Desember was ek in die bevoorregte posisie dat my hele familie by ons kon kom kuier het vanaf SA. Nooit gedink mens sal 6 mense in ‘n piepklein 1-slaapkamer woonstel kon inprop vir byna ‘n maand nie, maar ons het dit reggekry! Ek gaan sommer bietjie van ons tydjie hier met julle deel.
Die hele kuiertjie het aanvanklik stresvol begin toe ek die vliegkaartjies vir my familie geboek het, en Standardbank my kaart gevries het aangesien dit so ‘n groot bedrag was. Dit is seker goed van hulle kant af, want sou dit ‘n skelm wees, sou ek seker baie dankbaar gewees het vir hierdie optrede. Dit het egter gemaak dat ek nie die kaartjies geboek kry nie en eers vir Standardbank moes bel. Die agentskap waardeur ek die kaartjies bespreek het was egter pateties. Vluchten24.nl (ook beken as Travel24.com). Moet hulle nooit ooit gebruik om vliegkaartjies te bespreek nie. Ek kon hul na vele pogings en meer as 10€ se belgeld nie in die hande kry op die foon nie en hul antwoord nooit hul emails nie. Eers toe ek vir hul ‘n belediging of twee op hul Facebook-blad skryf, het hul na my teruggekom en is my vliegkaartjie nommers sommer via Facebook se messenger gestuur (baie professioneel, né)??? Gelukkig het die res van die admin baie glad verloop.
Die hele familie was saam op die groot vlug tussen Johannesburg en Parys, maar vanaf Parys het my ma en Bernard byna direk na Amsterdam gevlieg en my pa en Cornelis so 12 ure later. Pa en Cornelis het toe bietjie Parys verken terwyl ek vir ma en Ber by die lughawe gekry het en bietjie in Amsterdam rondgewys het. Ek’t sommer die oggend ‘n lift gevang saam iemand wat ek op Facebook gevind het. Die treinkaartjies so vroeg in die oggend is baie duur, so toe waag ek die kans. Baie vriendelike vroutjie gewees, al het sy my goed laat verstaan hoe onverantwoordelik ek is om saam met vreemdelinge in ‘n kar te klim.
Na ek hul by Schiphol opgetel het, het ons ‘n free walking tour met Sandeman’s tours gedoen in Amsterdam. Ons het egter net die helfte gedoen want die mensies was maar moeg na die vlug. Ons is toe na Groningen. Intussen het ons ook plek op ‘n toer vir pa en Cor bespreek in Parys, maar hul toergids het toe nooit opgedaag nie. Nogals ‘n teleurstelling vir hulle gewees.
Ek moes weer kinders oppas die aand. Ma en Ber is saam met my na die familie toe en het my help kook en sommer ook daar geëet. Intussen het pa en Cor teen 11pm in Groningen aangekom. Ek moes by die kinders bly tot 2am aangesien die ma laat gewerk het. Die manne het die volgende dag die “hoge bed” wat ek 2de hands gekoop het opgeslaan sodat ons almal ‘n bed kon hê. Ma en pa in die slaapkamer, Bernard en Cornelis op die sleepercouch en ek en Adi op die hoge bed wat bo-oor die sleepercouch opgeslaan was.
Die volgende dag is pa vroeg die oggend saam met Adi Universiteit toe. Oppad terug verdwaal hy egter — en ons is rasend van bekommernis. Pa se foon werk nie. Uiteindelik na 2 ure sien ons hom verby die woonstelgebou stap. Bernard sien hom eerste en roep: “Daar’s die poepol!!” (in ons familie is dit soms meer ‘n troetelnaam as vloekwoord)… Die res van die week het hulle maar in Groningen spandeer en die stad leer ken. Ek moes nogsteeds in die middae werk.
Ons is die Vrydag 12 Desember bietjie na Gouda se Kersfees-fees. Dit was ook weer ‘n reënerige dag, maar ons kon gelukkig in die kerke skuil waar pragtige koor en orkes uitvoerings gegee is. Ons kon ook bietjie kaas proe en mens kon sien my familie is niks gewoond nie nalv die hande vol kaas blokkies hul op ‘n slag geproe het!!
