Die ondankbare roeping

Voor ek mamma geword het en my as tuisteskepper bekwaam het, was ek ‘n onderwyseres. Nie vir lank nie. Ses maande in Suid-Afrika, een jaar in Suid-Korea en een jaar in Nederland. Altyd het ek gedink dat onderwys een van die mees ondankbaarste beroepe is. Jy werk jou oor ‘n mik, raak emosioneel betrokke by die kinders en probeer jou bes om vir hulle die beste te lewer. Maar die kinders bly stout, hulle doen nie moeite nie, die ouers trap JOU uit, jy kry crap salaris, mense dink jy werk net halfdag en het boonop mos so baie vakansie.

Maar ek was verkeerd. Die ondankbaarste werk is om ‘n tuisteskepper te wees. Nou dink mense jy het sommer heeltyd vakansie, maar  in werklikheid het jy GEEN vakansie nie. Want kyk, ‘n huis maak homself nie skoon nie, maar klaarblyklik kan hy homself baie vinnig vuil maak. 24/7 is JY aan diens. Geen publieke vakansiedae nie. Saterdae ook nie. Ses maande swanger met ‘n rug so seer dat jy nie eers kan loop nie is steeds nie ‘n goeie verskoning om ‘n blaaskans te kan vat nie. En dalk maaggriep en heelnag opgegooi? Moenie eers dink daaraan om siekverlof in te sit nie…

So soms verlang ek terug na die werksplek, waar ek ten minste die stout kinders in my kop kan vloek en die ouers wat nie hul kinders kan dissiplineer nie in my gedagtes kan judge. Waar ek werklik kan vakansie hou en wel ‘n salaris ontvang. Want daar was ook kinders wat diep in my hart gekruip het, ouers wat my gereeld bedank het. Daar was ook baie lekker gewees en mens het nodig gevoel. Dat jy jou deel vir die samelewing doen.

Vandag is maar een van daai dae. Ek weet die pros om by die huis te bly by my kinders outweigh die cons. Ek weet dit. Ek voel baie bevredig as my hele huis silwerskoon is (die paar keer wat dit gebeur). Ek kry ‘n lekker gevoel as ek die mense se verbasing om hul gesigte sien “het jy nie ‘n ousie nie?”  Soms sê manlief dankie vir die huishouding (hy’s eintlik ‘n baie goeie ou). En al is my dogtertjie hoe klouerig en vereis sy baie aandag, maak al haar soentjies weer op vir dit. Oupa en ouma help ook darem gereeld deur haar bietjie te kom haal vir saamry op die plaas of bietjie daar te kuier. Dus is die voordele baie meer as die nadele. Maar vandag voel dit nie so nie. Deurmekaar huis = 10 Lize = 0. Dalk is more ‘n beter dag.

Iphone Junie 206

Huisvrou, tuisteskepper, huismamma, tuismamma, ousie?

Goeie dag vriende

Jammer dat ek ‘n hele jaar stil was. Maar ja, soos die titel verwys is ek taamlik aan die gang en besig – JAAAAA dit beteken nie ek is heeljaar op vakansie soos wat ek al moes aanhoor nie, maar meer dat ek nou mamma, skoonmaker, kok, tuinier, kinderoppasser handyman (woman?) ensomeer is. Ander huisvrouens sal verstaan… So terloops, ek’t geen issue daarmee om ‘n huisvrou genoem te word nie (in fact, ousie sit my ook nie eers af nie). Tuisteskepper is so ‘n laaaaaaang woord (4 lettergrepe is nodig)!

Vir mammas wat wonder of moet hul na kraamverlof terugkeer werk toe of liewers tuisbly, ek sal dit enige dag aanbeveel MAAR moenie dink dis maklik nie. Jy mis soms jou werk, waar jy nodig gevoel het en jou bydrae meer konkreet kon sien. Niemand sê ooit dankie vir ‘n skoon huis nie, maar laat dit nou lyk of daar ‘n orkaan deur is (Orkaan-Hanna in my geval), dan sien almal dit raak! Dis ‘n alleen werk en jy mis grootmens geselskap. BAIE! Onthou, al jou vriendinne werk mos nog. Jy word mal as jy vir die twintigste keer die dag dieselfde kinderliedjie oor en oor en oor moet luister. Jy dink jy gaan gou skoonmaak of dit of dat gaan doen sodra liefkindjie ‘n slapie vat. Hahahahahaha! Nee ou tjom, dan rus jy eers, kyk gou wat op Facebook aangaan en drink gou koffie wat nog nie koud geword het nie. En dan is slapietyd ook verby. En ja, jy sal nie so dink nie, maar ek het werklik minder tyd beskikbaar as wat ek ooit gehad het as werkende.

Maar…. ek is heeltyd by my kind. Ek kon al haar eerstes beleef. Haar eerste omrol, eerste uit die maag uit lag, eerste tree, eerste keer hoor hoe sy “Heidi” sing. As sy val en huil (gebeur nie baie met ‘n wille wragtag nie – ek bedoel nou die huil gedeelte, sy val baie), dan is dit EK wat haar troos. As sy iets kerm of brabbel, dan verstaan ek. Want ek ken my kind. Ek ken haar behoeftes en begeertes. EK het al hierdie voorregte. Nie die dagmoeder of kinderoppasser of bediende nie. EK. En vir hierdie voorreg verruil ek niks van die bogenoemde “nadele” nie.

Ek hoop om in volgende blogs waarvoor jul hopelik nie ‘n hele jaar voor hoef te wag nie, bietjie wenke te gee hoe om sonder ‘n bediende klaar te kom asook hoe om geld te spaar aangesien tuisblymammas nie juis ‘n salaris meer huistoe bring nie. Hou die blog dop!

Mei 2017 Iphone 166

Niemand neem foto’s van mammas met hul kindersnie. Selfies sal maar moet doen!