groot soos pierings, want sowaar, ek het persdrang!! Maar ek sê mos so…. <rol my oë>

Gou is vroedvrou gebel en ingelig dat dit regtig so is. Sy’t eventually hier aangekom en ook besef ek is TEN VOLLE ontsluit en dat ons moet moooooove!

Nou ons het nie ‘n kar nie. Die vroedvrouens mag wettelik ons ook nie in hul kar vervoer hospitaal toe nie. Daarom het ons met twee mense in ons area gereël dat ons op hul knoppie kan druk op D-day. Soos die noodlot dit wou hê, is die een persoon uitstedig en die ander een se kar gebreek! Gelukkig was die taxi wat ons toe gebel het binne 5 minute hier. As ek nou terugdink wonder ek of ek nie net sommer by die huis moes kraam toe nie. Ek’t nogals gemengde gevoelens daaroor – dink dit sal my vir seker baie stres gespaar het. Maar medies was die hospitaal dalk beter…

Ek puff nog die heeltyd. Maar omdat die geboorteproses so vinnig ge-eskaleer het, het ek van ligte asemhalingsoefeninge dadelik oorgeslaan na puff. Waar Adi dadelik vir my sê: jy’t daardie en daardie en daardie geskip. Ek onthou nog hoe ek vir hom gesê het sharrap en bid Adi!!

Toe ons by die hospitaal kom  en ek op die bed is, moes ek dadelik met die volgende kontraksie begin druk (geen tyd vir baddens tap en CD’s opsit en sulke dinge nie). En sommer so sien ons al die koppie ook met die eerste probeerslag. Tussen elke kontraksie het die vroedvrou ook die hartklop geluister. Ek’s gewaarsku die hartklop kan verswak en dat ek nie moet skrik nie aangesien dit normaal is. Die hartklop het nooit swakker geraak nie – toe sê die vroedvrou sy voorspel ‘n meisiekind. Net meisiekinders wat so sterk is. Ons het natuurlik mos nie geweet wat die geslag is nie. Op ‘n tyd het al die kontraksies net opgehou. Seker omdat ek dit so lank moes terug hou. Dit was regtig sleg want die kontraksies help mens. Ek was regtig regtig moeg. Net vir Adi heeltyd gesê hy beter bid want ek’t niks krag oor nie. Toe die vroedvrou sê sy sal moet knip en tang gebruik as ek nie self vir baba uitkry nie, het ek maar al die reserwes saamgeskraap en gedruk vir ‘n vale!

Een minuut na 3 is Hanna Catharina al skreeuende gebore. Ek was so uitgeput, die verloskundige moes vir my skree “maak oop jou oë, kyk jou baba!” Hulle het haar op my bors neergesit en ek’t soos ‘n tierwyf gekyk dat hul NIE die koord sny nie. Met al die voordele verbonde aan delayed chord clamping, was dit iets wat ek baie graag wou doen. Na so paar sekondes het ek geloer of dit ‘n meisje of jongetje is. Meisje!! Adi se eerste woorde aan haar was “Hello Hanna!” Ek kan glad nie onthou wat my woorde aan haar was nie. Ek onthou wel my eerste gedagte was “klein babytje se dinges. Jy’s g’n niks klein nie!!”

Sy was ook nie klein nie en het die skaal laat trek met ‘n stewige 3,8 kilogram. Die vroedvrou wou dadelik weet waar het ek haar weggesteek aangesien ek nie eers so swaar gedra het nie.

Dadelik is ek en Adi ook bederf met beschuit met pienk muisjes. Dit is sulke pienk sprinkles van anys wat tradisioneel geëet word as ‘n babatjie in Nederland gebore word. Daar’s ook bloues vir as jy ‘n seuntjie kry. Dit bevorder glo melkproduksie.

DSCF7875

Nadat die koord geknip is (na hy uitgeklop het) en die plasenta ook uit is, het ek egter aan die bloei gegaan. Nie bietjie nie, BAIE! Dit het gemaak dat ek nie die beplande eerste uur vel-tot-vol kontak kon doen nie en moes liefste pappa Adi namens mamma dit doen. Uit met jouw shirt, papa! Het die verpleegster hom beveel en kon hy die voorreg geniet om vir twee uur lank met sussie op sy bors te lê.