Ons het frikadelle (gehacktballen) by die een kerk gekoop. Die tannies het gedink dit is ongelooflik snaaks dat ons dit ‘n frikkadel noem. In Nederland is ‘n frikkadel ‘n lang worsie-agtige vleisigheid. Daar was 3 Laerskoolmeisies wat “Rudolph the red nose reindeer” in Nederlands gesing het. Dit was super cute! Wens ek’t hul record.
Die volgende week het ons maar net lekker in Groningen gekuier. Die weer was ongelukkig regtig mislik gewees en ek is nogals jammer dat hul nie beter weer kon geniet nie. Die een dag is hulle na Ark van Noach in Dordrecht gewees en het hul dit ook baie geniet.Ons was die een daggie bietjie na Delfzijl en Appingedam. Ons weet dis die omgewing waar oupa Dijkema vandaan kom en wou bietjie ons ‘roots’ gaan soek. Dit was ongelukkig net ‘n aaklige nat pisserige dag gewees dat ons maar moeilik gevind het om dit te geniet. Ons kon darem vir ‘n paar minute skuiling by ‘n kunsuitstalling gevind het waar ons ook kon koffie drink.
Ek het van 19 Desember af verlof gehad en het ons ons tassies gepak en vroeg opgestaan en die trein na Düsseldorf geneem vir ons week in Duitsland. Die weer was ongelukkig nogsteeds nie beter nie en het dit byna die hele tyd gestortreën. Pa was so siek soos ‘n hond. Ons het by die hostel gaan inboek na ons ver moes stap soontoe en soortvan verdwaal het.
Ons het gewag vir die reën om op te klaar en het toe probeer om Düsseldorf te verken. Pa het maar in die hostel in die bed gebly. Die uitstappie was egter nie juis suksesvol nie weens die weer wat so sleg was. Ons kon eintlik maar ook in die bed gebly het. Van Düsseldorf het ons dus nie juis goeie memories gemaak nie.
Die volgende dag het ons vertrek na Keulen (Köln/ Cologne).
In ‘n poging om geld te spaar het ons basies geryloop. Darem nou nie heeltemal duim gegooi nie, maar op die website blablacar.com kon ons mense kry saam wie ons lifts kon vang. Dit het mooi uitgewerk en ons het saam ‘n baie oulike jong man gery. Hy en Cornelis het nou nog kontak. Altyd goed om internasionaal vriende te maak! Ou pappie het net nog sieker geword en is ons ook maar so gou as moontlik na die hostel om in te boek. Oppad soontoe loop ons hoeka toe nog deur die gay Kersmark. Ek dink dis wat my dalk die meeste van die gay pride-gemeenskap afsit. Hul totale obsessie met seksualiteit en geslagsdele. Waar al die ander Kersmarkte oulike goedjies en kersversierings verkoop was daar by die gay Kersmark net T-hemde met suggestiewe slagspreuke en sjokkolades in die vorm van penisse of vaginas. Regtig gross!! Ons het maar weer vir paps by die hostel gelos en bietjie gaan rondloop by ‘n ander Kersmark daar naby. Te pragtig!! Al die stalletjies is versier asof dit van die outydse Duitse geboue is.
Daar was ook oulike dinge verkoop soos Kersversierings, houtspeelgoed waar as jy deur dit blaas ‘n geluid maak soos ‘n uil, skaap of padda; sjokkolades wat lyk soos egte gereedskap en natuurlik glühwein en warm sjokkolademelk om die koue weg te hou.
Die aand was pa weer reg om bietjie saam uit te kom en is ons na die Engel-Kersmark en ook die mark reg langs die Keulner-Dom (katedraal). Die markte was egter ongelooflik besig en ons het mekaar op ‘n tyd verloor en nogals gesukkel om mekaar weer te vind.
Die volgende dag het ons weer vertrek, eers na Marburg en toe na Kassel. In Marburg het ons ons bagasie in die lockers gesit en toe na die Altstadt en kasteel gaan kyk. Dit is ook die dorp waar die Grimm-broers ‘n baie groot rol gespeel het. Dit is sprokiesmooi daar en ons het die Kersmark in die Altstadt ook geniet. Daar was so ‘n gypsie wat trekklavier gespeel het met ‘n hoender op haar kop. Nogals iets gewees om te sien. Ons kon ook ‘n wonderlike uitsig oor die stad beskou. Ons het ‘n koeldrank in ‘n kafee’tjie gedrink teen skemer voor ons weer op die trein geklim het tot in Kassel. Pa was gelukkig heel gesond en beter en kon die dag saam met ons geniet.
