Long time no write

Hello

Ek het 2017 laas iets geskryf. ‘n Bitter bitter moeilike jaar. Ek gaan die verlore jare in hierdie post probeer insqueeze deur vinnig te fast forward.

2017:

Die een goeie ding wat wel gebeur het in 2017 is dat ek op braaidag ‘n seuntjie ryker geword het. Maar dis ook deels hoekom die jaar moeilik was. Omdat ek die enigste een was wat hom wou hê en daar is maar min dinge so sleg om terwyl jy ‘n wonderwerk verwag te hoor van hoe ongewensd hy is (vir andere wat eintlik f-ol met my familiebeplanning uit te waai het). Ander mense wat “nagte wakker lê en wonder hoe hulle vir my kinders gaan sorg.” Ja my laat voel soos slangkak en my hele swangerskap net sleg gemaak. En dis maar my 2de kind. Hopelik teen my 6de sal hul ophou bitch en moan as hul besef dis nie hul plek nie. Dit als het op sy beurt ook my huwelik negatief beïnvloed en ek het selfs vir 3 weke weggeloop. Maar ek is dankbaar om te kan terugrapporteer dat die Here ons huwelik gered het en ons vanjaar een van ons beste jare in terme van ons huwelik ooit beleef. Dank die Heer!

My seuntjie het op 24 September 2017 sy opwagting gemaak. Wonderlike watergeboorte (ek sal nog in ‘n volgende post vertel) met my man, ouers en broer langs my sy. Ek moet seker noem dat my familie darem positief gereageer het op die nuus van boetie se koms. Dank die Vader vir hulle ook. Sonder hulle sou ek dit nie tot op 30 kon maak nie. Na die naweek is my pa en broer terug huistoe, maar Moederlief het agtergebly om te help. ‘n Week later tref die volgende bom. My ma het borskanker. Dit was asof ek in die maag geslaan is. My mamma, my steunpilaar, het ‘n dodelike siekte. En ek voel verraai, want almal weet. Almal behalwe ek. En alhoewel mense vir jou sê hoe jammer hulle is en probeer simpatiek is, weet hulle ook nie eintlik nie. Hul weet nie dat ek haar nie kan verloor nie. Ek kan nie. Nooit nie. Maar veral nie nou nie. Gelukkig kan ek vandag getuig dat sy al vir omtrent 2 jaar kankervry is. Prys die Here! Want Hy is goed.

2018

Ook maar sy ups and downs gehad. Maar ten minste kon boetie harde harte versag en ek het geleer ‘n toe bek is ‘n heel bek. Myself onttrek en so min as moontlik betrokkenheid getoon. Dis nie in my aard nie, maar ek kon net nie weer 2017 oordoen nie.

Oupa het bedlêend geword en is ouetehuis toe.

Ek het my Filadelfia studies se prakties uiteindelik voltooi. Vriendskappe gesmee met mense wat my kan bystaan. Ek het uitgesien na die praktiese sessies sodat ek net weer myself sonder enige tierlantyntjies kan wees en nie op eiers hoef te loop die hele tyd nie. Waar mense verstaan en jou op Christelike wyse kan reghelp en ondersteun en bystaan.

Ek het as agent vir 4akid en Mama Bear begin werk en kon darem so klein bietjie geldjie vir myself ook maak. Net jammer ek gaan nooit kan ryk word daarvan nie.

Die jaar het eintlik goed gegaan tot my man die simpel bevlieging gekry het dat hy Rusland toe wil neuk. En ja, ek is een van daardie vrouens wat glo ek moet my man volg. Ons het ons TEFL kwalifikasies verwerf en woerts is ons Moskou toe. Met ‘n 3 en ‘n 1 jarige. Dit was ‘n ondeurdagte besluit, maar ten minste kan ons nou sê ons weet ons wil NIE weer in Moskou gaan woon nie. Ek sal nog oor ons ervaring ook in diepte gesels maar in kort: stad is heeltemal te besig vir ons gewees; Adi het ongelooflike slegte werksomstandighede gehad; geld was min; ons was arm en dit was maar ‘n moeilike uitstappie met sulke klein kindertjies. Ons was daar van Oktober tot Desember.

2019

Ons is terug plaas toe en probeer aangaan soos tevore. Net heelwat armer. Ons moes vir maande aan ons vliegkaartjies afbetaal en die website waarvoor Adi geskryf het, het gesluit. Finansieel was Moskou ‘n fout. Dit sou natuurlik beter gewees het as ons ons kontrak kon klaarmaak, maar omstandighede het ons maar genoop om na 2 maande terug te keer.

Buiten dat ons nou nie meer elke sent twee keer moes omdraai soos tevore nie, maar drie keer, was 2019 eintlik ‘n lekker jaar. Ek kon gelukkig aangaan met 4akid en moet sê ek is bitter dankbaar vir die geleentheid. Al meer as een keer het net daai ekstra R100 in my bankrekening gehelp dat ‘n debietorder kan deurgaan of dat ek vir Hanna se speelgroepie kon betaal.

Hanna het by ‘n speelgroepie begin en dis asof ek so ook ‘n groepie kon vind by wie ek bietjie aanklank kan vind, al is dit net om te staan en gesels terwyl ons kinders op-of-aflaai.

Ons is vinnig weer Rusland toe. Maar net vir 2 weke om te gaan kyk na ‘n werksaanbod op ‘n plaas. Kinders het by my ouers gaan kuier. Ons het op die ou end die aanbod van die hand gewys na baie wik en weeg en ‘n dag van vas en bid. Meer daaroor in die beloofde Rusland blog wat ek nog moet skryf.  Ten minste kon ons ‘n betaalde “vakansie” uit die deal gekry het.

Ek het 30 geword. En die gedagte maak my depressief. Somehow het ek gedink mens het jou shit bymekaar teen die tyd wat jy 30 slaan. Kom ons staan gou ‘n oomblik stil en lag oor daardie gedagte. Ek voel nog meer deurmekaar as wat ek was in my 20’s!!

Weer het die ouers ons laat skrik. Eers my pa wat byna dood is as gevolg van vuil water wat hy gedrink het en vir ‘n wyle in Potch in die hospitaal was. En toe skoonma wat ook byna dood is en tans nog aansterk in die hospitaal. Genadiglik het die Here hul albei vir ons gespaar.

Een fantastiese ding wat vanjaar gebeur het is ons huwelik wat net meer oemf gekry het. Ek het weer die man terug met wie ek 7 jaar gelede getrou het en ons huwelik is sterker as ooit.

Tog, is ek vanjaar geneig om meer gedurig in depressie te verval. Ek kan nie’n rede daarvoor gee nie. Dit gebeur net. Dalk omdat ek nou 30 is en nie my shit bymekaar het nie. Dalk omdat ek, alhoewel ek nooit liberaal sal wees nie, disgusted is deur sekere ‘konserwatiewes’. Dalk omdat ons so arm soos kerkmuise is. Dalk omdat ek smag na grootmens-geselskap. Dalk omdat terugverlang na Nederland? Dalk omdat ouerskap oorweldigend is al geniet ek dit terselfdertyd? Dalk omdat ek te min vir my ma en pa gaan kuier? Dalk omdat ek nie ‘n sussie het nie? Dalk omdat my flippen honde nie ophou rondloop nie?

Maar verandering is aan die kom. Ek voel dit in my. Dalk ‘n nuwe plek, nuwe land? Dalk doen ek die doula-kursus wat ek so lank dreig om te doen. Tyd sal leer wat die toekoms vir ons inhou. 

