Korea #13 Busan

Goeie dag vriende en vriendinne
Ek het nie weer so baie dinge om te vertel soos laas keer nie (julle sug seker van verligting)…
Ons was die naweek bietjie Busan toe, wat die groot stad aan die Suide van Suid-Korea is. Ons het bietjie vir ‘n vriendin, Izette Bredenkamp gaan kuier wat daar werk.
Dit was ‘n langnaweek en ons het Vrydag die sneltrein soontoe gevat…en glo my, hy snel hoor!!
Ons het by ‘n motel bespreek wat taamlik naby aan als is, maar nie heeltemal so gewensd was nie. Weereens die les geleer dat goedkoop koop nie die beste koop is nie. Omdat baie hotelle al vol bespreek was vir die langnaweek was ons bietjie oorhaastig met ons bespreking en het ons nie die reviews op die internet oor die motel gelees nie. Dit was darem heel leefbaar, maar ek sal volgende keer verkies as my kamer nie bo ‘n nagklub (een waar foreigners verbied word, nogal) is nie. Ek was ook nogal opgewonde om in ‘n lekker bad te le en ‘soak’, maar dis nou ook nie so lekker as die water nie warm is nie!! So ja, verblyf was maar shabby, maar darem nie ‘n probleem nie. Baie van julle wonder seker nou hoekom ons nie by Izette oornag het nie. Die blyplekke in Korea is baie klein en ingeprop. Meeste engelse onderwysers bly in ‘n officetel wat ‘n een-kamer huis is. Dis nou waar jou kombuis, kamer, leefarea ens als in baie beperkte spasie ingeprop word. Dus wou ons nie vir Izette te overcrowd nie en privaatheid is nie so moontlik nie.
388469_10151496737533476_207016002_nVrydag: Izette het ons by die stasie gekry en ons is na Taejongdae Park. Hier is baie mooi uitkykpunte oor die see en mens kan vir Japan van daar af sien op die horison. So Korea en Japan is werklik baie naby aan mekaar! 598793_10151496738518476_185034617_nDaar is vreeslik baie afgronde en kranse hier en vreeslik baie mense pleeg ook hier selfmoord deur van die kranse af te spring. Daar is nou ‘n monument opgerig van ‘n ma wat haar kinders vashou en by dit staan “onthou jou ma”, bedoelende dat diegene wat wil selfmoord pleeg eers moet dink aan hoeveel hul ouers vir hul opgeoffer het en wat jy aan hulle gaan doen as jy selfmoord pleeg. Dis ‘n baie mooi, maar hartseer monument.578297_10151496738443476_765151912_n
Alhoewel Korea die probleem van selfmoord erken, is dit nie of hul juis iets hieraan doen nie. Ek dink dit sal baie help as hul byvoorbeeld ‘n wet maak dat mens net sekere ure mag werk per dag en dalk selfs ‘n Sondag of so as rusdag verklaar. Een Filipynse meisie wat in ons Bybelstudie is wat nou weer teruggekeer het Fillipyne toe, het amper nou die dag begin huil toe sy se, hoe sy uitsien om net te kan rus. Sy was vir 5 jaar in Korea en het non-stop gewerk. Sy het nooit af gehad nie en elke dag van die week gewerk. Sy het ook gekla hoe sleg dit vir haar was om as Christen op Sondae te moes werk. Sy het egter ‘n familie in die Filipyne vir wie sy geld gestuur het omdat hulle dit so nodig het. Ek dink hierdie baie werk sonder rus, die vreeslike kompetisie en druk om te presteer is die grootste oorsaak van die selfmoorde hier.
Na Taejongdae se gestap was my lyf maar lekker seer, ek voel dit nogsteeds, en dis al amper ‘n week na die tyd!!
526723_10151496737078476_71129532_nOns het Busan akwarium gaan besoek wat meer as 35 000 visse/diere het. Dit was heel lekker om te sien, ons was net bietjie laat, so het nie gesien hoe hulle die haaie en pikkewyne voer nie. Die klomp verskillende jellyvisse was vir my baie interessant. En mooi. Hulle lyk so rustig waar hulle in die water swewe. Die akwarium het ook ‘n baie groot tonnel waardeur jy kan loop, dan swem die visse en haaie en skilpaaie so om jou. Nogal cool.
