Jy het dit nie gesien nie.

Vanoggend het ek vol bravade opgestaan, al was dit omdat boetie my in die bed natgepiepie het. Maar jy het dit nie gesien nie.

Ek het die lakens afgetrek en hom skoon aangetrek. Maar jy het dit nie gesien nie.

Twee bondels wasgoed gewas, opgehang en weer haastig afgehaal toe dit reën. Maar jy het dit nie gesien nie.

Vir die kinders heuningbroodjies gemaak. maar dit het jy nie gesien nie.

Ons het gaan saadjies saai. Vygies. Dis seker my beste kans vir iets om ooit op te kom. Die spreier gaan skuif. Maar dit het jy nie gesien nie.

Ek het gaan hoenders kosgee, die bal so twee keer vir die hond gegooi. Maar dit het jy nie gesien nie .

Skottelgoedwasser gepak. Kombuisrakke afgevee, stoof skoon gemaak, gevee en gemop. Maar jy het dit nie gesien nie. Heerlike ontbyt. Spek en eiers en roosterbroodjies. Die kombuis was weer vuil. Jy het dit seker gesien.

Ek het die kinders se swemtas en skooltas gepak. Maar dit het jy nie gesien nie.

Ek het met die makelaar gepraat. Probeer uitvind wat die medies die keer nie gaan betaal nie. Jy het dit nie gesien nie.

Ek het dokters gebel vir kwotasies en opinies. Dit het jy ook nie gesien nie.

Middagete het aangebreek en almal het kos gekry. Het jy dit darem gesien?

Ek het die kantoor reggepak, ons nuwe printer opgestel. Dit het jy nie gesien nie.

Ek het die geskeurde kinderboeke geplak. Jy het dit gesien, maar steeds gekla dat ek niks doen om te ‘homeschool’ nie.

Vinnig probeer swot voor ek die rekenaar moes afstaan.

Ons bed is weer oorgetrek. Nuwe, skoongewasde lakens. Maar die kinders het dit weer gaan omkrap. So dus is dit ook nie weer gesien nie.

Ek kan nie wag om weer ‘n regte werk te doen nie. Dalk sal iemand dit dan raaksien.

Laat ek gou die heerlike aandete gaan klaarmaak dan kan ek ook my dag van ‘niksdoen’ afsluit.

Long time no write

Hello

Ek het 2017 laas iets geskryf. ‘n Bitter bitter moeilike jaar. Ek gaan die verlore jare in hierdie post probeer insqueeze deur vinnig te fast forward.

2017:

Die een goeie ding wat wel gebeur het in 2017 is dat ek op braaidag ‘n seuntjie ryker geword het. Maar dis ook deels hoekom die jaar moeilik was. Omdat ek die enigste een was wat hom wou hê en daar is maar min dinge so sleg om terwyl jy ‘n wonderwerk verwag te hoor van hoe ongewensd hy is (vir andere wat eintlik f-ol met my familiebeplanning uit te waai het). Ander mense wat “nagte wakker lê en wonder hoe hulle vir my kinders gaan sorg.” Ja my laat voel soos slangkak en my hele swangerskap net sleg gemaak. En dis maar my 2de kind. Hopelik teen my 6de sal hul ophou bitch en moan as hul besef dis nie hul plek nie. Dit als het op sy beurt ook my huwelik negatief beïnvloed en ek het selfs vir 3 weke weggeloop. Maar ek is dankbaar om te kan terugrapporteer dat die Here ons huwelik gered het en ons vanjaar een van ons beste jare in terme van ons huwelik ooit beleef. Dank die Heer!