 

PS. Sorry vir die boring post. Ek moet nog in oefening kom. Dankie as jy wel tot hier gelees het.

Die ondankbare roeping

Voor ek mamma geword het en my as tuisteskepper bekwaam het, was ek ‘n onderwyseres. Nie vir lank nie. Ses maande in Suid-Afrika, een jaar in Suid-Korea en een jaar in Nederland. Altyd het ek gedink dat onderwys een van die mees ondankbaarste beroepe is. Jy werk jou oor ‘n mik, raak emosioneel betrokke by die kinders en probeer jou bes om vir hulle die beste te lewer. Maar die kinders bly stout, hulle doen nie moeite nie, die ouers trap JOU uit, jy kry crap salaris, mense dink jy werk net halfdag en het boonop mos so baie vakansie.

Maar ek was verkeerd. Die ondankbaarste werk is om ‘n tuisteskepper te wees. Nou dink mense jy het sommer heeltyd vakansie, maar  in werklikheid het jy GEEN vakansie nie. Want kyk, ‘n huis maak homself nie skoon nie, maar klaarblyklik kan hy homself baie vinnig vuil maak. 24/7 is JY aan diens. Geen publieke vakansiedae nie. Saterdae ook nie. Ses maande swanger met ‘n rug so seer dat jy nie eers kan loop nie is steeds nie ‘n goeie verskoning om ‘n blaaskans te kan vat nie. En dalk maaggriep en heelnag opgegooi? Moenie eers dink daaraan om siekverlof in te sit nie…

So soms verlang ek terug na die werksplek, waar ek ten minste die stout kinders in my kop kan vloek en die ouers wat nie hul kinders kan dissiplineer nie in my gedagtes kan judge. Waar ek werklik kan vakansie hou en wel ‘n salaris ontvang. Want daar was ook kinders wat diep in my hart gekruip het, ouers wat my gereeld bedank het. Daar was ook baie lekker gewees en mens het nodig gevoel. Dat jy jou deel vir die samelewing doen.

Vandag is maar een van daai dae. Ek weet die pros om by die huis te bly by my kinders outweigh die cons. Ek weet dit. Ek voel baie bevredig as my hele huis silwerskoon is (die paar keer wat dit gebeur). Ek kry ‘n lekker gevoel as ek die mense se verbasing om hul gesigte sien “het jy nie ‘n ousie nie?”  Soms sê manlief dankie vir die huishouding (hy’s eintlik ‘n baie goeie ou). En al is my dogtertjie hoe klouerig en vereis sy baie aandag, maak al haar soentjies weer op vir dit. Oupa en ouma help ook darem gereeld deur haar bietjie te kom haal vir saamry op die plaas of bietjie daar te kuier. Dus is die voordele baie meer as die nadele. Maar vandag voel dit nie so nie. Deurmekaar huis = 10 Lize = 0. Dalk is more ‘n beter dag.

Iphone Junie 206

Huisvrou, tuisteskepper, huismamma, tuismamma, ousie?

Goeie dag vriende

Jammer dat ek ‘n hele jaar stil was. Maar ja, soos die titel verwys is ek taamlik aan die gang en besig – JAAAAA dit beteken nie ek is heeljaar op vakansie soos wat ek al moes aanhoor nie, maar meer dat ek nou mamma, skoonmaker, kok, tuinier, kinderoppasser handyman (woman?) ensomeer is. Ander huisvrouens sal verstaan… So terloops, ek’t geen issue daarmee om ‘n huisvrou genoem te word nie (in fact, ousie sit my ook nie eers af nie). Tuisteskepper is so ‘n laaaaaaang woord (4 lettergrepe is nodig)!

Vir mammas wat wonder of moet hul na kraamverlof terugkeer werk toe of liewers tuisbly, ek sal dit enige dag aanbeveel MAAR moenie dink dis maklik nie. Jy mis soms jou werk, waar jy nodig gevoel het en jou bydrae meer konkreet kon sien. Niemand sê ooit dankie vir ‘n skoon huis nie, maar laat dit nou lyk of daar ‘n orkaan deur is (Orkaan-Hanna in my geval), dan sien almal dit raak! Dis ‘n alleen werk en jy mis grootmens geselskap. BAIE! Onthou, al jou vriendinne werk mos nog. Jy word mal as jy vir die twintigste keer die dag dieselfde kinderliedjie oor en oor en oor moet luister. Jy dink jy gaan gou skoonmaak of dit of dat gaan doen sodra liefkindjie ‘n slapie vat. Hahahahahaha! Nee ou tjom, dan rus jy eers, kyk gou wat op Facebook aangaan en drink gou koffie wat nog nie koud geword het nie. En dan is slapietyd ook verby. En ja, jy sal nie so dink nie, maar ek het werklik minder tyd beskikbaar as wat ek ooit gehad het as werkende.

Maar…. ek is heeltyd by my kind. Ek kon al haar eerstes beleef. Haar eerste omrol, eerste uit die maag uit lag, eerste tree, eerste keer hoor hoe sy “Heidi” sing. As sy val en huil (gebeur nie baie met ‘n wille wragtag nie – ek bedoel nou die huil gedeelte, sy val baie), dan is dit EK wat haar troos. As sy iets kerm of brabbel, dan verstaan ek. Want ek ken my kind. Ek ken haar behoeftes en begeertes. EK het al hierdie voorregte. Nie die dagmoeder of kinderoppasser of bediende nie. EK. En vir hierdie voorreg verruil ek niks van die bogenoemde “nadele” nie.

Ek hoop om in volgende blogs waarvoor jul hopelik nie ‘n hele jaar voor hoef te wag nie, bietjie wenke te gee hoe om sonder ‘n bediende klaar te kom asook hoe om geld te spaar aangesien tuisblymammas nie juis ‘n salaris meer huistoe bring nie. Hou die blog dop!

Mei 2017 Iphone 166

Niemand neem foto’s van mammas met hul kindersnie. Selfies sal maar moet doen!

Handig om te hê babagoedjies

Omdat ek nou soveel vriendinne het wat tans swanger is, het ek besluit om ‘n blog te skryf oor die dinge wat ek as onmisbaar gevind het in die eerste 5 maande van Hanna se lewe. Dan kan hul sommer hier loer en hoef dit nie te voel of ek beterweterig heeltyd wil raad gee nie. Ek hoop sommer dit kan dalk help vir diegene wat wonder wat hul kan koop vir ooievaarstees. Ook sommer om te noem watter goed oorbodig is. Omdat ons die eerste 6 maande oorsee bly, het ons eintlik baie minimalisties klaargekom, tog het ek steeds ‘n wenslysie vir sodra ons weer in SA is of selfs vir die volgende kindertjies wat dalk mag kom.

