Long time no write

Hello

Ek het 2017 laas iets geskryf. ‘n Bitter bitter moeilike jaar. Ek gaan die verlore jare in hierdie post probeer insqueeze deur vinnig te fast forward.

2017:

Die een goeie ding wat wel gebeur het in 2017 is dat ek op braaidag ‘n seuntjie ryker geword het. Maar dis ook deels hoekom die jaar moeilik was. Omdat ek die enigste een was wat hom wou hê en daar is maar min dinge so sleg om terwyl jy ‘n wonderwerk verwag te hoor van hoe ongewensd hy is (vir andere wat eintlik f-ol met my familiebeplanning uit te waai het). Ander mense wat “nagte wakker lê en wonder hoe hulle vir my kinders gaan sorg.” Ja my laat voel soos slangkak en my hele swangerskap net sleg gemaak. En dis maar my 2de kind. Hopelik teen my 6de sal hul ophou bitch en moan as hul besef dis nie hul plek nie. Dit als het op sy beurt ook my huwelik negatief beïnvloed en ek het selfs vir 3 weke weggeloop. Maar ek is dankbaar om te kan terugrapporteer dat die Here ons huwelik gered het en ons vanjaar een van ons beste jare in terme van ons huwelik ooit beleef. Dank die Heer!

My seuntjie het op 24 September 2017 sy opwagting gemaak. Wonderlike watergeboorte (ek sal nog in ‘n volgende post vertel) met my man, ouers en broer langs my sy. Ek moet seker noem dat my familie darem positief gereageer het op die nuus van boetie se koms. Dank die Vader vir hulle ook. Sonder hulle sou ek dit nie tot op 30 kon maak nie. Na die naweek is my pa en broer terug huistoe, maar Moederlief het agtergebly om te help. ‘n Week later tref die volgende bom. My ma het borskanker. Dit was asof ek in die maag geslaan is. My mamma, my steunpilaar, het ‘n dodelike siekte. En ek voel verraai, want almal weet. Almal behalwe ek. En alhoewel mense vir jou sê hoe jammer hulle is en probeer simpatiek is, weet hulle ook nie eintlik nie. Hul weet nie dat ek haar nie kan verloor nie. Ek kan nie. Nooit nie. Maar veral nie nou nie. Gelukkig kan ek vandag getuig dat sy al vir omtrent 2 jaar kankervry is. Prys die Here! Want Hy is goed.

2018

Ook maar sy ups and downs gehad. Maar ten minste kon boetie harde harte versag en ek het geleer ‘n toe bek is ‘n heel bek. Myself onttrek en so min as moontlik betrokkenheid getoon. Dis nie in my aard nie, maar ek kon net nie weer 2017 oordoen nie.

Oupa het bedlêend geword en is ouetehuis toe.

Ek het my Filadelfia studies se prakties uiteindelik voltooi. Vriendskappe gesmee met mense wat my kan bystaan. Ek het uitgesien na die praktiese sessies sodat ek net weer myself sonder enige tierlantyntjies kan wees en nie op eiers hoef te loop die hele tyd nie. Waar mense verstaan en jou op Christelike wyse kan reghelp en ondersteun en bystaan.

Ek het as agent vir 4akid en Mama Bear begin werk en kon darem so klein bietjie geldjie vir myself ook maak. Net jammer ek gaan nooit kan ryk word daarvan nie.

Die jaar het eintlik goed gegaan tot my man die simpel bevlieging gekry het dat hy Rusland toe wil neuk. En ja, ek is een van daardie vrouens wat glo ek moet my man volg. Ons het ons TEFL kwalifikasies verwerf en woerts is ons Moskou toe. Met ‘n 3 en ‘n 1 jarige. Dit was ‘n ondeurdagte besluit, maar ten minste kan ons nou sê ons weet ons wil NIE weer in Moskou gaan woon nie. Ek sal nog oor ons ervaring ook in diepte gesels maar in kort: stad is heeltemal te besig vir ons gewees; Adi het ongelooflike slegte werksomstandighede gehad; geld was min; ons was arm en dit was maar ‘n moeilike uitstappie met sulke klein kindertjies. Ons was daar van Oktober tot Desember.

2019

Ons is terug plaas toe en probeer aangaan soos tevore. Net heelwat armer. Ons moes vir maande aan ons vliegkaartjies afbetaal en die website waarvoor Adi geskryf het, het gesluit. Finansieel was Moskou ‘n fout. Dit sou natuurlik beter gewees het as ons ons kontrak kon klaarmaak, maar omstandighede het ons maar genoop om na 2 maande terug te keer.