My seuntjie het op 24 September 2017 sy opwagting gemaak. Wonderlike watergeboorte (ek sal nog in ‘n volgende post vertel) met my man, ouers en broer langs my sy. Ek moet seker noem dat my familie darem positief gereageer het op die nuus van boetie se koms. Dank die Vader vir hulle ook. Sonder hulle sou ek dit nie tot op 30 kon maak nie. Na die naweek is my pa en broer terug huistoe, maar Moederlief het agtergebly om te help. ‘n Week later tref die volgende bom. My ma het borskanker. Dit was asof ek in die maag geslaan is. My mamma, my steunpilaar, het ‘n dodelike siekte. En ek voel verraai, want almal weet. Almal behalwe ek. En alhoewel mense vir jou sê hoe jammer hulle is en probeer simpatiek is, weet hulle ook nie eintlik nie. Hul weet nie dat ek haar nie kan verloor nie. Ek kan nie. Nooit nie. Maar veral nie nou nie. Gelukkig kan ek vandag getuig dat sy al vir omtrent 2 jaar kankervry is. Prys die Here! Want Hy is goed.

2018

Ook maar sy ups and downs gehad. Maar ten minste kon boetie harde harte versag en ek het geleer ‘n toe bek is ‘n heel bek. Myself onttrek en so min as moontlik betrokkenheid getoon. Dis nie in my aard nie, maar ek kon net nie weer 2017 oordoen nie.

Oupa het bedlêend geword en is ouetehuis toe.

Ek het my Filadelfia studies se prakties uiteindelik voltooi. Vriendskappe gesmee met mense wat my kan bystaan. Ek het uitgesien na die praktiese sessies sodat ek net weer myself sonder enige tierlantyntjies kan wees en nie op eiers hoef te loop die hele tyd nie. Waar mense verstaan en jou op Christelike wyse kan reghelp en ondersteun en bystaan.

Ek het as agent vir 4akid en Mama Bear begin werk en kon darem so klein bietjie geldjie vir myself ook maak. Net jammer ek gaan nooit kan ryk word daarvan nie.

Die jaar het eintlik goed gegaan tot my man die simpel bevlieging gekry het dat hy Rusland toe wil neuk. En ja, ek is een van daardie vrouens wat glo ek moet my man volg. Ons het ons TEFL kwalifikasies verwerf en woerts is ons Moskou toe. Met ‘n 3 en ‘n 1 jarige. Dit was ‘n ondeurdagte besluit, maar ten minste kan ons nou sê ons weet ons wil NIE weer in Moskou gaan woon nie. Ek sal nog oor ons ervaring ook in diepte gesels maar in kort: stad is heeltemal te besig vir ons gewees; Adi het ongelooflike slegte werksomstandighede gehad; geld was min; ons was arm en dit was maar ‘n moeilike uitstappie met sulke klein kindertjies. Ons was daar van Oktober tot Desember.

2019

Ons is terug plaas toe en probeer aangaan soos tevore. Net heelwat armer. Ons moes vir maande aan ons vliegkaartjies afbetaal en die website waarvoor Adi geskryf het, het gesluit. Finansieel was Moskou ‘n fout. Dit sou natuurlik beter gewees het as ons ons kontrak kon klaarmaak, maar omstandighede het ons maar genoop om na 2 maande terug te keer.

Buiten dat ons nou nie meer elke sent twee keer moes omdraai soos tevore nie, maar drie keer, was 2019 eintlik ‘n lekker jaar. Ek kon gelukkig aangaan met 4akid en moet sê ek is bitter dankbaar vir die geleentheid. Al meer as een keer het net daai ekstra R100 in my bankrekening gehelp dat ‘n debietorder kan deurgaan of dat ek vir Hanna se speelgroepie kon betaal.

Hanna het by ‘n speelgroepie begin en dis asof ek so ook ‘n groepie kon vind by wie ek bietjie aanklank kan vind, al is dit net om te staan en gesels terwyl ons kinders op-of-aflaai.

Ons is vinnig weer Rusland toe. Maar net vir 2 weke om te gaan kyk na ‘n werksaanbod op ‘n plaas. Kinders het by my ouers gaan kuier. Ons het op die ou end die aanbod van die hand gewys na baie wik en weeg en ‘n dag van vas en bid. Meer daaroor in die beloofde Rusland blog wat ek nog moet skryf.  Ten minste kon ons ‘n betaalde “vakansie” uit die deal gekry het.