  1. Meubels: Die eerste jaar het die baba regtig nie eers ‘n kamer nodig nie. Veral aangesien mens in die aande ook moet voed, is dit soms net eenvoudig makliker as baba by jou in die kamer slaap. Dis natuurlik seker wel lekker om alreeds ‘n ingerigte kamer te hê. Maar as jy bv net ‘n een-slaapkamer huis of woonstel het wanneer jy swanger raak, hoef jy jouself nie op te stres en te voel jy moet onmiddelik trek na ‘n groter plek nie. Hanna slaap op die oomblik in ‘n ou stootwaentjie se “carry cot” gedeelte langs ons bed. Die waentjie was in die begin gerieflik omdat ons haar dan orals elders in die huis kon stoot. Hy raak nou ongelukkig bietjie klein vir haar en ek kan agter kom dat sy nie meer so gemaklik slaap nie omdat sy graag wil omrol ens. Iets wat definitief op my wenslysie is vir ‘n volgende kind, is ‘n co-sleeper. Dit is soos ‘n kleiner kot, maar die een kant is heeltemal oop en sluit aan by jou bed. Op Pinterest is daar nogals baie foto’s van co-sleepers en ook hoe om self een te maak. Nog iets wat mens ook sal moet hê is ‘n spasie om baba op skoon te maak. Dit hoef nie per sé ‘n commode te wees nie, enige laaikas wat genoeg plek bo-op het vir die ruil-matrassie sal kan doen. Ons het ook ‘n ekstra ruil-matrassie langs die bed waar ons sommer die volgende oggend haar doek ruil op die bed as ons nog te lui is om heeltemal op te staan.
  2. Borsvoeding: Lansinoh tepelsalf! Koop dit, dit is nodig veral in die begin. Rooibostee – deur gehidreër te wees, gaan jou melkproduksie ook hoog hou. Neem in ag dat rooibostee die opname van yster wel kan belemmer, so moenie te veel drink as jy dalk baie bloed verlies het met die geboorte nie. ‘n Waterbottel langs jou bed is ook noodsaaklik. Mens raak DORS! Anys help ook vir melkproduksie, so gebruik dit sommer as ‘n lekker verskoning hoekom die tannies vir jou beskuit kan bak! Ek sal ‘n borspomp ook aan beveel, selfs al beplan jy nie om terug te gaan werk toe nie. Dit kom baie handig te pas vir die onvoorsiene kere wat jy sonder baba êrens heen moet gaan, of in die begin as mens so oorvol is en bietjie verligting moet bring. Voedingsbra’s en voedingsklere is vir my super handig. Sommige mense mag dalk sê dat dit onnodig is, maar dit maak vir seker my lewe makliker. Die toppies help jou om diskreet in die publiek te kan borsvoed. Ek is all about publieke borsvoeding, so self gebruik ek nie ‘n cover nie (my baba haat dit en ons sukkel 10x meer as sonder dit), maar as jy te skaam is, is dit ook vir seker iets om op jou lysie te sit. Dit is baie maklik om een te maak ook. Vat ‘n stuk materiaal (dink amper aan ‘n tafel loper), vou in die helfte en stik dan die lang kante toe. Los by die een kant net ongeveer 25cm opening vir jou kop om deur te pas. As jy dit dan aantrek, gaan dit basies soos ‘n poncho aan jou hang en is perfek vir ‘n borsvoed cover. Materiaal soogkompresse (breastpads) is ook baie gemakliker as die weggooi-soort. Dit skuif nie so rond nie en mens kan dit oor en oor gebruik. Die meeste het ‘n 11cm deursneë. As jy baie lek, beveel ek aan om te soek vir die met 13cm deursnit. Dit maak nogals ‘n groot verskil. ‘n Voedingskussing is ook super handig. Ek het sommer twee, een vir die kamer en een vir in die sitkamer.

    Iphone Junie 2016 045

    Met die borsvoedingstoppie is byna niks sigbaar as mens jou babatjie in die publiek wil voed nie. 

  3. Ontvangskombersies. Dit is die wonderlikste goed. Soveel gebruike! Ek gebruik myne as kombersie, doek (baie absorberend!) en handdoek – soveel sagter vir die ou babavelletjies as ‘n regte handdoek. Ook kan mens dit in kleiner stukkies van 10x10cm knip en omsoom en as wasbare wet wipes gebruik. Jy los klapperolie in kookwater op, gooi so 2 druppels baba-seep in en sit die wipes in. Dit spaar BAIE geld – babas gaan deur wetwipes met ‘n stink spoed (pun intended) en ek vind dat die materiaal wipes baie meer effektief is as die wetwipes. Wetwipes is natuurlik ook super welkom vir ‘n ooievaarstee. Iets waarvan mens nooit te veel kan hê nie.
  4. Doeke: Seker obvious dat mens dit nodig het. Volgens ‘n vinnige google search blyk dit dat mens tussen 3000 en 5000 doeke benodig in die eerste jaar. Dws ‘n shitload (pun intended). Dus is dit baie handig as jy doeke present kry vir jou ooievaarstee. Ek sal mense wel aanmoedig om ook liewers groter doeke te koop. Dit help nie die mamma het tien pakke nommer 1 doeke, maar niks nommer 3’s nie. Oorweeg ook lapdoeke. Ek gebruik slegs lapdoeke op my dogtertjie. Natuurlik handig om weggooidoeke in die huis te hê vir noodgevalle ook. Mens kan old-school voudoeke gebruik (soos vroeër genoem werk ontvangskombersies wonderlik) of mens kan van die nuwe moderne lapdoeke koop. Mens het so 20 nodig. Dit mag op een slag dalk vreeslik duur lyk, maar op die ou end werk dit by verre goedkoper uit. So teen die einde van elke maand is ek darem bitter bly ek hoef nie nog doeke en poeiermelk ook te koop nie.
  5. Klere. Newborn kleertjies is cute, maar almal koop dit vir ooievaars. Ek stel voor mamma koop glad nie kleertjies tot na die ooievaarstee nie, dan kan sy eers kyk wat sy nog nodig het. As jy kleertjies vir ‘n tee koop, probeer ook kyk vir groter nommers wat later vir babatjie kan pas. Tips: Moenie by Jet koop nie, hul kwaliteit is ***. Ek’t ‘n verskeidenheid kleertjies van ma en skoonma gekry van PEP, Ackermans en Jet. Omtrent al die Jet kleertjies het probleme. Of dit is swak gestik, of die kleur was sommer vinnig uit of dit sit net eenvoudig nie mooi nie. Iphone Mei 2016 232Met rompers – probeer vir die wat so oorslaan en vasknip in plaas van die wat jy oor die kop moet aantrek – pasgeborenes HAAT dit. Kyk ook dat jy glad nie kleertjies met ‘n kraag vir pasgeborenes koop nie – dit skuur teen hul wangetjies en hul drink refleks maak dan dat hul die heeltyd tietie soek.
  6. Bad-tyd en versorgingsprodukte. Omdat ons nie ‘n bad het nie, moes ons noodgedwonge ‘n baba-badjie ook koop. Maar teen 5 maande lyk dit ook al bietjie te klein te wees, so as ons terug in SA is gaan ons sommer in die groot bad bad. Mens het ook glad nie al hierdie baie baba-produkte nodig nie. Poeier is die grootste onnodigheid ook en is glad nie gesond nie. Seep hoef mens ook net eintlik te gebruik as baba nou regtig egtig vuil geword het. Water is meestal genoeg. Boudjieroom hoef ook nie elke keer gebruik te word nie. Net as daar rooi boudjies is.
  7. ‘n Goeie waentjie.
  8. Kar-stoeltjie
  9. Nagliggie. ‘n Vriend het vir ons as geskenk gegee toe hulle kom baba kyk het. Prys die Here daarvoor. Nou as sy wakker word of kerm in die nag hoef ek net die liggie aan te sit. Dis dowwer as ‘n gewone lig, so maak nie vir pappa wakker nie, maar gee genoeg lig dat ek kan sien wat ek doen. Omdat hy by die bed is hoef ek ook nie uit te klim om ‘n lig te gaan aansit nie.
  10. Fopspeen. Okay, dis ‘n kontroversiële onderwerp. Sommige mense sal sê dis die duiwel. Wel, in my opinie moet hul dan hul skreeuende kind geniet. Dummy was vir my ‘n lewensredder. As baba ontsteld is, is daar min dinge wat hul so vinnig kalmeer soos om dummy te suig. ‘n Lintjie om seker te maak hy verloor nie is ook super handig.
    Iphone Mei 2016 118

    Dummy met lintjie

     

  11. Speelgoed: Speelmat. Vanaf 2 maande het sy baie geniet om op haar rug te lê op die speelmat en met die goedjies te speel bo haar kop. Noudat sy ouer word geniet sy weer die speelmat om op haar magie te lê en te probeer kruip.