In Kassel het ons 2 aande oorgeslaap. Die hele stad was omtrent ‘n Kersmark en dit was selfs ‘n belewenis om net met die tram deur die stad te ry oppad na ons hotel toe. Omdat dit al redelik laat was, het ons nie weer uit gegaan nie en liewers slaap probeer inkry sodat ons die volgende dag kon geniet. Pa was egter die volgende dag weer hondsiek en ons het ‘n dokter gaan soek. Kon een kry naby die hotel, maar sy kon nie ‘n dooie woord engels praat nie. In my gebroke Duits het ek probeer help en as ons nie dadelik gesnap het nie, het sy so bietjie haar moer gestrip. Geduld is duidelik nie die Duitsers se sterk punt nie. Die rekening was egter belaglik duur en het ek nie eers genoeg kontant gehad nie, waarna die Duitser my weer uitgevreet het…maar wat dink sy?? Mens loop mos nie met 80€ in jou gatsak rond nie?? Ek het hul wel belowe om die res die volgende dag te kom betaal waarna hul dit aanvaarbaar gevind het. Pa is maar weer terug hotel toe om te gaan slaap en ek, Adi, ma en die broers is na die Wilhelmshohe Park. Lieflike plek. Ons het tot by die Wilhelmshohe kasteel gestap en ook na die eendjies gekyk by die dammetjie. Die reën het ongelukkig weer begin en het ons maar weer reg gemaak om terug te gaan hotel toe. Die manne was natuurlik weer al drie laf en het van die grasheuwel tot onder gehardloop…en geval… en met modderbroeke opgeeindig. Dit was dalk nie die slimste ding om op ‘n toer te doen nie… Ek en ma het besluit ons is nog lus vir die Kersmark en het die manne hotel toe gestuur. Hoe lekker was dit nie!! Ons het lekker op die Big Wheel gery en het dit geniet om oor die stad en Kersmarkte uit te kyk. En stalletjies kyk is tog soveel lekkerder as daar nie mans is om mens die heeltyd aan te jaag nie!
Die volgende dag (23 Des) het ons die doktersrekening gaan vereffen en toe kon ons almal, pa inkluis, weer na die Wilhelmshohe Park gaan. Die keer het ons verder gestap tot by die Löwenburg kasteel. Die kasteel is gebou met die doel dat dit soos ‘n ruïne moet lyk…toe kom die oorlog en nou is dit ‘n ware ruïne! Dit was regtig pragtig en ons het die uitstappie ook vreeslik geniet. Die reën het ons ook bietjie meer toegelaat om buite te kon wees. Ons het wel nie na die Hercules standbeeld gestap nie, ons wou nie vir pappie ooreis nie en ons wou maar probeer om nie te laat by die Klein-familie in Lübbecke aankom nie. Dit was ‘n langerige treinrit aangesien ons goedkoop treinkaartjies gekoop het en dan net op die stadige treine mag wees. Ons moes by die laaste oorklim ‘n ruk gewag het vir die volgende trein en het toe gaan koffie drink in ‘n kroeg daar by die stasie. Die kroegdame was ook maar ‘n regte bedonnerde Duitser wat geen geduld met ons gebroke Duits of Engels gehad het nie. Die Duitsers en die Nederlanders is darem nou werklik twee teenoorgestelde nasies!!
Ons het darem veilig in Lübbecke aangekom en bederf met lekker aandete en lieflike gasvryheid. Die ouers het by hulle in die huis gebly en ons jonges is na ‘n kothuisie daar naby, die Hexenhause (hekse huis).