Ek het 30 geword. En die gedagte maak my depressief. Somehow het ek gedink mens het jou shit bymekaar teen die tyd wat jy 30 slaan. Kom ons staan gou ‘n oomblik stil en lag oor daardie gedagte. Ek voel nog meer deurmekaar as wat ek was in my 20’s!!

Weer het die ouers ons laat skrik. Eers my pa wat byna dood is as gevolg van vuil water wat hy gedrink het en vir ‘n wyle in Potch in die hospitaal was. En toe skoonma wat ook byna dood is en tans nog aansterk in die hospitaal. Genadiglik het die Here hul albei vir ons gespaar.

Een fantastiese ding wat vanjaar gebeur het is ons huwelik wat net meer oemf gekry het. Ek het weer die man terug met wie ek 7 jaar gelede getrou het en ons huwelik is sterker as ooit.

Tog, is ek vanjaar geneig om meer gedurig in depressie te verval. Ek kan nie’n rede daarvoor gee nie. Dit gebeur net. Dalk omdat ek nou 30 is en nie my shit bymekaar het nie. Dalk omdat ek, alhoewel ek nooit liberaal sal wees nie, disgusted is deur sekere ‘konserwatiewes’. Dalk omdat ons so arm soos kerkmuise is. Dalk omdat ek smag na grootmens-geselskap. Dalk omdat terugverlang na Nederland? Dalk omdat ouerskap oorweldigend is al geniet ek dit terselfdertyd? Dalk omdat ek te min vir my ma en pa gaan kuier? Dalk omdat ek nie ‘n sussie het nie? Dalk omdat my flippen honde nie ophou rondloop nie?

Maar verandering is aan die kom. Ek voel dit in my. Dalk ‘n nuwe plek, nuwe land? Dalk doen ek die doula-kursus wat ek so lank dreig om te doen. Tyd sal leer wat die toekoms vir ons inhou. 

 

PS. Sorry vir die boring post. Ek moet nog in oefening kom. Dankie as jy wel tot hier gelees het.

Is dit duur om te lapdoek?

Die doel van die challenge hierdie week is om te bewys dat lapdoeke bekostigbaar is en ‘n goeie opsie is vir mense wat swaarkry in plaas daarvan dat mens net heeltyd weggooidoeke aan armes en hulpverleningsorganisasies skenk. Lapdoeke is baie meer van ‘n langtermynoplossing. Dus gaan ek uitlê wat ek hierdie week gaan gebruik en uitwerk hoeveel dit my kos. Ook gaan ons loer hoeveel dit kos om dit op die heel goedkoopste manier te doen.

Iphone Mei 2016 460

My gunsteling flats is die ontvangskombersie. Dit absorbeer BAIE en dus kan mens dit gemaklik vir die nag gebruik. Ek het 4 ontvangskombersies wat ek as geskenk ontvang het. Dus is dit alreeds 4 doeke wat my niks gekos het nie. Baie mammas kry ook ontvangskombersies as ooievaarstee geskenk. Volgens ander lapdoek-lovers kan mens ontvangskombersies vir ongeveer R60 vir 2 koop. Dus R30 een.

Volgende op my lysie is die strikluier. Ek het dit 2de hands gekoop by iemand en 10euro vir 4 betaal. Volgens vandag se wisselkoers is dit R177, 50. Dus werk dit so R44,30 uit per doek. Mens kan dit nuut by Disana bestel ook.

Spoegdoeke (Glodinas). Weereens het ek nie dit gekoop nie, maar by iemand gekry 2de hands. Ek het twee van hulle. Mens kan hulle goedkoop by winkels soos PEP koop vir ongeveer R20 ‘n doek.

Moeseliendoeke. Die prys wissel tussen 1 en 3 euro afhangende waar jy dit in Nederland koop ens. Ek het ‘n hele stapel verniet gekry, so weereens kos dit my ook niks. Kom ons sê vir argumentsonthalwe dit kos my 2 euro per doek. Dus R35,50.

