Dinge wat ek van Nederland gaan mis

Verlede jaar het ek ‘n post geskryf oor die dinge wat ek as beter ervaar in Suid-Afrika. ‘n Paar mense was hoogs die dinges in vir my (mens mag mos nie waag om ‘n goeie woord oor Suid-Afrika te rep nie) en ek’t sommer ‘n gevloek en dinge in my Facebook inbox gekry van mense wat vertel hoe ek lieg ens (die een persoon kom van Brakpan af – so ek vergewe maar — no offense) en ek wonder of sekeres van hulle al ooit in Nederland was om te kon bepaal of ek lieg en of hul net kwaad was omdat ek ook iets goeds van my eie land te sê gehad het. Sommige ander, veral Nederlanders, was weer ontsteld en het gevoel dat ek Nederland in ‘n slegte lig probeer stel het. Dit was egter geensins my bedoeling nie – ek wou bloot net wys dat daar ‘n paar goedjies is wat wel in SA beter is. Nietemin, ek het belowe om ‘n post te skryf oor Nederland se goeie punte ook. Oor die dinge wat ek gaan mis as ons oor 6 maande teruggaan, want daar is vir seker dinge wat ek baie gaan mis. Nederland was goed vir ons.

  1. Seker obvious vir enige Suid-Afrikaner, maar ek gaan die veiligheid mis. Nooit hoef ek oor my skouer te kyk nie, ons sit ons woonsteldeur net op knip (granted – hulle het by die meisie onder ons ingebreek), ek hoef nie my handsak vas te klem nie (behalwe in Amsterdam — maar dis nie die Nederlanders se skuld nie). Ek’t al baie keer laat gewerk (tot middernag soms) en kon met gemak alleen huistoe stap. Iets wat ek nooit ooit in SA sal waag nie. Ek en Adi gaan stap ook gereeld in die aande in die stad – ek’s mal oor die atmosfeer dan, en ons het nog nooit bedreig gevoel nie. Die enigste misdaad wat ons wel ervaar het is dat twee fietse gesteel is. Dit blyk ook ‘n nasionale sport hier te wees – Nederland het meer fietse as mense, tog het jy twee slotte nodig as jy nog jou fiets wil behou.
  2. 11072532_10153239318583476_5491404455372408744_nDie fietskultuur. Dalk gaan ek dit nog meer mis as die veiligheid. Ek’t eintlik lief geraak vir my fiets en dink ek mag dalk ‘n traantjie pik die dag as ek haar moet agterlaat. Ek’t hom gepimp – turkois gespray-paint, met kleurgoedjies in die speke en ‘n mandjie. Nooit sou ek vroeër kon dink dat ek 10km fiets sou ry om by iemand te gaan kuier nie – hier is 10km nie ver nie en raak dit al 2de natuur. Fietsry is ook die vinnigste vervoermiddel vir kort afstande aangesien busse se roetes baie keer so is dat dit langer vat en karre nie altyd parkeerplek kan kry nie. Nederland is ook natuurlik uitstekend ingerig vir fietsry. Nie net is dit plat nie, hier is uitstekende fietspaaie wat ook sorg dat jy meeste van die tyd nie die pad met motoriste hoef te deel nie, en as jy wel die pad moet deel, is jy in die veilige posisie dat indien ‘n ongeluk gebeur dit altyd die motoris se skuld is. Baie sal dalk meen dis onregverdig, maar daardie reël het my ook baie meer selfvertroue gegee omdat ek weet dat motoriste juis daarom versigtiger ry en uitkyk vir fietsers. Een ding wat ek wel haat is scooters, oftewel brommers. Dis altyd hierdie vet volksvreemde mense wat op dit ry en jou byna uit die pad uit jaag. Jy weet daardie gevoel wat mens in die middestad kry as jy ‘n minibus taxi sien? Dis daardie selfde gevoel as ek ‘n brommer sien.
  3. Sneeudae. Dit gebeur nie baie in Nederland nie, maar die twee dae ‘n jaar wat dit wel sneeu geniet ek baie. Dit is ongelooflik kalmerend om die sneeuvlokkies te sien val en die witte winter-wonderland is net te pragtig daarna. Dit maak die koue weer darem so bietjie meer die moeite werd.
  4. Kringloopwinkels! Dit is tweedehandse-winkels. Man, het ek nou al bargains raakgeloop. Nog nooit het ek enige klere nuut gekoop vandat ons hier woon nie. En waarom sal ek? Ek kan nie glo SA het nie ook sulke winkels in elke dorp nie. Mens kan letterlik enigiets by die kringloop koop en baie van die dinge is nog in top kwaliteit vir ‘n fraksie van die prys wat jy nuut sou betaal. Ek’t al ‘n paar keer ons gaste soontoe gevat en ek dink hul het die inkopies nog meer geniet as wat ‘n hele mall in SA sou kon bied.