    Kraakboekie. Dis ‘n sagte bababoekie met prentjies, maar die bladsye kraak – amper asof daar chips papier tussen-in sit. Hanna love dit! Iets wat vir my weer bietjie onnodig was, is hierdie speelgoed om aan die stootwaentjie te sit. Sussie stel glad nie daarin belang nie. Dis vir haar soveel lekkerder om sommer buitentoe te kyk vir almal en andersins slaap sy.

  12. Spoegdoeke. Sommer baie! Ek hou nogals van moeseliendoeke. Ook baie veelsydig. Soms gebruik ek dit as doek, soms handdoek en soms spoegdoek. Sussie hou ook daarvan om met ‘n moeseliendoekie aan die slaap te raak. Sy vryf dit so teen haar wangetjies.
  13. Borslappe. Ek hou baie van hierdie driehoekie tipe borslappe. Dis nie so groot nie, so dit oordonner nie die skattige kleertjies nie, maar is genoeg om enige spoeg op te vang.
  14. Romper-verlengers. Dit is so 5cm lange stukkie materiaal met drukknopies aan beide kante. Werk uitstekend veral met die lapdoeke waar die boudjies bietjie groter is, maar selfs sonder lapdoeke gee dit jou rompers so ‘n klein bietjie langer lewe.
  15. ‘n Inkopie-net vir jou waentjie. As jy beplan om met die stootwaentjie te gaan inkopies doen is die ‘n moet. Dit hak aan jou waentjie was en jy sit jou inkopies daarin soos jy shop. Baie makliker as wat jy nog ‘n inkopie trollie of mandjie ook moet stoot/dra.
  16. Swem-doek. Ons dra een onder die swembroekie om “embaressing” poo-namis in die swembad te keer. Ek persoonlik gril vir die weggooi soort – maar dit kan dalk wees omdat ek regtig ‘n afkeer in die weggooidoeke en hoe hul die omgewing opmors het. Baie van die webtuistes wat moderne lapdoeke verkoop, het ook swemdoeke.Iphone Junie 2016 029

Soos wat sy ouer raak sal ek seker nog meer bewus raak van watter dinge goed vir ons werk en watter nie.

Oulike website om ‘n ooievaarstee register te maak met die dinge wat jy graag sal wil hê is gifster. Nog ‘n oulike website is mealtrain. Dit is vir net na baba se geboorte. Laat jou vriendinne en kerktannies invul watter dae hul sal sorg vir kos vir jou. Ek sou sê dit sal baie handig wees en dit kan ook dien as iemand se ooievaarstee geskenk.

As enige mammas my blog lees – comment asb met die onmisbare dinge vir jul. So kan ons ander voornemende mammas help.

Geboorte van ‘n wonderwerk

In my vorige post het ek kortliks vertel van die verloop van my swangerskap. Hier volg die geboorteverhaal van ons babatjie.

Ten spyte van almal wat voorspel het dat baba vroeg gaan kom, het baba besluit sy is nie haastig nie. Ek onthou nog hoe miserabel ek gevoel het. Ek’t nog vir Adi gesê die laaste maand voel nie so lank omdat jy noodwendig opgewonde is nie, maar omdat jy so vrekken ongemaklik is. Ek moes letterlik momentum opbou deur te wieg voor ek kon opstaan. Hoe doen vet mense dit ELKE dag?? My niggie Elmien het nog gewhatsapp en gesê ek moet net chill en die aftyd geniet…skeer jou beenhare of iets….bahahaha! Vinnig agtergekom hoe onmoontlik haar voorstel is.

12650930_10153862274728476_8397930063984170908_n

Sussie se “due date” was 31 Januarie en so het ons familie ook ‘n familielid ryker geword. Behalwe dat dit Johan was wat sy opwagting gemaak het en sussie besluit het sy broei nog bietjie langer. Ek’t my bes probeer om bly te wees vir hulle, haha!

Ek’t vreeslik probeer om dit aan te help…weet nie of dit enigsins gewerk het nie, maar het pynappels verorber, op die bal gewieg en dat Adi my enkels so hard as wat hy kan masseer.

Die oggend 7 uur op 2 Februarie het ek wakker geskrik met iets soos ligte kriewels. Dadelik vir Adi wakker gemaak en gesê “shit’s getting real.” As ek net kon weet HOE real dit bietjie later kon word. Ons het 10am ‘n afspraak by die vroedvrou gehad, maar sy het dit afgelag en gesê dit kan nog dae duur. Als was nog goed met baba en geskatte geboortegewig 2,7kg. Een kleine babytje! Heeldag deur het niks juis verander nie, so ek’t ook maar begin glo dit gaan nog dae duur.

So teen die aand se kant het dinge begin intense raak. 10pm bel ons die vroedvrou want ons reken dit raak nou tyd. Sy kom kyk – geen ontsluiting. “Neem een paracetamolletje en gaan naar bed. Ik kom in de ochtend langs.” Weet die vroumens dat parasetamol nie eers vir hoofpyn help nie??? Volgens haar sou dit nog maklik 8-12 uur geneem het voor daar regtig kraam is.

Middernag toe kry ek skielik hierdie gevoel wat my lyf self druk en meteens swem ek en Adi in die bed van my water wat gebreek het. Ek’t nooit gedink daar is só baie water nie! Toe raak shit regtig bietjie real. Kontraksies sonder ruskans. Adi bel die vroedvrou. Sy wil weet of die water helder is en of dit ‘n kleur het. Dis helder. “Gaat gewoon weer slapen, ik kom dan in de ochtend langs.” WTF???

Ek’t maar in die stort gaan staan, bed skoon oorgetrek en weer probeer slaap. My liewe man het darem probeer masseer en saam my die asemhalingstegnieke gedoen wat ons in die kursus geleer het toe ek opeens die drang kry om te druk. Dis iets wat mens nie regtig kan beskryf nie. Jou liggaam doen dit net vanself. Die beste beskrywing wat ek al daarvan gehoor het, is dat dit is soos om op te gooi. Maar na onder toe. Jy kan dit nie keer nie, dit gebeur net.

Nou ek puff toe maar om die druk te probeer keer want ek’t al gehoor mens moenie druk as jy dalk nie reg is nie. Adi bel weer die vroedvrou. Sy dink net ek weet nie hoe “egte kontraksies” voel nie, dus glo sy nie ek het persdrang nie. Vra hom so ewe “moet ik langskomen?” Ja flippen vroumens en roer jou &^&*#^$&# gat!!! Natuurlik dink sy ek’s net ‘n stupid buitelander wat nie die Nederlandse manier van geboorte gewoond is nie. Sy stuur toe die “trainee” om te kom kyk.