Ek gebruik ou flennie nagbroeke se pype om in my covers te stop – dus gratis.

Mikrovesel stoflap – dink nie ek’t meer as R10 daarvoor betaal nie.

Fleece liners: By Little Lamb kos dit R230 vir ‘n pak van 10. Dus R23 vir een. Mens kan nog goedkoper wegkom deur gewoon fleece materiaal te koop en te sny as liners. By PEP kos ‘n fleece kombers van 125x150cm R39,99. Daaruit kan jy ‘n magdom liners self knip.

My covers:

PEP se covers is die goedkoopste. Jy kan daar koop vanaf so R10 ‘n cover. Die PUL-covers wat ek gebruik is aansienlik duurder. My rooi en turkois Little Lamb wraps kos ongeveer R230 elk. Ek’t hul wel as deel van ‘n bulk doekepak gekoop, so het my goedkoper uitgewerk. Ek’t 12 euro vir my Blumchen cover betaal, dus ongeveer R213. Dus sal dit mens baie goedkoper uitwerk as jy slegs met PEP covers werk. Dit is egter plastiek wat nie baie kan deurlug nie en erg sweterig raak in die Somer. My ander covers is gemaak van PUL. Mens kan ook ‘n wolbroek gebruik, ek is net nog besig om dit te brei.

Snappi (thingymajik wat jy gebruik om die doek mee vas te maak):

By PEP betaal mens R18 vir 2. Dus R9 een. Mens het ook net een nodig.

Pocket-doeke. Dit tel eintlik as moderne doeke. Ek’t my Cherub Tree pockets vir R90 een gekoop 2de hands.

Op dag 1 het ek altesaam 7 doeke gebruik. Dit het my gekos:

  1. Blumchen cover, mikrovesel stoflap en fleece liner = R213 + R10 +R23 = R246
  2. moeseliendoek, fleece liner, PEP cover, snappi = gratis, R23+R10 + R9 = R42
  3. pocket, pyjamabroekspyp = R90 + gratis = R90
  4. strikluier + fleece liner + LL wrap = R44,30 +R23+R230 = R297,30
  5. katoendoek + 2 liners + snappi + cover = R46 (die ander produkte is al vroeër bygereken en doek het ek verniet gekry).
  6. ontvangskombersie + fleece liner + snappi + cover = R23 (ander produkte reeds genoem of gratis ontvang)
  7. katoendoek + liner + snappi + cover = R23  (ander produkte reeds genoem of gratis ontvang).

Vir my het dit in totaal om met die eerste dag te kon begin uitgewerk op: R767,30

Dit klink soos ‘n hoop geld. Maar mens moet natuurlik onthou dit is nie wat dit jou per dag kos nie. Goed soos snappis en covers kan jy oor en oor gebruik per dag. Die liners en die doeke kan jy na ‘n was dus ook weer gebruik.

Kom ons werk uit hoe ‘n begin stash op sy heel goedkoopste vir jou sal kan uitwerk. Ek gaan uitwerk op 14 doeke aangesien mens die een dag 7 in die was het en 7 aan die bas het.

14 ” Spoegdoeke” @R20 elk = R280

14 (eintlik meer) liners gesny uit PEP-kombersie = R39,99

1 snappi = R9

2 PEP covers = R20 (met elke doekwisseling kan jy die vorige cover net uithang en dan met die volgende keer weer gebruik).

Totaal:R348,99

Glad nie sleg nie!! Bewys dat lapdoeke jou BAIE goedkoper as weggooidoeke sal uitwerk.

Die #flatschallenge is ‘n inisiatief van Dirty Diaper Laundry.

Lapdoek-liefde

Is jy mal? Nee Lize, nie lapdoeke nie, weggooidoeke! Hoekom op dees aarde sal mens in die 21ste eeu nou wil gaan staan en sukkel?