Buiten dat ons nou nie meer elke sent twee keer moes omdraai soos tevore nie, maar drie keer, was 2019 eintlik ‘n lekker jaar. Ek kon gelukkig aangaan met 4akid en moet sê ek is bitter dankbaar vir die geleentheid. Al meer as een keer het net daai ekstra R100 in my bankrekening gehelp dat ‘n debietorder kan deurgaan of dat ek vir Hanna se speelgroepie kon betaal.

Hanna het by ‘n speelgroepie begin en dis asof ek so ook ‘n groepie kon vind by wie ek bietjie aanklank kan vind, al is dit net om te staan en gesels terwyl ons kinders op-of-aflaai.

Ons is vinnig weer Rusland toe. Maar net vir 2 weke om te gaan kyk na ‘n werksaanbod op ‘n plaas. Kinders het by my ouers gaan kuier. Ons het op die ou end die aanbod van die hand gewys na baie wik en weeg en ‘n dag van vas en bid. Meer daaroor in die beloofde Rusland blog wat ek nog moet skryf.  Ten minste kon ons ‘n betaalde “vakansie” uit die deal gekry het.

Ek het 30 geword. En die gedagte maak my depressief. Somehow het ek gedink mens het jou shit bymekaar teen die tyd wat jy 30 slaan. Kom ons staan gou ‘n oomblik stil en lag oor daardie gedagte. Ek voel nog meer deurmekaar as wat ek was in my 20’s!!

Weer het die ouers ons laat skrik. Eers my pa wat byna dood is as gevolg van vuil water wat hy gedrink het en vir ‘n wyle in Potch in die hospitaal was. En toe skoonma wat ook byna dood is en tans nog aansterk in die hospitaal. Genadiglik het die Here hul albei vir ons gespaar.

Een fantastiese ding wat vanjaar gebeur het is ons huwelik wat net meer oemf gekry het. Ek het weer die man terug met wie ek 7 jaar gelede getrou het en ons huwelik is sterker as ooit.

Tog, is ek vanjaar geneig om meer gedurig in depressie te verval. Ek kan nie’n rede daarvoor gee nie. Dit gebeur net. Dalk omdat ek nou 30 is en nie my shit bymekaar het nie. Dalk omdat ek, alhoewel ek nooit liberaal sal wees nie, disgusted is deur sekere ‘konserwatiewes’. Dalk omdat ons so arm soos kerkmuise is. Dalk omdat ek smag na grootmens-geselskap. Dalk omdat terugverlang na Nederland? Dalk omdat ouerskap oorweldigend is al geniet ek dit terselfdertyd? Dalk omdat ek te min vir my ma en pa gaan kuier? Dalk omdat ek nie ‘n sussie het nie? Dalk omdat my flippen honde nie ophou rondloop nie?

Maar verandering is aan die kom. Ek voel dit in my. Dalk ‘n nuwe plek, nuwe land? Dalk doen ek die doula-kursus wat ek so lank dreig om te doen. Tyd sal leer wat die toekoms vir ons inhou. 

 

PS. Sorry vir die boring post. Ek moet nog in oefening kom. Dankie as jy wel tot hier gelees het.

Die ondankbare roeping

Voor ek mamma geword het en my as tuisteskepper bekwaam het, was ek ‘n onderwyseres. Nie vir lank nie. Ses maande in Suid-Afrika, een jaar in Suid-Korea en een jaar in Nederland. Altyd het ek gedink dat onderwys een van die mees ondankbaarste beroepe is. Jy werk jou oor ‘n mik, raak emosioneel betrokke by die kinders en probeer jou bes om vir hulle die beste te lewer. Maar die kinders bly stout, hulle doen nie moeite nie, die ouers trap JOU uit, jy kry crap salaris, mense dink jy werk net halfdag en het boonop mos so baie vakansie.

Maar ek was verkeerd. Die ondankbaarste werk is om ‘n tuisteskepper te wees. Nou dink mense jy het sommer heeltyd vakansie, maar  in werklikheid het jy GEEN vakansie nie. Want kyk, ‘n huis maak homself nie skoon nie, maar klaarblyklik kan hy homself baie vinnig vuil maak. 24/7 is JY aan diens. Geen publieke vakansiedae nie. Saterdae ook nie. Ses maande swanger met ‘n rug so seer dat jy nie eers kan loop nie is steeds nie ‘n goeie verskoning om ‘n blaaskans te kan vat nie. En dalk maaggriep en heelnag opgegooi? Moenie eers dink daaraan om siekverlof in te sit nie…

So soms verlang ek terug na die werksplek, waar ek ten minste die stout kinders in my kop kan vloek en die ouers wat nie hul kinders kan dissiplineer nie in my gedagtes kan judge. Waar ek werklik kan vakansie hou en wel ‘n salaris ontvang. Want daar was ook kinders wat diep in my hart gekruip het, ouers wat my gereeld bedank het. Daar was ook baie lekker gewees en mens het nodig gevoel. Dat jy jou deel vir die samelewing doen.