Toe die vroedvrou in opleiding hier aankom, rek haar oë so groot soos pierings, want sowaar, ek het persdrang!! Maar ek sê mos so…. <rol my oë>

Gou is vroedvrou gebel en ingelig dat dit regtig so is. Sy’t eventually hier aangekom en ook besef ek is TEN VOLLE ontsluit en dat ons moet moooooove!

Nou ons het nie ‘n kar nie. Die vroedvrouens mag wettelik ons ook nie in hul kar vervoer hospitaal toe nie. Daarom het ons met twee mense in ons area gereël dat ons op hul knoppie kan druk op D-day. Soos die noodlot dit wou hê, is die een persoon uitstedig en die ander een se kar gebreek! Gelukkig was die taxi wat ons toe gebel het binne 5 minute hier. As ek nou terugdink wonder ek of ek nie net sommer by die huis moes kraam toe nie. Ek’t nogals gemengde gevoelens daaroor – dink dit sal my vir seker baie stres gespaar het. Maar medies was die hospitaal dalk beter…

Ek puff nog die heeltyd. Maar omdat die geboorteproses so vinnig ge-eskaleer het, het ek van ligte asemhalingsoefeninge dadelik oorgeslaan na puff. Waar Adi dadelik vir my sê: jy’t daardie en daardie en daardie geskip. Ek onthou nog hoe ek vir hom gesê het sharrap en bid Adi!!

Toe ons by die hospitaal kom  en ek op die bed is, moes ek dadelik met die volgende kontraksie begin druk (geen tyd vir baddens tap en CD’s opsit en sulke dinge nie). En sommer so sien ons al die koppie ook met die eerste probeerslag. Tussen elke kontraksie het die vroedvrou ook die hartklop geluister. Ek’s gewaarsku die hartklop kan verswak en dat ek nie moet skrik nie aangesien dit normaal is. Die hartklop het nooit swakker geraak nie – toe sê die vroedvrou sy voorspel ‘n meisiekind. Net meisiekinders wat so sterk is. Ons het natuurlik mos nie geweet wat die geslag is nie. Op ‘n tyd het al die kontraksies net opgehou. Seker omdat ek dit so lank moes terug hou. Dit was regtig sleg want die kontraksies help mens. Ek was regtig regtig moeg. Net vir Adi heeltyd gesê hy beter bid want ek’t niks krag oor nie. Toe die vroedvrou sê sy sal moet knip en tang gebruik as ek nie self vir baba uitkry nie, het ek maar al die reserwes saamgeskraap en gedruk vir ‘n vale!

Een minuut na 3 is Hanna Catharina al skreeuende gebore. Ek was so uitgeput, die verloskundige moes vir my skree “maak oop jou oë, kyk jou baba!” Hulle het haar op my bors neergesit en ek’t soos ‘n tierwyf gekyk dat hul NIE die koord sny nie. Met al die voordele verbonde aan delayed chord clamping, was dit iets wat ek baie graag wou doen. Na so paar sekondes het ek geloer of dit ‘n meisje of jongetje is. Meisje!! Adi se eerste woorde aan haar was “Hello Hanna!” Ek kan glad nie onthou wat my woorde aan haar was nie. Ek onthou wel my eerste gedagte was “klein babytje se dinges. Jy’s g’n niks klein nie!!”

Sy was ook nie klein nie en het die skaal laat trek met ‘n stewige 3,8 kilogram. Die vroedvrou wou dadelik weet waar het ek haar weggesteek aangesien ek nie eers so swaar gedra het nie.

Dadelik is ek en Adi ook bederf met beschuit met pienk muisjes. Dit is sulke pienk sprinkles van anys wat tradisioneel geëet word as ‘n babatjie in Nederland gebore word. Daar’s ook bloues vir as jy ‘n seuntjie kry. Dit bevorder glo melkproduksie.

DSCF7875

Nadat die koord geknip is (na hy uitgeklop het) en die plasenta ook uit is, het ek egter aan die bloei gegaan. Nie bietjie nie, BAIE! Dit het gemaak dat ek nie die beplande eerste uur vel-tot-vol kontak kon doen nie en moes liefste pappa Adi namens mamma dit doen. Uit met jouw shirt, papa! Het die verpleegster hom beveel en kon hy die voorreg geniet om vir twee uur lank met sussie op sy bors te lê.

DSCF7878

Ek het 2 liter bloed verloor, dus was die ginekoloog en meer verpleegsters ontbied. Ek’t drup ontvang en moes ook geheg word. ‘n Bloedoortapping is oorweeg, maar word altyd as laaste uitweg gedoen omdat dit baie risikos het. Gelukkig was dit nie nodig nie. Dit het gevoel soos ‘n ewigheid. Iphone Febr 16 050Uiteindelik na 2 ure kon ek my meisiekind vashou en melkies gee. Amazing hoe jou liggaam sommer vanself weet wat moet gebeur.

DSCF7870

Toe kon ons ook die familie in kennis stel. Nie een van die Schlebusch grootouers tel hul fone op nie! Toevallig kry Adi ‘n sms van sy sussie af en bel haar sommer. Sy was gelukkig op die plaas by sy ouers ook gewees. Ek onthou nog hoe sy geskree het “wat!!!!!” en hoe vinnig ons vir ma Annemarie in die agtergrond gehoor move het toe sy twee en twee bymekaarsit dat iets gebeur het. Daarna is die Groblers gebel. Gelukkig nog vroeg genoeg voor almal werk toe is. Arme pa Reint het getjank dat selfs die bure hom seker kon hoor. Trane van blydskap natuurlik en toe tjank ons ook sommer lekker saam. Cornelis was ongelukkig al in die myn gewees, maar die oomblik wat hy bo-grond was en die boodskap gekry het, het hy ons ook dadelik gebel. Kon sommer hoor die oom staan met sy bors ver uitgestoot oor die kleinding wat hy tot in die afgrond in gaan bederf se geboorte! Mamma het ook vir oupa Cor gebel – pappa was te emosioneel, kon nie ‘n woord uitkry nie!

Iphone Febr 16 035

Toe al die naaste familie ingelig is, het ons die res van ons familie en vriendekring met ‘n whatsapp berig in kennis gestel en later is die nuus ook op Facebook bekend gemaak. Uiteindelik kon ek slaap!

Ek kon nie soos die ander vrouens na 2 uur huistoe kom nie en moes in die hospitaal oorbly om gemonitor te word. Ook maar goed! Die aand het sussie baie vinnig en vlak asem gehaal en is sy na die NICU geneem vir waarneming. Scans van haar longe en hartmonitor het darem gesê sy is okay en die asemhaling was glo net ‘n nagevolg van ‘n traumatiese geboorte. Pappa het toe by sussie gewaak tot sy weer na mamma teruggebring is.

Op die ou end moes ek 3 nagte in die hospitaal bly en moes hul my ook ‘n skraap gee omdat dit geblyk het daar plasentareste agtergebly het. Ek’t een keer flou geval en vir arme Adi amper ‘n hartaanval gegee. My liewe liewe man. Die eerste maand was ek maar flou kole gewees – letterlik useless gewees en ek’s dankbaar vir die kraamzorg in Nederland (‘n kraamverpleegster wat jou die eerste 8 dae na die geboorte kom help by die huis) en ook dat skoonma kom uithelp het. Tydens daardie eerste maand het ek gedink ek was okay, maar nou in hindsight, besef ek dat ek glad nie okay was nie. Ek moes eintlik glad nie eers uit die bed opgestaan het nie!