Die Klein-familie het ons regtig op die hande gedra en is vir seker die vriendelikste Duitsers wat ek ken. Elke oggend kon ons ‘n heerlike ontbyt verwag en hul het regtig moeite gedoen om dit vir ons lekker te maak. Uiteindelik kon ons net rus en kuier sonder vele inspanning. Vir Ou Kersaand is ons saam met hulle kerk toe gewees 6pm, toe het ons die Kersete geniet en geskenke oopgemaak en Kersliedere gesing en weer 11pm na die volgende kerkdiens gegaan. Al kon ons nie juis veel van die preek verstaan nie, was die ongelooflike mooi Kersfees musiek en die Kersbome in die kerk die moeite werd gewees. Dit het regtig Kersfees ekstra spesiaal gemaak en ons kon as gesin saamstem dat dit die hoogtepunt van die hele toer was. Ek is regtig bly die Duitsers kon darem ook bietjie die Afrikaanse gesange beïnvloed…ons gesange en psalms is baie vroliker as die Nederlanders s’n!
Ons het die volgende dag of wat lekker in Lübbecke in die woud gaan stap. Heerlik mistig – dit voel of mens in ‘n sprokie is. Cornelis en Bernard het ook gou gou ‘n stok of twee beet gekry en in ‘n Lord of the Rings-fantasie-wêreld verdwaal. Verder het ons die aande kaartspeletjies gespeel saam Nora, Luise en Valk. Dink dit was dalk die langste wat die Groblertjies sonder ‘n TV was (sedert ons gesin ‘n TV gekry het so 10 jaar terug).
Die 27ste het ons weer op die trein geklim terug na Groningen. Ons het die sneeu net-net gemis in Nederland en dit het glo net begin sneeu in Duitsland toe ons daar weg is. Nogals ‘n teleurstelling vir my familie wat nog nooit sneeu gesien het nie en gehoop het op ‘n wit Kersfees. Dit was ysig koud in Groningen toe ons terugkom. Hul kon darem na die mense kyk wat geysskaats het op die ysskaatsbaan wat by die Grote Markt opgeslaan was. Die paaie was ge-ys en kon ons selfs ‘n ongeluk voor ons woonstelblok beleef soos wat ‘n kar in ‘n ander een ingegly het. Ons het bietjie in Noorderplantsoen gaan stap. Die dammetjies was almal gevries en ons het onsself lekker vermaak deur sade en klippies op die ys te gooi dat dit sulke interessante geluide maak. Dit was ook kostelik om die eende dop te hou as hul op die dammetjie land en dan eers ‘n entjie moes ysskaats. Ook het ons van die ysskerwe opgetel en dan teen die dam verpletter. Groot pret gewees!
Die res van die dae was ons baie rustig gewees en het basies net gechill. Twee ouer mense, Rein en Gerrie Kooi, wat baie geïntereseer is in ons Nederlandse bloed, het baie moeite gedoen om bietjie meer oor oupa Reint Dijkema uit te vind. So het hul selfs uitgevind waar die plaas is waar hy grootgeword het en ook die kerk waar hy heel moontlik sou kerkgaan. Hulle was so gaaf om ons bietjie daarna toe te neem. Die plaas is tans ‘n tipe diere-rehabilitasie sentrum. Maar erg verwaarloos. Die mense wat nou daar bly was baie gaaf en het vir ons koffie aangebied. Die huis was egter so vuil, ons het maar net duim vasgehou dat die koppies waaruit ons gedrink het, darem skoon was. Ek is self baie lief vir honde en katte, maar moet sê, ek het die diere wat so orals op al die banke en stoele sit en lê, so bietjie een te erg gevind! Daar was wel die mooiste perde en ook ‘n mak wildsbokkie. By die kerk het meneer Kooi vir ons laat sing. Hy’t spesiaal ‘n Duitse lied uitgekies aangesien hy seker weet ek dink nie veel van die Nederlandse kerkmusiek nie. Ons klompie het toe heerlik saam in die kerk bietjie gesing.
Vir Oujaarsdag is ons vir die dag na die stad Zwolle, wat net so uur met die trein van ons af is. Daar het ons ‘n stadswandeling deur die stad gedoen en oliebollen geëet.