Vandag is maar een van daai dae. Ek weet die pros om by die huis te bly by my kinders outweigh die cons. Ek weet dit. Ek voel baie bevredig as my hele huis silwerskoon is (die paar keer wat dit gebeur). Ek kry ‘n lekker gevoel as ek die mense se verbasing om hul gesigte sien “het jy nie ‘n ousie nie?”  Soms sê manlief dankie vir die huishouding (hy’s eintlik ‘n baie goeie ou). En al is my dogtertjie hoe klouerig en vereis sy baie aandag, maak al haar soentjies weer op vir dit. Oupa en ouma help ook darem gereeld deur haar bietjie te kom haal vir saamry op die plaas of bietjie daar te kuier. Dus is die voordele baie meer as die nadele. Maar vandag voel dit nie so nie. Deurmekaar huis = 10 Lize = 0. Dalk is more ‘n beter dag.

Iphone Junie 206

Huisvrou, tuisteskepper, huismamma, tuismamma, ousie?

Goeie dag vriende

Jammer dat ek ‘n hele jaar stil was. Maar ja, soos die titel verwys is ek taamlik aan die gang en besig – JAAAAA dit beteken nie ek is heeljaar op vakansie soos wat ek al moes aanhoor nie, maar meer dat ek nou mamma, skoonmaker, kok, tuinier, kinderoppasser handyman (woman?) ensomeer is. Ander huisvrouens sal verstaan… So terloops, ek’t geen issue daarmee om ‘n huisvrou genoem te word nie (in fact, ousie sit my ook nie eers af nie). Tuisteskepper is so ‘n laaaaaaang woord (4 lettergrepe is nodig)!

Vir mammas wat wonder of moet hul na kraamverlof terugkeer werk toe of liewers tuisbly, ek sal dit enige dag aanbeveel MAAR moenie dink dis maklik nie. Jy mis soms jou werk, waar jy nodig gevoel het en jou bydrae meer konkreet kon sien. Niemand sê ooit dankie vir ‘n skoon huis nie, maar laat dit nou lyk of daar ‘n orkaan deur is (Orkaan-Hanna in my geval), dan sien almal dit raak! Dis ‘n alleen werk en jy mis grootmens geselskap. BAIE! Onthou, al jou vriendinne werk mos nog. Jy word mal as jy vir die twintigste keer die dag dieselfde kinderliedjie oor en oor en oor moet luister. Jy dink jy gaan gou skoonmaak of dit of dat gaan doen sodra liefkindjie ‘n slapie vat. Hahahahahaha! Nee ou tjom, dan rus jy eers, kyk gou wat op Facebook aangaan en drink gou koffie wat nog nie koud geword het nie. En dan is slapietyd ook verby. En ja, jy sal nie so dink nie, maar ek het werklik minder tyd beskikbaar as wat ek ooit gehad het as werkende.

Maar…. ek is heeltyd by my kind. Ek kon al haar eerstes beleef. Haar eerste omrol, eerste uit die maag uit lag, eerste tree, eerste keer hoor hoe sy “Heidi” sing. As sy val en huil (gebeur nie baie met ‘n wille wragtag nie – ek bedoel nou die huil gedeelte, sy val baie), dan is dit EK wat haar troos. As sy iets kerm of brabbel, dan verstaan ek. Want ek ken my kind. Ek ken haar behoeftes en begeertes. EK het al hierdie voorregte. Nie die dagmoeder of kinderoppasser of bediende nie. EK. En vir hierdie voorreg verruil ek niks van die bogenoemde “nadele” nie.

Ek hoop om in volgende blogs waarvoor jul hopelik nie ‘n hele jaar voor hoef te wag nie, bietjie wenke te gee hoe om sonder ‘n bediende klaar te kom asook hoe om geld te spaar aangesien tuisblymammas nie juis ‘n salaris meer huistoe bring nie. Hou die blog dop!

Mei 2017 Iphone 166

Niemand neem foto’s van mammas met hul kindersnie. Selfies sal maar moet doen!