Ouma Annemarie

Nou ja. Ek’s bly ek was in ‘n hospitaal toe ek so bloed verloor het. Tog kan ek nie help om te wonder as die proses vroeër tuis kon begin en ek nie so moes terughou nie, dit dalk juis minder bloedverlies sou wees nie? Seker iets wat ek nooit sal weet nie. In Nederland is ek nou as medium-risiko geklassifiseer. Ek mag nog deur ‘n vroedvrou werk, maar mag nie tuisgeboorte doen nie en daar moet ‘n ginekoloog op stand-by wees wanneer ek gaan kraam. Boeties en sussies sal seker in Suid-Afrika gebore word. Daar is dit standaard om in die hospitaal te kraam. Ek hoop maar vir ‘n goeie vroedvrou daar en vir die moontlikheid van ‘n badbevalling. Maar vir eers, gaan ek met hierdie pragtige kind van my speel. Cheers vir eers!

 

 

‘n Nuwe lewe

Na ‘n heerlike Griekse vakansie het ons op 31 Mei 2015 TWEE strepies gesien!!! 11745495_10153470755383476_6413621172838240435_n

Na ‘n baie lang ruk wat ons al lankal ‘n babatjie wou hê, is ek uiteindelik swanger. Na ons self eers oor die opgewondenheid/ skok gekom het, is die oumas en oupas ook ingelig. Pa Jann het met sy nugtere manier ons geluk gewens terwyl ma Annemarie haar stom geskrik het. By die Groblers was dit groot vreugde en ek’s seker pa Reint het ‘n traan gepik.

swanger!

Die Here het my regtig geseën met ‘n fantastiese swangerskap. Ja, die normale goed was daar – bietjie naar in die begin, baie sooibrand aan die einde. En ook het ek allergies geraak vir Pringles en Kersbome. My enigste craving was bier – ek drink nie bier nie. Halleluja vir alkoholvrye bier! Ek’t selfs 2 sulke biere in my welkom pakket gekry by die verloskundiges, so ek neem aan ek’s nie die enigste een met hierdie begeerte nie.

Ek het net twee sonars laat doen – die twee wat standaard gedoen word. Vir twee redes – 1. Ons medies betaal net die twee en nie vir “pret-echos” nie en 2. het ek al gehoor dat dit nie so goed vir die baba is om sonars te doen nie. Liewers safe than sorry!

Met die 10-weke sonar kon ons al die perfekte klein babatjie sien. Sy het geslaap, maar die sonar-tegnikus (is daar ‘n meer formele woord?) het haar gou wakker gemaak – dis was amazing! Armpies en beentjies wat skop. So klein, maar ‘n MENS! Ons kon ook sien hoe die hartjie klop. Later by die vroedvrou kon ons ook die hartjie met die doppler hoor. So regte perde-galop! Toe die vroedvrou hoor dat ons Christene is, toe noem sy ook “so julle sal seker nie die combi-test (Down sindroom) dan wil laat doen nie?” Nee dankie, ons is lief vir ons baba soos die Here hom of haar vir ons gee! Ek’t sommer daar en dan my Schreew om Leven modelletjie van ‘n 10-weke babatjie uitgehaal en vir haar gewys. Sy wou dadelik weet waar ek dit kry. Sy was nie vreeslik in haar skik toe sy hoor dis van ‘n pro-lewe organisasie nie… dis regtig raar dat mense wat elke dag babatjies in die wêreld bring en WEET dis ‘n mensie, dan so pro-choice kan wees…  Ons is nog dieselfde dag Amerika toe vir ‘n maand. Baie opwinding vir een dag!!

collage 11-15

Met die 20-weke sonar het hul ook gekyk vir afwykings. Baie mense (veral konserwatiewe Christene) doen glad nie hierdie sonar nie omdat hul meen dat dit tot baie aborsies lei indien daar ‘n afwyking gevind word. Ek sal nooit ‘n aborsie doen nie, maar het in hierdie geval gevoel dat daar afwykings opgespoor kan word waaraan daar dalk in die baarmoeder of kort na geboorte iets gedoen kan word. Veral toe van ons vriende rond dieselfde tyd gehoor het hul babatjie se organe ontwikkel buite sy lyfie en dat hy as gevolg daarvan met ‘n keisersnit gebore moet word en operasies ens moes kry, het ek gevoel hierdie sonar kan nogals belangrik wees. En natuurlik was ek ook baie nuuskierig om weer ons babatjie te sien. Ek was egter nie nuuskierig genoeg om die geslag uit te vind nie en het besluit dat dit met die geboorte ‘n verrassing moet wees. Adi wou egter weet en die dokter het hom gesê nadat ek uit die kamer is. Al het ek nie ‘n probleem daarmee gehad nie, het dit my vreeslik ontstel dat hy geweet het. Seker maar deel van die swangerskapshormone, maar ek’t seker die hele volgende week gehuil daaroor. Arme Adi het so sleg gevoel oor sy nuuskierigheid. En eintlik het hy niks verkeerds gedoen nie. Ons het wel besluit om met volgende swangerskappe óf albei te weet óf albei nie te weet nie. Ek moet regtig vir Adi krediet gee – hy’t nooit laat val wat die geslag is nie en lekker met my kop gesmokkel. Ook het hy vir niemand vertel nie. Nie eers vir sy ouers óf sy beste vriend, Van Heerden, nie. Well done!

Om nie die geslag te weet nie, het my geld gespaar – dink net hoeveel oulike rokkies sou ek gekoop het as ek geweet het dis ‘n dogtertjie! Dis al wanneer ek gewens het ek weet – as ek in die winkels was en die mooiste kleertjies sien. Neutrale klere is soooo vervelig en meeste lyk meer seuntjie in elkgeval. Heimlik het ek gehoop vir ‘n dogtertjie, ek dink ek’s nogals meer ‘n dogtertjie-ma en dit het my nogals baie skuldig laat voel. Ek wonder soms of ander ma’s ook soms ‘n voorkeur het en dit dalk net nie sê nie… Gelukkig het ek my dogtertjie gekry! Was dit ‘n seuntjie, dink ek inelkgeval ek sou net so lief vir hom gewees het. Ek het wel elke ouvroustorie in die boek uitprobeer om die geslag te toets. Dogtertjie is voorspel – so dalk sit daar tog ‘n tikkie waarheid in.

DSCF7815

Vrese is ook altyd daar. Die eerste 12 weke is jy sooooo bang vir ‘n miskraam – veral as soveel van die mense wat jy ken miskrame kry (verbeel ek my, of is dit meer algemeen as vroeër)? Dan aan die einde sal daar mos randomly artikels van Baba-en-kleuter of baby centre op jou Facebook Newsfeed op-pop wat gaan oor babatjies wat doodgebore is. Dit het my totaal uitgefreak en ek het angstig vir elke ondersoek by die vroedvrou gewag net sodat ek weer die hartklop kon hoor.