DSCF7878

Ek het 2 liter bloed verloor, dus was die ginekoloog en meer verpleegsters ontbied. Ek’t drup ontvang en moes ook geheg word. ‘n Bloedoortapping is oorweeg, maar word altyd as laaste uitweg gedoen omdat dit baie risikos het. Gelukkig was dit nie nodig nie. Dit het gevoel soos ‘n ewigheid. Iphone Febr 16 050Uiteindelik na 2 ure kon ek my meisiekind vashou en melkies gee. Amazing hoe jou liggaam sommer vanself weet wat moet gebeur.

DSCF7870

Toe kon ons ook die familie in kennis stel. Nie een van die Schlebusch grootouers tel hul fone op nie! Toevallig kry Adi ‘n sms van sy sussie af en bel haar sommer. Sy was gelukkig op die plaas by sy ouers ook gewees. Ek onthou nog hoe sy geskree het “wat!!!!!” en hoe vinnig ons vir ma Annemarie in die agtergrond gehoor move het toe sy twee en twee bymekaarsit dat iets gebeur het. Daarna is die Groblers gebel. Gelukkig nog vroeg genoeg voor almal werk toe is. Arme pa Reint het getjank dat selfs die bure hom seker kon hoor. Trane van blydskap natuurlik en toe tjank ons ook sommer lekker saam. Cornelis was ongelukkig al in die myn gewees, maar die oomblik wat hy bo-grond was en die boodskap gekry het, het hy ons ook dadelik gebel. Kon sommer hoor die oom staan met sy bors ver uitgestoot oor die kleinding wat hy tot in die afgrond in gaan bederf se geboorte! Mamma het ook vir oupa Cor gebel – pappa was te emosioneel, kon nie ‘n woord uitkry nie!

Iphone Febr 16 035

Toe al die naaste familie ingelig is, het ons die res van ons familie en vriendekring met ‘n whatsapp berig in kennis gestel en later is die nuus ook op Facebook bekend gemaak. Uiteindelik kon ek slaap!

Ek kon nie soos die ander vrouens na 2 uur huistoe kom nie en moes in die hospitaal oorbly om gemonitor te word. Ook maar goed! Die aand het sussie baie vinnig en vlak asem gehaal en is sy na die NICU geneem vir waarneming. Scans van haar longe en hartmonitor het darem gesê sy is okay en die asemhaling was glo net ‘n nagevolg van ‘n traumatiese geboorte. Pappa het toe by sussie gewaak tot sy weer na mamma teruggebring is.

Op die ou end moes ek 3 nagte in die hospitaal bly en moes hul my ook ‘n skraap gee omdat dit geblyk het daar plasentareste agtergebly het. Ek’t een keer flou geval en vir arme Adi amper ‘n hartaanval gegee. My liewe liewe man. Die eerste maand was ek maar flou kole gewees – letterlik useless gewees en ek’s dankbaar vir die kraamzorg in Nederland (‘n kraamverpleegster wat jou die eerste 8 dae na die geboorte kom help by die huis) en ook dat skoonma kom uithelp het. Tydens daardie eerste maand het ek gedink ek was okay, maar nou in hindsight, besef ek dat ek glad nie okay was nie. Ek moes eintlik glad nie eers uit die bed opgestaan het nie!

Ouma Annemarie

Nou ja. Ek’s bly ek was in ‘n hospitaal toe ek so bloed verloor het. Tog kan ek nie help om te wonder as die proses vroeër tuis kon begin en ek nie so moes terughou nie, dit dalk juis minder bloedverlies sou wees nie? Seker iets wat ek nooit sal weet nie. In Nederland is ek nou as medium-risiko geklassifiseer. Ek mag nog deur ‘n vroedvrou werk, maar mag nie tuisgeboorte doen nie en daar moet ‘n ginekoloog op stand-by wees wanneer ek gaan kraam. Boeties en sussies sal seker in Suid-Afrika gebore word. Daar is dit standaard om in die hospitaal te kraam. Ek hoop maar vir ‘n goeie vroedvrou daar en vir die moontlikheid van ‘n badbevalling. Maar vir eers, gaan ek met hierdie pragtige kind van my speel. Cheers vir eers!