Ons het die aand bietjie Meksikaans geeet en het dit heel baie geniet. Dis nou een ding van Busan – meer Westerse restaurante as net MacDonalds.
525005_10151496737773476_75997448_nSaterdag: Ons het die oggend bietjie Madame Tussauds se wax museum besoek en so paar fotos saam George Clooney en Elvis geneem. Die museum is egter nie baie groot nie.
1822_10151496739028476_1052367917_nVir die middag is ons na die UN Memorial en begraafplaas. Dis nogal regtig ‘n mooi en stil plek wat nog baie goed in stand gehou word. Omtrent so 40 Suid-Afrikaners het in die Koreaanse Oorlog omgekom en ons kon hulle monument ook sien. Die meeste sterf-gevalle was egter Amerika met meer as 33 000 gevalle soldate. Dis nogals regtig intense, veral as mens die soldate se ouderdomme sien…died at age 17, 18, 21…. Dit het my net weereens laat besef watse euwel oorloe is wat jongmense van hul lewens beroof. Dit het my laat dink aan ‘n foto wat ‘n ruk terug op facebook gesirkuleer het met die onderskrif “I’m tired of old men dreaming up wars for young men to die in.”
Ons het Busan museum besoek. Sommige van die goed was interessant, maar ek’s nou nie juis ‘n museum-mens nie. Daar’s hopeloos te veel goed wat mens moet lees. Van die prentjies oor hoe Busan voorheen gelyk het met die tradisionele huisies, dink ek dis eintlik hartseer dat dit nou als moes plek maak vir al die hoe wolkekrabbers wat die hele aansien van Korea so versies.
536283_10151496738653476_1778018414_nHier by die museum het ons ook aan hul culture experience deelgeneem. Ek en Adi is soos ‘n Koreaanse koning en koningin aangetrek. Dit was heel pret, maar ek’s bly ek was nie ‘n Koreaanse koningin nie! Hul hande mag glad nie gewys het nie (as jou hande wys is jy ‘n slet), so hulle het hierdie lang moue gehad wat dit moes bedek. Korea is nou nog teen oop skouers, maar hulle dra die kortste broekies en rompies! Ek dink tot die lekker meisies in SA sal te skaam wees om dit aan te trek… en moenie dink die wintertemperature van -20 keer hulle nie, o nee!! Rokkies sal hul dra…en almal kyk daarna…
483667_10151496738993476_1397324001_n
Ons het ook ‘n tradisionele tee-seremonie gedoen. O my siel, mag ek nooit so ingewikkelde proses van tee maak ooit weer beleef nie!! Sekere dinge mag jy net met sekere hande doen, die lappie moet op ‘n sekere manier gevou word, jy moet presies aftel hoeveel druppels tee in die koppie val ens ens. Die tee-sakkie en ketel ding werk vir my maar meer effektief, hoor! Ek dink voor Korea al sy tegnologie gekry het, moes die mense regtig verveeld gewees het om sulke klomp strooi uit te dink. Wel, dit was darem ‘n ervaring.
Die Sondag het ons net saam Izette kerk toe gegaan en toe maar weer die langpad aangepak terug huis toe. Weens ons suinigheid wou ons nie weer met die sneltrein ry nie, maar agterna dink ek dat R70 ekstra eintlik die geld werd sou wees om 3 ure vroeer by die huis te kon wees. Weereens, goedkoop koop is NIE altyd die beste koop nie!!
Die Koreaanse skooljaar het die week begin (hulle begin in Maart), so ons het nou ‘n klomp nuwe babies en klomp wat nou grootskool toe is. Shame, die nuwe 3-jariges huil maar nog een stryk deur. Hulle weet seker dat die res van hulle lewe gaan hel wees en dat die tyd vir rus en speel nou vir ewig verby is. Ons hoor hulle van ons kantoor af huil, en ons is so 2 vloere bo hulle!! Hulle kom nou eers van volgende week na Engels, en dan gaan hulle seker EERS huil as hulle witmense sien. Adi gaan maar sy baard skeer dat hy nie te ‘scary’ is nie.