Tydens my swangerskap het ek ook ‘n professionele navorser geword. Skielik begin mens ALS navors wat met jou baba te doen het. Inentings, delayed chord clamping, borsvoeding, natuurlike geboorte (tot Youtube videos gekyk – dit het my nogals gerus gestel dat dit nie so erg is nie), lapdoeke, hospitale, tuisgeboorte, badbevalling, noem maar op!

collage boep

Op die ou end het ek nie nodig gehad om enige newborn tot 6 maande klere te koop nie. Oulike vriendinne met kinders het van hul klere vir my gegee of geleen en die oumas het ook nie op hulle laat wag om klere te koop nie. Ma Annemarie se tas het meer babaklere ingehad as enigiets anders. Ma Annarie was weer so seker dis ‘n dogtertjie dat ons ‘n pakkie met nét pienk klere ook gekry het. My vriendin Jo-Retha was ook so gaaf om vir my ‘n ooievaarstee te reël. Buiten my liewe werkgewers, het geen Nederlander opgedaag nie, maar net Suid-Afrikaners en Asiërs. Die klomp Nederlanders het net gesê hulle “doen nie dinge so nie.” Die een oom het tot vir Adi gebel en geraas dat hy so iets toelaat. Weird mense, hierdie Nederlanders…

Ons enigste uitgawe was die swangerskap fotosessie. Elke sent werd gewees!

 

Ons dogtertjie is toe op 3 Februarie 2016 gebore, 3 dae na haar uitgerekende datum. ‘n Dag na ouma Annemarie se verjaarsdag en ‘n dag voor pappa Adi s’n. Sy wou duidelik haar eie verjaarsdag gehad het. Sy verjaar wel saam tannie Ronelle, wat ook tel as ‘n semi-ouma!  Meer oor haar geboorte skryf ek in ‘n nuwe post!

Hoe was mens lapdoeke?

Wat as die baba poef??? Hoe was jy dan daardie doek? Dis seker die eerste vraag wat ek kry as mense hoor ek lapdoek. Kyk, poenami is ‘n groter horror-storie as ‘n tsunami sou vele meen. In hierdie blog as deel van my reeks oor die lapdoeke vir die #flatschallenge2016 sal ek dan my wasroetine verduidelik.

Deel van die #flatschallenge is ook die #handwashchallenge hierdie week. Na 5 dae kan ek jou dan ook waarborg dat mens lapdoeke kan doen, al besit jy nie ‘n wasmasjien nie. Mens KAN, dit beteken nie noodwendig ek hou daarvan nie. In teendeel ek haat die handwas deel veral met hierdie poep-weer (see what I did) in Nederland.

My wasroetine as ek handwas:

My was-emmer

Elke oggend sodra ek sussie se nagdoek afgehaal het, dan tap ek water by die emmer vol doeke sodat die meeste piepie bietjie kan uitwas. Ek gooi ook so 2 druppels Tea tree oil in met die hoop dat dit bietjie meer higiënies is (of dit werk, weet ek nie, maar dit hou my hart rustig). Ek laat dit dan so bietjie soak tot sussie weer ‘n slapie vat. Ek gooi dan die hele emmer weer uit in die stort en droog die doeke uit. Dan weer terug in die emmer met ‘n lepel waspoeier dan maak ek hom weer vol. Ek laat staan dit dan so 2 minute en dan maak ek die stort se dreineringsgat toe en keer die emmer om. Dan skrop ek so oor my hande die doeke soos wat Maria my nog geleer het daar op die plaas in die waskamer doen. Weer droog ek als uit en terug in die emmer wat ek weer vol water maak vir afspoel. As ek tevrede is dat dit mooi afgespoel is, dan droog ek als uit en gaan hang op. That’s it! PS. Vir poefdoeke sit ek ‘n fleece-liner in die doek. Ek was hom dan net uit sommer in die toilet voor ek dit by die res van die doeke in die emmer gooi tot ek was.

My wasroetine as ek die wasmasjien gebruik.

Ek volg dieselfde protokol met poefdoeke as wat ek met die handwas ook volg. Al die doeke bewaar ek in ‘n droë emmer met gaatjies (niks geweek in steri nappi en daardie goed van lank gelede nie). Ek was so elke derde dag. Eers sit ek die doeke op ‘n kort siklus of voorwas in die masjien om dit te spoel. Ek gooi so paar druppels tea tree oil in die bakkie. Dit is om die ergste piepie uit te was.

Na die voorwas sit ek nog wasgoed by as daar nog plek in die trommel is. Ek sit dan die masjien op die lang siklus en ek gooi die nodige waspoeier in die bakkie. GEEN versagter nie! As dit klaar is doen ek soms nog ‘n ekstra spoel en spin. Dan hang ek dit op. NOG makliker!

Sien, niks te bevrees nie!!!

Die flats-and-handwash challenge 2016 is ‘n inisiatief van The Dirty Diaper Laundry.

 

#Flatschallenge2016 Dag 1: Hoekom ek besluit het om aan die uitdaging deel te neem

Dag 1: Hoekom ek besluit het om aan die uitdaging deel te neem:

Vandat ek swanger is en in Amerika die eerste keer met die moderne lapdoeke te doen gekry het soos wat ek in ‘n vorige post genoem het, het ek verlief geraak op die idee om lapdoeke te gebruik.

Al het ek nou ook moderne fluff, is daar tog steeds iets lekkers aan die regte outydse doeke wat mens nog moet vou en met ‘n snappi vasmaak. ‘n Spoegdoek het my al uit ‘n penarie gehelp (nie regtig nie – ek het weggooidoek ook gehad, maar wil dit nie gebruik as dit nie régtig nodig is nie) toe sussie in die stad besluit het om al die moderne doeke te bevuil.

Ek’t by die SACNU Facebook groep basies deel geraak van ‘n gemeenskap. Daar kan mens oor jou lapdoek-liefde praat met ander mammas wat jou passie deel sonder dat enigiemand dink jy’s ‘n weirdo. Dis dan ook hier waar ek van die uitdaging gehoor het en natuurlik kan ek nou nie die enigste loser in hierdie gemeenskap wees wat te pissie vir so uitdaging is nie. Dus, doen ek dit omdat dit die ‘in-ding’ is, lol!

Ander redes hoekom ek die challenge doen:

Ek’s heeldag by die huis en alhoewel ek baie het wat gedoen moet word (hoor ek die skottelgoed roep??? Joke net, ek was nie skottelgoed nie), kort mens soms iets anders om jou ook mee besig te hou.

Alhoewel ek eintlik ‘n baie lui mens is, kry ek nogals bevrediging as ek met my hande werk, so hopelik is dit die geval met die handwas ook.

Omtrent so 8 van sussie se doeke is maat 1 en gaan sy dit binnekort uitgroei. Moderne lapdoeke is duur, dus wil ek met die challenge ook kyk of ons dalk heeltemal sonder dit sal kan regkom deur net van die goedkoop “flats” gebruik te kan maak.

Ek wil vir die klomp ou bitterbekke wat my so afraai van lapdoeke bewys ek kán ook lapdoeke doen soos wat hulle dit in hulle tyd gedoen het — én oorleef.

Ek hou van die idee om mense meer bewus te maak van die alternatief om liewers lapdoeke te gebruik as plastiekdoeke. Ter wille van die wêreld, ons kinders én ons beursies.

Die flats and handwash challenge is ‘n inisiatief van Dirty Diaper Laundry.

Ek het altesaam 7 doeke gebruik op dag 1.

Foto’s van dag 1:

Lapdoek-liefde

Is jy mal? Nee Lize, nie lapdoeke nie, weggooidoeke! Hoekom op dees aarde sal mens in die 21ste eeu nou wil gaan staan en sukkel?

