Lapdoek-liefde

Is jy mal? Nee Lize, nie lapdoeke nie, weggooidoeke! Hoekom op dees aarde sal mens in die 21ste eeu nou wil gaan staan en sukkel?

Dit is onder andere van die kommentaar wat ek gekry het toe ek tydens my swangerskap noem dat ek dit oorweeg om lapdoeke te gebruik. My ma het my en my boeties so grootgekry, en ek’s suinig, so dit was vir my net die logiese opsie dat ek dit ook gaan gebruik. Duidelik het meeste gedink my lawwe idee is uit die oude doos. Gelukkig tydens ons trippie na Amerika in Julie/Aug 2015 ontmoet ek vir Holly. Holly het 7 kinders waarvan 3 in doeke is. Lapdoeke. Dis toe wat ek vir die eerste keer in aanraking kom met die nuwe moderne lapdoeke. En agter kom hoe maklik dit eintlik is en van die vele voordele.

Ek het dadelik begin navorsing doen – op Facebook – waar dan nou anders? So het ek op die groep “South African cloth nappy users” groep afgekom. ‘n Nuwe wêreld het vir my oopgegaan. Ek’t verlief geraak op al die skattige bol-boudjies van mense wat nie foto’s van kleinding se gesig op die groep plaas nie, maar die cute agterente getooi in die oulikste prentjies van deesdae se moderne doeke. Ek moet erken – sommige mense is dalk so bietjie obsessief en verslaaf aan doeke en sal dalk maklik TLC se “my crazy obsession” kan haal met die baie doeke wat hul besit — wat heel moontlik nie meer ekonomies eers is nie!

My motivering om lapdoeke te gebruik en hoekom ek jou wil motiveer om dit ook te doen:

  • Beter vir die omgewing – Ek weet nie van jul nie, maar altyd as daar rommel rondlê, is ‘n vuil weggooidoek seker die mees disgustingste ding wat daar bestaan. Ek onthou dat ek selfs al een keer by die see was en so doek op die golwe aangedryf gekom het. Bleh!! Ook vat ‘n doek byna 200 jaar om tot niet te gaan. As mens nou net dink hoeveel doeke met ‘n kleintjie gebruik (+- 6 ‘n dag vir ongeveer 2, 5 jaar), dink net al die rommel wat ophoop. Dis om van naar te word. Ook gebruik dit baie meer water om een weggooidoek te vervaardig as wat dit is om ‘n hele bondel wasgoed te was.
  • Dis goedkoper. Ek’t vir my starter-kit so €140 betaal. Dit klink baie op een slag. Maar sover het ek nie meer as net daardie doeke nodig gehad nie. As ek dink ‘n klein pakkie Pampers kos €10 en volgens die pak is dit ‘n week se inhoud. Dus het ek al die doeke afbetaal intussen (sussie is nou 14 weke oud). Ek’t ook eintlik net 1 -2 ekstra bondels wasgoed wat ek per week doen, so water en elektrisiteit is nie juis ‘n faktor nie. Dis selfs nog goedkoper as mens die old-school Glodinas gebruik en sommer covers by PEP koop.
  • Dis beter vir baba. Geen chemikalieë teen die boudjies nie. Ek’t ook onlangs ‘n foto op Facebook gesien verbygaan waar iemand wurms in hul Huggies ontdek het. Eish eish! Geen sulke dinge vir ons nie! Onlangs was die klinieksuster verbaas daaroor dat sussie nog nooit rooi boude gehad het nie. En ons gebruik omtrent nooit eers salfies nie – so dit maak dit net nóg goedkoper.
  • Dis baie mooier as weggooidoeke. In Somer kan baba sommer sonder broek rondloop want die doek is mooi genoeg.
  • Lapdoeke stink minder. Ja, jy’t reg gehoor! Die paar keer wat ek vir sussie moes weggooidoek aansit, dink ek konstant daar is bol in die broek.

Aanvanklik in die hospitaal het ons nog weggooi gebruik.By tuiskoms dadelik in die dag oorgegaan lapdoeke toe. Shame, dit het soooo huge gelyk aan sussie.

Toe sy so 2 maande oud was het ek uiteindelik genoeg guts gehad om in die aand ook lapdoeke te doen. Ons is dus nou meeste van die tyd op lapdoeke en gebruik slegs weggooidoeke as ons ver reis of iewers anders oorslaap.

Hoe gebruik mens lapdoeke?

Mens kry verskillendes. Daar is die AIO wat nes ‘n weggooidoek is. Jy sit hom aan en haal hom af en gooi in die was. Dan is daar AI2 waar jy die doek het en dan ‘n cover moet oorsit. Ons gebruik AI2 vir nagdoek. Little Lambs se bamboes werk goed vir ons. Dan kry mens ook pockets – dit lyk soos ‘n cover, maar het ‘n “pocket” waar jy dan ‘n “booster” insit. Dit kan enigiets wees wat piepie kan absorbeer. Ek gebruik ook die van Little Lambs en Cherub Tree wat ek 2de hands kon koop op ‘n Facebook groep. Hulle is ook One-size-fits-most met knopies waarmee jy die doeke groter en kleiner kan maak. Dus hou hul lank. Boosters word van verskillende materiale gemaak – hennep, bamboes, mikrovesel, ontvangskombersies, moeselien ens ens. Dan is daar die oudedoos plat voudoek. Die Glodinas. Moenie hul afskryf nie hoor! Dit raak later lekker om te vou en dit is baie prakties as dit kom by droogtyd. Daar is nog ander soorte ook, maar ek’t nog nie almal gebruik om veel kommentaar daaroor te kan lewer nie.

Was: Ek het so gaatjies-wasgoedemmer. Doeke gaan netso van die boudjies af na die emmer. Poef-doeke word net eers uitgespoel. Geen soaking in Milton of sterinappi en daai dinge van lank gelede nie. Op wasdag sit ek die doeke eers op ‘n kort siklus om die ergste piepie uit te spoel. Ek gooi so 3 druppels Tea Tree Oil ook in die bakkie om bakterieë te dood. Mens kan ook die doeke gou uitspoel in baba se badwater (na baba gebad het)! Daarna op ‘n lang siklus. As daar nog plek in die trommel is kan jy selfs nog ander wasgoed ook bygooi.

Volgende week is die #flatschallenge en eintlik die rede vir my post. Ons gaan probeer om mense meer bewus te maak van die voordele van lapdoeke. Ook veral om te bewys dat mense in armer gemeenskappe dit maklik ook kan doen al het jy nie ‘n wasmasjien nie. Flats is ook die goedkoopste opsie en mens kan sommer vir cheap cheap by PEP koop. Basies behels dit dat daar vir ‘n hele week net van die outydse vierkantige doeke wat jy vou en met ‘n snappi vasmaak gebruik gaan word en dat mens gaan handwas. Met hierdie post wil ek dus al my vriende wat ook kinders in die doeke het uitdaag om te probeer. Selfs al gebruik jy net een keer ‘n lapdoek, maak dit alreeds ‘n verskil in jou beursie, die omgewing en jou baba se boudjies. Komaan, probeer!

Ek sal vir die periode van 16-22 Mei probeer om daagliks te “update” hoe ek die uitdaging ervaar.

Ek gebruik meestal Little Lamb se doeke. Ek’s baie tevrede met die doeke self en nog meer tevrede met hul fantastiese verkoopsdiens. Verder gebruik ek ook nog pockets van Cherub Tree en strikluiers van Disana wat ek tweedehands gekoop het. Ek’s tevrede met hul. **Ek word nie betaal om hierdie ‘brands’ te adverteer nie.