Ek hou sover van my nuwe klasse, die klassies is net baie groter die jaar. Ekt nou amper 30 kinders per klas. My een ekstra-klas (Laerskool kinders wat engels ekstra neem) het net 3 seuntjies, maar hel hulle is stout!! Veral die een is onmoontlik. Hulle kom nou al van laasjaar en ekt gehoop ek sal hom kan tem, maar daai kind is so wild soos die wildtuin self. Dis natuurlik die gebrek aan ouers (die ouers werk van vroegoggend tot laat) wat die kind seker so onmoontlik maak. En die feit dat hulle al gatvol vir skool is en nie nog ekstra engels ook wil he nie (hul het alreeds engelse klasse by die skool ook).
Vandag het een van die dogtertjies in my 6-jaar klassie aan die slaap geraak. Hulle is soooo moeg want hulle rus nooit nie! Al hierdie kinders sit met sulke pers kringe onder die oe van te min slaap. Iets sal regtig moet verander, anders gaan dit nog Korea se downfall beteken.
Moenie my verkeerd verstaan nie…ek bewonder hul hardwerkendheid. Hulle het 50 jaar terug NIKS gehad nie, maar hulself gekry waar hulle is deur harde werk. Ek wens soms so ‘n kultuur wil in SA ook ontstaan om mense bo hul omstandighede te laat uitstyg. Korea kon baie maklik vir Noord-Korea of Japan geblameer het vir al hul probleme, maar dan sal hulle ook nou nog in plakkershutte gewoon het. In stede daarvan het hulle besluit om op te staan en hulself weer op te werk. Hulle moet nou maar net bietjie balans vind en leer om hul families hul prioriteit te maak.
Privaatskole begin so een vir een toemaak hier in Korea – nie omdat almal staatskool toe gaan nie, maar omdat die kinders minder word. Ek neem aan hulle gaan dit ook aan hul ekonomie begin voel oor so paar jaar… Die dominee in Busan is bv van Amerika en hy het 4 kinders…en die Koreane is almal sooo verbaas en het hom al gevra of al die kinders van dieselfde ma is! Hier kry die mense selde meer as 2 kinders. Korea het van die laagste geboortesyfers in die wereld.
Iets anders wat vir my ‘n vreeslike riem onder die hart is, is hoe die koreane kan geld mors. Soms wonder ek wat die ouer garde dink oor die nuwe generasie wat als so vermors waarvoor hulle so hard gewerk het. Ons het al hoeveel keer gesien hoe mense net eenvoudig goed weggooi wat nog in perfekte bruikbare toestand is. Soos sitkamerstelle, beddens, rakke  word net so weggegooi en dan lyk dit nog regtig goed. Selfs kinderspeelgoed word weggegooi sodra die kind nou te oud is daarvoor. Ek dink baie aan al die arm mense in Suid-Afrika wat wat sal gee vir meubels of speelgoed vir hul kinders.
Ek moes vir my klasse als nuwe flitskaarte gemaak het vir hierdie jaar. Die ou kaarte moes ek weggooi. Hulle lyk PRESIES dieselfde, behalwe dat die nuwe kaarte ‘n ander kleur ‘border’ het. Nou ek weet regtig nie wat dit saak maak nie, dit gaan mos oor wat in die binnekant van die border staan. Ek ril as ek dink aan al die papier, ink, lamineer-sheets ens wat gemors word net oor so simpel rede. Weereens dink ek net aan die SA kinders wat almal nie eers flitskaarte het om mee te leer nie!
Verder vat ons dit maar rustig en soek maar vir werk as ons terug in SA is. Bid maar vir ons dat die deure sal oopgaan waar God ons wil gebruik.
Minder as 3 maande, dan is ons terug in die land van boerewors en biltong!!
Skryf terug!!
Liefde
Lize (en Adi)