Dit is onder andere van die kommentaar wat ek gekry het toe ek tydens my swangerskap noem dat ek dit oorweeg om lapdoeke te gebruik. My ma het my en my boeties so grootgekry, en ek’s suinig, so dit was vir my net die logiese opsie dat ek dit ook gaan gebruik. Duidelik het meeste gedink my lawwe idee is uit die oude doos. Gelukkig tydens ons trippie na Amerika in Julie/Aug 2015 ontmoet ek vir Holly. Holly het 7 kinders waarvan 3 in doeke is. Lapdoeke. Dis toe wat ek vir die eerste keer in aanraking kom met die nuwe moderne lapdoeke. En agter kom hoe maklik dit eintlik is en van die vele voordele.

Ek het dadelik begin navorsing doen – op Facebook – waar dan nou anders? So het ek op die groep “South African cloth nappy users” groep afgekom. ‘n Nuwe wêreld het vir my oopgegaan. Ek’t verlief geraak op al die skattige bol-boudjies van mense wat nie foto’s van kleinding se gesig op die groep plaas nie, maar die cute agterente getooi in die oulikste prentjies van deesdae se moderne doeke. Ek moet erken – sommige mense is dalk so bietjie obsessief en verslaaf aan doeke en sal dalk maklik TLC se “my crazy obsession” kan haal met die baie doeke wat hul besit — wat heel moontlik nie meer ekonomies eers is nie!

My motivering om lapdoeke te gebruik en hoekom ek jou wil motiveer om dit ook te doen:

  • Beter vir die omgewing – Ek weet nie van jul nie, maar altyd as daar rommel rondlê, is ‘n vuil weggooidoek seker die mees disgustingste ding wat daar bestaan. Ek onthou dat ek selfs al een keer by die see was en so doek op die golwe aangedryf gekom het. Bleh!! Ook vat ‘n doek byna 200 jaar om tot niet te gaan. As mens nou net dink hoeveel doeke met ‘n kleintjie gebruik (+- 6 ‘n dag vir ongeveer 2, 5 jaar), dink net al die rommel wat ophoop. Dis om van naar te word. Ook gebruik dit baie meer water om een weggooidoek te vervaardig as wat dit is om ‘n hele bondel wasgoed te was.
  • Dis goedkoper. Ek’t vir my starter-kit so €140 betaal. Dit klink baie op een slag. Maar sover het ek nie meer as net daardie doeke nodig gehad nie. As ek dink ‘n klein pakkie Pampers kos €10 en volgens die pak is dit ‘n week se inhoud. Dus het ek al die doeke afbetaal intussen (sussie is nou 14 weke oud). Ek’t ook eintlik net 1 -2 ekstra bondels wasgoed wat ek per week doen, so water en elektrisiteit is nie juis ‘n faktor nie. Dis selfs nog goedkoper as mens die old-school Glodinas gebruik en sommer covers by PEP koop.
  • Dis beter vir baba. Geen chemikalieë teen die boudjies nie. Ek’t ook onlangs ‘n foto op Facebook gesien verbygaan waar iemand wurms in hul Huggies ontdek het. Eish eish! Geen sulke dinge vir ons nie! Onlangs was die klinieksuster verbaas daaroor dat sussie nog nooit rooi boude gehad het nie. En ons gebruik omtrent nooit eers salfies nie – so dit maak dit net nóg goedkoper.
  • Dis baie mooier as weggooidoeke. In Somer kan baba sommer sonder broek rondloop want die doek is mooi genoeg.
  • Lapdoeke stink minder. Ja, jy’t reg gehoor! Die paar keer wat ek vir sussie moes weggooidoek aansit, dink ek konstant daar is bol in die broek.

Aanvanklik in die hospitaal het ons nog weggooi gebruik.By tuiskoms dadelik in die dag oorgegaan lapdoeke toe. Shame, dit het soooo huge gelyk aan sussie.

Toe sy so 2 maande oud was het ek uiteindelik genoeg guts gehad om in die aand ook lapdoeke te doen. Ons is dus nou meeste van die tyd op lapdoeke en gebruik slegs weggooidoeke as ons ver reis of iewers anders oorslaap.

Hoe gebruik mens lapdoeke?

Mens kry verskillendes. Daar is die AIO wat nes ‘n weggooidoek is. Jy sit hom aan en haal hom af en gooi in die was. Dan is daar AI2 waar jy die doek het en dan ‘n cover moet oorsit. Ons gebruik AI2 vir nagdoek. Little Lambs se bamboes werk goed vir ons. Dan kry mens ook pockets – dit lyk soos ‘n cover, maar het ‘n “pocket” waar jy dan ‘n “booster” insit. Dit kan enigiets wees wat piepie kan absorbeer. Ek gebruik ook die van Little Lambs en Cherub Tree wat ek 2de hands kon koop op ‘n Facebook groep. Hulle is ook One-size-fits-most met knopies waarmee jy die doeke groter en kleiner kan maak. Dus hou hul lank. Boosters word van verskillende materiale gemaak – hennep, bamboes, mikrovesel, ontvangskombersies, moeselien ens ens. Dan is daar die oudedoos plat voudoek. Die Glodinas. Moenie hul afskryf nie hoor! Dit raak later lekker om te vou en dit is baie prakties as dit kom by droogtyd. Daar is nog ander soorte ook, maar ek’t nog nie almal gebruik om veel kommentaar daaroor te kan lewer nie.

Was: Ek het so gaatjies-wasgoedemmer. Doeke gaan netso van die boudjies af na die emmer. Poef-doeke word net eers uitgespoel. Geen soaking in Milton of sterinappi en daai dinge van lank gelede nie. Op wasdag sit ek die doeke eers op ‘n kort siklus om die ergste piepie uit te spoel. Ek gooi so 3 druppels Tea Tree Oil ook in die bakkie om bakterieë te dood. Mens kan ook die doeke gou uitspoel in baba se badwater (na baba gebad het)! Daarna op ‘n lang siklus. As daar nog plek in die trommel is kan jy selfs nog ander wasgoed ook bygooi.

Volgende week is die #flatschallenge en eintlik die rede vir my post. Ons gaan probeer om mense meer bewus te maak van die voordele van lapdoeke. Ook veral om te bewys dat mense in armer gemeenskappe dit maklik ook kan doen al het jy nie ‘n wasmasjien nie. Flats is ook die goedkoopste opsie en mens kan sommer vir cheap cheap by PEP koop. Basies behels dit dat daar vir ‘n hele week net van die outydse vierkantige doeke wat jy vou en met ‘n snappi vasmaak gebruik gaan word en dat mens gaan handwas. Met hierdie post wil ek dus al my vriende wat ook kinders in die doeke het uitdaag om te probeer. Selfs al gebruik jy net een keer ‘n lapdoek, maak dit alreeds ‘n verskil in jou beursie, die omgewing en jou baba se boudjies. Komaan, probeer!

Ek sal vir die periode van 16-22 Mei probeer om daagliks te “update” hoe ek die uitdaging ervaar.

Ek gebruik meestal Little Lamb se doeke. Ek’s baie tevrede met die doeke self en nog meer tevrede met hul fantastiese verkoopsdiens. Verder gebruik ek ook nog pockets van Cherub Tree en strikluiers van Disana wat ek tweedehands gekoop het. Ek’s tevrede met hul. **Ek word nie betaal om hierdie ‘brands’ te adverteer nie.