Dit is onder andere van die kommentaar wat ek gekry het toe ek tydens my swangerskap noem dat ek dit oorweeg om lapdoeke te gebruik. My ma het my en my boeties so grootgekry, en ek’s suinig, so dit was vir my net die logiese opsie dat ek dit ook gaan gebruik. Duidelik het meeste gedink my lawwe idee is uit die oude doos. Gelukkig tydens ons trippie na Amerika in Julie/Aug 2015 ontmoet ek vir Holly. Holly het 7 kinders waarvan 3 in doeke is. Lapdoeke. Dis toe wat ek vir die eerste keer in aanraking kom met die nuwe moderne lapdoeke. En agter kom hoe maklik dit eintlik is en van die vele voordele.

Ek het dadelik begin navorsing doen – op Facebook – waar dan nou anders? So het ek op die groep “South African cloth nappy users” groep afgekom. ‘n Nuwe wêreld het vir my oopgegaan. Ek’t verlief geraak op al die skattige bol-boudjies van mense wat nie foto’s van kleinding se gesig op die groep plaas nie, maar die cute agterente getooi in die oulikste prentjies van deesdae se moderne doeke. Ek moet erken – sommige mense is dalk so bietjie obsessief en verslaaf aan doeke en sal dalk maklik TLC se “my crazy obsession” kan haal met die baie doeke wat hul besit — wat heel moontlik nie meer ekonomies eers is nie!

My motivering om lapdoeke te gebruik en hoekom ek jou wil motiveer om dit ook te doen:

  • Beter vir die omgewing – Ek weet nie van jul nie, maar altyd as daar rommel rondlê, is ‘n vuil weggooidoek seker die mees disgustingste ding wat daar bestaan. Ek onthou dat ek selfs al een keer by die see was en so doek op die golwe aangedryf gekom het. Bleh!! Ook vat ‘n doek byna 200 jaar om tot niet te gaan. As mens nou net dink hoeveel doeke met ‘n kleintjie gebruik (+- 6 ‘n dag vir ongeveer 2, 5 jaar), dink net al die rommel wat ophoop. Dis om van naar te word. Ook gebruik dit baie meer water om een weggooidoek te vervaardig as wat dit is om ‘n hele bondel wasgoed te was.
  • Dis goedkoper. Ek’t vir my starter-kit so €140 betaal. Dit klink baie op een slag. Maar sover het ek nie meer as net daardie doeke nodig gehad nie. As ek dink ‘n klein pakkie Pampers kos €10 en volgens die pak is dit ‘n week se inhoud. Dus het ek al die doeke afbetaal intussen (sussie is nou 14 weke oud). Ek’t ook eintlik net 1 -2 ekstra bondels wasgoed wat ek per week doen, so water en elektrisiteit is nie juis ‘n faktor nie. Dis selfs nog goedkoper as mens die old-school Glodinas gebruik en sommer covers by PEP koop.
  • Dis beter vir baba. Geen chemikalieë teen die boudjies nie. Ek’t ook onlangs ‘n foto op Facebook gesien verbygaan waar iemand wurms in hul Huggies ontdek het. Eish eish! Geen sulke dinge vir ons nie! Onlangs was die klinieksuster verbaas daaroor dat sussie nog nooit rooi boude gehad het nie. En ons gebruik omtrent nooit eers salfies nie – so dit maak dit net nóg goedkoper.
  • Dis baie mooier as weggooidoeke. In Somer kan baba sommer sonder broek rondloop want die doek is mooi genoeg.
  • Lapdoeke stink minder. Ja, jy’t reg gehoor! Die paar keer wat ek vir sussie moes weggooidoek aansit, dink ek konstant daar is bol in die broek.

Aanvanklik in die hospitaal het ons nog weggooi gebruik.By tuiskoms dadelik in die dag oorgegaan lapdoeke toe. Shame, dit het soooo huge gelyk aan sussie.