Vir Oujaarsaand is ons eers vroegaand na die kerk en toe het ons later na vriende wat so entjie van ons bly gegaan. Orals in die stad was daar bonfires soos wat die mense hul Kersbome verbrand (en ook sommer enige meubels, fietse, of watookal die vuur groter kon maak). Om 12h het ons op ‘n verkeerssirkel gaan staan en vonkelwyn gedrink terwyl ons klappers skiet. Een van my boeties het perongeluk ‘n klapper in die fietspad gegooi. Gelukkig is geen fietser beseer nie! Nuwejaars is nogals iets om te beleef in Nederland. Nog nooit het ek so baie vuurwerke aanskou (en ‘n lawaai) nie. Die hele stad was skoon blou van die rook. Ek glo dit was ook ‘n interessante ervaring vir my familie gewees.
Ek’t die een dag met die familie gaan fietsry. Ons kon twee fietse leen en het die tog aangepak. Die son het lekker geskyn en die reën was nie naby nie, maar die wind was mal! Ons het ons doodgetrap as die wind teen ons was en het vir meer as 100m glad nie getrap nie as die wind van agter ons ‘n hupstoot gegee het. Pa se fietswiel het egter ongelukkig pap geraak na so 7.2km en moes hy omdraai en terugstap huistoe. Nogal ‘n jammerte dat dit hom moes tref. Ongelukkig moes iets anders fout wees want ons kon nie die band weer opgepomp kry nie. Ons ander het toe verder fietsgery en byna 20km all in all gery. Ek dink my ma en boeties het dit vreeslik geniet. Ook om die skapies en windmolens en als dop te hou. As ek terugdink, dink ek moes ons meer dae gaan fietsry het, alhoewel ek besef dat daar nie juis veel geleentheid was nie as gevolg van die slegte weer.
Saterdag 3 Januarie is ons na Delft gewees. Dit is ‘n lang treinrit maar het die pragtige kerke geniet. Ons tyd was egter baie beperk en kon ons nie te lank bly nie aangesien ons nog voor donker by Madurodam in Den Haag wou uitkom. In die winter word dit al 4pm donker en omdat die treinrit alleen tot in Delft alreeds 3 ure was, was ons nogals gedruk vir tyd. Ek kon darem ‘n delft suiker en melkpotjie koop — dis nou nie die “duur” Delft met ‘n reeksnommer en als nie, maar ten minste staan daar nie “Made in China” op die bodem nie.
Madurodam was baie vermaaklik en ek sal dit vir seker aanbeveel vir diegene wat in Nederland kom toer. Dit is ‘n park waar hul Nederlandse landmerke op ‘n skaal van 1:25 uitbeeld. Dit is ook baie leersaam met TV-skermpies wat jy kan druk met inligting oor hoe baie dinge in Nederland werk. Daar is treintjies wat ry en vliegtuie wat opstyg. Die weer het ongelukkig weer mislik geraak en die water het deur my skoene gekom. Sopnat kouse in die winter is nie lekker nie! Gelukkig was my moeder so slim om 2 pare oor mekaar aan te trek en kon ek haar een paar kry. Ek was baie dankbaar!!
4 Januarie het die familie hul goedjies gepak en het ons vertrek na Amsterdam. Daar het ons hulle by die Meininger Hotel gaan inboek en toe saam deur Amsterdam gestap en ‘n kanaalvaart gedoen wat ons baie geniet het. Die dag het vinnig tot ‘n einde gekom en het ons ons familie-kuiertjie by ‘n restaurant gaan afsluit. Pa het ons gestick… dink net toe hy met sy kaart betaal dat ons nie die ZAR as geldeenheid moes kies nie…. dit lyk na soveel meer geld as wat mens dit net in Euros hou! Ons is saam die familie weer na die hotel en hul het ons toe weer by die stasie daar langsaan kom afsien. Tranedal!!! Die kuiertjie was so lekker gewees en alhoewel dit ‘n maand lank was, het dit tog so kort gevoel. Ek is dankbaar dat ons Kersfees kon spandeer saam die mense vir wie ons lief is en wat ook vir ons lief het. Ek hoop dat ons gou weer so kan maak!
Tuis was ons huis leeg… en het die woonstelletjie baie groter gevoel as voor hulle koms! Ek moet erken, al verlang ek my dood, is ek baie bly ek hoef nie meer op daardie “hoge bed” te slaap nie! Hy is sommer die volgende week al aan die volgende sucker verkoop….