Toe sy so 2 maande oud was het ek uiteindelik genoeg guts gehad om in die aand ook lapdoeke te doen. Ons is dus nou meeste van die tyd op lapdoeke en gebruik slegs weggooidoeke as ons ver reis of iewers anders oorslaap.

Hoe gebruik mens lapdoeke?

Mens kry verskillendes. Daar is die AIO wat nes ‘n weggooidoek is. Jy sit hom aan en haal hom af en gooi in die was. Dan is daar AI2 waar jy die doek het en dan ‘n cover moet oorsit. Ons gebruik AI2 vir nagdoek. Little Lambs se bamboes werk goed vir ons. Dan kry mens ook pockets – dit lyk soos ‘n cover, maar het ‘n “pocket” waar jy dan ‘n “booster” insit. Dit kan enigiets wees wat piepie kan absorbeer. Ek gebruik ook die van Little Lambs en Cherub Tree wat ek 2de hands kon koop op ‘n Facebook groep. Hulle is ook One-size-fits-most met knopies waarmee jy die doeke groter en kleiner kan maak. Dus hou hul lank. Boosters word van verskillende materiale gemaak – hennep, bamboes, mikrovesel, ontvangskombersies, moeselien ens ens. Dan is daar die oudedoos plat voudoek. Die Glodinas. Moenie hul afskryf nie hoor! Dit raak later lekker om te vou en dit is baie prakties as dit kom by droogtyd. Daar is nog ander soorte ook, maar ek’t nog nie almal gebruik om veel kommentaar daaroor te kan lewer nie.

Was: Ek het so gaatjies-wasgoedemmer. Doeke gaan netso van die boudjies af na die emmer. Poef-doeke word net eers uitgespoel. Geen soaking in Milton of sterinappi en daai dinge van lank gelede nie. Op wasdag sit ek die doeke eers op ‘n kort siklus om die ergste piepie uit te spoel. Ek gooi so 3 druppels Tea Tree Oil ook in die bakkie om bakterieë te dood. Mens kan ook die doeke gou uitspoel in baba se badwater (na baba gebad het)! Daarna op ‘n lang siklus. As daar nog plek in die trommel is kan jy selfs nog ander wasgoed ook bygooi.

Volgende week is die #flatschallenge en eintlik die rede vir my post. Ons gaan probeer om mense meer bewus te maak van die voordele van lapdoeke. Ook veral om te bewys dat mense in armer gemeenskappe dit maklik ook kan doen al het jy nie ‘n wasmasjien nie. Flats is ook die goedkoopste opsie en mens kan sommer vir cheap cheap by PEP koop. Basies behels dit dat daar vir ‘n hele week net van die outydse vierkantige doeke wat jy vou en met ‘n snappi vasmaak gebruik gaan word en dat mens gaan handwas. Met hierdie post wil ek dus al my vriende wat ook kinders in die doeke het uitdaag om te probeer. Selfs al gebruik jy net een keer ‘n lapdoek, maak dit alreeds ‘n verskil in jou beursie, die omgewing en jou baba se boudjies. Komaan, probeer!

Ek sal vir die periode van 16-22 Mei probeer om daagliks te “update” hoe ek die uitdaging ervaar.

Ek gebruik meestal Little Lamb se doeke. Ek’s baie tevrede met die doeke self en nog meer tevrede met hul fantastiese verkoopsdiens. Verder gebruik ek ook nog pockets van Cherub Tree en strikluiers van Disana wat ek tweedehands gekoop het. Ek’s tevrede met hul. **Ek word nie betaal om hierdie ‘brands’ te adverteer nie.

 

 

 

The American dream – ‘n nagmerrie by die konsulaat

Tydens die Somer van 2015 is ek en Adi bietjie na Amerika gewees waar ons van ons Facebook vriende in persoon gaan ontmoet het en waar Adi vir 4 Sondae by ‘n klein kerkie gaan preek het. Maar meer oor ons trippie later. Eers wil ek my ervaring met die visum-aansoek deel.

Ek wou al lankal vertel, maar was so bang ek word gearresteer of assassinate as ek uitpraat voor ons trippie dat ek dit vir ‘n rukkie eers uitgestel het, haha.

Eerstens as jy op die internet jou afspraak maak, moet jy ‘n vraelys invul. Die vreemdste vrae onder die son. Vrae soos: “Do you plan on being a prostitute” of “do you plan to engage in terrorist activities?” Imagine nou ek tick “no” en gaan blaas ‘n bank of iets op… Gaan hul dan met my raas en sê “Jy’t BELOWE jy sal nie!!!”

Op die website sê hul dat as mens jou selfoon saambring, dit dalk jou afspraak kan vertraag weens sekuriteitskontrole. Maar aangesien ek die middag weer terug in Groningen moes wees om die oppaskinders by die skool op te tel en ek nie geweet het hoe lank dit gaan vat nie (die treinrit alleen is 2 ure lank), kon ek nie regtig my foon tuis los nie aangesien ek die kinders se ouers sou moes bel as ek nie betyds kon terug wees nie. Dus beplan ek toe om ‘n uur vroeër al vir my afspraak daar op te daag.

Daar gekom staan daar een norse man voor die konsulaat. Ek gaan na hom en wys my papiere. Hy sien ek’s vroeg en stuur my toe weg. “Come back at your appointed time.” Nou ja, ek stroll toe maar daar op Amsterdam se museumplein rond, drink ‘n koffie’kie en eet ‘n stroopwafel. So 5 minute voor my afspraaktyd gaan ek terug. Die keer verloor die meneer dit en skree op my “I told you to come back at your appointed time!!!!” F****t ou, haal die boeing uit jou hol, dis net 5 minute!!! (Ek’t dit net gedink – nie hardop gesê nie, maar ek wou).

Ek’t maar weer vir 5 minute gaan stap en toe teruggekom. Terug daar, vra hy of ek my selfoon by my het. Ja ek het. Ek het dit ook al die eerste keer wat ek soontoe gegaan het vir hom gesê. Baie nors word ek na ‘n ander ry gestuur. Die ry van die “stout kinders” wat hul selfone by hul het.

Daar staan ons toe vir seker ‘n driekwartier en wag tot ‘n sekuriteitswag uitkom en vir ons vertel dat die konsulaat nou gaan sluit en dis nou sleg vir ons maar ons moet re-schedule want hul het nie tyd om ons selfone deur die security check te sit nie. Maar….hy sê toe ook: “If you can get rid of your phone within the next 10 minutes, you can go right in.” Ek en die een Hollander daar dink dadelik dieselfde ding en ons hardloop na ‘n blombedding aan die oorkant van die plein en gooi ons fone sommer daar in. Ons het besluit ons vat die kans vir ons fone om gesteel te word — myne was toe net ‘n ou Blackberry en dit sou my inelkgeval meer gekos het om te re-schedule. Terug by die konsulaat kom daar ‘n shitload sekuriteit uit. “You have committed an act of terrorism by planting electronic devices in front of a US consulate, this is a felony.”

Kyk, ek bevuil amper myself en bars in trane uit. Ek sê vir die mense “do I look like a terrorist??? You told us to get rid of our phones, that’s what we did!” Ons word toe beveel om ons fone te gaan haal, hul sal gou die check doen. Ek glo nie hul wou ons regtig arresteer nie, net weer bietjie hul eie magsgevoel boost deur ons te intimideer.

Hollandertjie word beveel om sy foon se battery uit te haal. Ek wil nie tyd mors nie en haal my battery ook uit. Die offisier ontplof. “I did not tell YOU to take out your battery, I need to see it on!!!!” Okay okay, ek sit weer die battery in. Nou ek weet nie of jy weet hoe lank ‘n Blackberry vat om aan te gaan as jy die battery insit nie. Laaaaaank. Offisier verloor weer sy cool en dinges my uit omdat my foon so lank vat. Ek kan mós die foon aanjaag. Op die ou end is hy te ongeduldig om te wag tot die foon aangaan en word ek gevra om die battery uit te haal. Nou weet julle wat is die sekuriteits check wat apparently so lank vat??? Dis so wit papiertjie dingetjie wat hy net so oor my foon waai. Vat 2 sekondes tops!!!

Binne die gebou moet ons ook deur een van daardie scanner goed loop. Stupid kaaskop het toe ‘n broodmes in sy tas! Ja, dis nou een ding van die Hollanders. Hul pak nie ‘n klaargemaakte broodjie vir die dag in nie. Hul pak ‘n halwe brood, mes en grondboontjiebotter in en maak dan deur die dag broodjies wanneer hul honger is.

Eerste balie waar ek moet aanmeld daar binne kry ek toe ‘n baie vriendelike man wat my help. Toevallig is hy ‘n Nederlander. Baie opgewonde toe hy my SA paspoort sien en wil net hê ek moet asseblief bietjie Afrikaans met hom praat. Hy’t my nogals gehelp om te kalmeer na my “felony” van vroeër.

In die onderhoud ry hoor ek die gesprek met die meisie voor my. Sy word haar visum geweier. Sy’s oppad na ‘n konferensie in die VSA, maar het pas klaar studeer en nog nie werk in Nederland nie, toe figure die beampte dat sy nie genoeg bewyse het dat sy gaan terugkom nie. O donner, ek gaan nie my visum vandag kry nie, is al waaraan ek kan dink.

My beurt. Nog ‘n nors Amerikaner. Hy val weg met klomp name wat hy opnoem en vra of ken ek die mense. Ek ken niemand nie. Hy kyk my aan asof hy nie ‘n woord uit my mond glo nie met “are you sure you don’t know them?” Hy vra toe wat ek in Nederland doen vir ‘n werk. Ek’s ‘n nanny. Nee ek het nie ‘n kontrak nie. Maar geluk (prys die Here) het ek ‘n brief van my werkgewers wat my vakansiedatums uitstippel en wanneer ek weer moet begin werk. Volgende vraag: hoe ken ek my vriende in die VSA? Okay, so ek kon net nie vir hom sê dat ons hul op Facebook ontmoet het nie. Dan gaan ek mós die visum kry. Ek sê “networking”. Hy kyk my weer weird aan. Dit lyk nie of ek die visum gaan kry nie. Hy vra my “What are you going to do at thát church?” Nou omdat daardie kerkie nog bitter klein is en nog nie geregistreer is as ‘n kerk nie het ek heeltemal niks daaroor gesê of so nie. Bloot net dat ons vir vriende gaan kuier. Dus het hul op ‘n manier goed op my gespy om goed te weet wat ek nie vertel het nie. My tong knoop amper soos wat ek iets probeer uitdink “we are Christians and planning to attend church on Sundays.”

Skielik kry ek die brainwave om te sê dat Adi al die mense ontmoet het. Hy was vroeër die jaar in Florida vir ‘n konferensie. Ek sê dit vir die man. “Did we issue his visa?” Yes. Gelukkig het ek op die laaste minuut voor ek die oggend by die huis weg is, sy paspoort saamgevat en kon ek vir hom wys. Toe wou hy weet wat ons in Korea gesoek het… Net bietjie gaan geld maak ou.

Die man kyk my stip in die oë. Ek dink “o shit.” Hy sê: “Enjoy your stay in the United States of America.” Ek glo dit nie. Ek vra hom “so is my visa approved????” “Yes.”

All’s well that ends well, maar dit was vir seker een van die mees stresvolle dinge wat ek nog gedoen het. Oppad terug Groningen toe tjank ek van verligting in die trein. Drie dae later word my paspoort met die visa by my afgelewer. 10 jaar geldig. Dankie tog!! Nou weet ek darem vir seker ek hoef die volgende 10 jaar nie deur dieselfde stront te gaan nie.

Nou wonder ek… julle Amerikaanse boikies, gaan julle my blog vertaal en lees? Watch my lekker hoor!