  5. Publieke vervoer. Ons het die afgelope 2 jaar nie ‘n kar nie en het ook nog nie een keer gevoel dat ons dit mis of nodig het nie. Met die treinkonneksies en busse is als gefix en soos ek al vroeër genoem het is fietsry die ding om te doen. Nederland se treine is ook baie goedkoper as bv Duitsland s’n en dis moontlik om retoerkaartjies van enige plek in die land vir so €7 te koop (dit werk so bietjie met ‘n loophole, so as jy nie weet hoe om dit te koop nie, laat weet my en ek sê jou). Ook kan jy by baie winkels soos Blokker en Kruidvat dagkaarte koop van ongeveer €15 waarmee jy dan vir ‘n hele dag onbeperk in Nederland kan reis.
  6. Jy moet als self doen. Nou hierdie punt het ek ook in my vorige blog genoem in ‘n negatiewe lig. Maar dit het ook ‘n positiewe kant. Nie net het ek geleer dat ek als self kan doen, ek kan nou my huis self skoonmaak en trots wees daarop. Ook is ek nou al ‘n pro as dit by inkopies inpak kom, al trek my keel nogsteeds styf as dit voel ek kry nie klaar gepak voor die persoon na my se goed al opgelui word nie. Ek hoop as ons teruggaan SA toe dat ek ook sal kan volhou om als self te doen. Ek weet mos nou dat ek kan.
  7. Herwinning. In die begin is dit iets waaraan ons Suid-Afrikaners nie gewoond is nie, maar dit word nogals ‘n lewensstyl. Papier, glas, plastiek, komposhoop, tekstiel, ou batterye, ou gloeilampe, gebreekte elektriese ware en die res. Als geskei. Sommige goed soos die papier en tekstiel word by jou huis opgelaai op sekere dae. Die kompos gebruik ons self in ons balkon-tuin (waar als heeltyd vrek, maar dis ‘n ander storie), die plastiek en bierbottels kan ons terugvat winkel toe en geld terugkry, vir die glas is daar spesiale bakke orals in die stad waar jy dit kan ingooi – weereens moet jy dan ook skei – groen, bruin en witglas. Ook is daar spesiale plekke vir die gloeilampe, batterye en elektriese goed waar jy dit kan ingooi. Ek’t ook besluit om te probeer om ons baba met lapdoeke groot te maak en het soveel meer positiewe reaksies van Nederlanders gekry as die Suid-Afrikaners wat dink ek is mal — nogal jammer dat die idee so vreemd vir my mede-volksgenote is. Ek sou dink hul sal ook ons mooi land met minder rommel wil sien…maar self doen (soos klere was) is mos maar iets wat nie maklik kom nie.
  8. Reguit-geit. Nederlanders draai nie doekies om nie. Hul sê ‘n ding soos dit is en dis nou so. Niemand neem aanstoot nie en almal is eerlik. Ek’s mal daaroor. Dink ek’s self bietjie so…
  9. Swangerskapsorg. Ek was nou nog nooit swanger in SA nie, maar maak maar my eie afleidings nalv wat ek hoor en sien met vriende en familie. In Nederland gaan jy nie na ‘n ginekoloog toe as standaardpraktyk nie. Slegs as daar ‘n probleem opgetel is en jy meer intensiewe hulp benodig. Swanger wees is nie ‘n siekte nie. Dus het jy ‘n vroedvrou wat jou die hele swangerskap deur begelei. Omdat jy nie siek is nie, is hospitaal ook nie juis ‘n groot ding hier nie. Meeste vrouens het tuisbevallings. Soms betaal die medies nie eers als as jy kies vir ‘n hospitaalbevalling sonder goeie rede nie. Ons huis voldoen nie aan die vereistes vir ‘n tuisbevalling nie, so ek gaan wel hospitaal toe, maar wat bekend staan as poli-klinish. Nou basies huur ek net ‘n kamer by die hospitaal. As ek in kraam sou gaan, sal die vroedvrou eers by die huis my vordering kom dophou en eers as ek byna aan die einde is sal ons hospitaal toe gaan vir die geboorte self. Ook daar is dit die vroedvrou wat my begelei die heeltyd tensy daar een of ander noodgeval sou insluip waar ‘n ginekoloog dan sal oorneem. As die baba klaar gebore is en als het goed gegaan, kan ek ook verwag om na twee ure ontslaan te word.
  10. Kraamsorg. Elke vrou wat ‘n baba kry is geregtig op 8 dae kraamsorg waar iemand jou tuis kom help. Die medies betaal ook daarvoor. Die kraamversorgende kyk dan om na jou en die baba se gesondheid, help met tips en om die nuwe ouerpaar te laat gewoond raak, help in die huis (skoonmaak, koskook) en as jy nog ander kinders het, sal die kraamsorg selfs daarmee help. Bargain!
  11. Borsvoeding. Niemand knip ‘n oog as jydie beste keuse vir jou kind se voeding maak nie. Regtig ‘n bargain veral as mens kyk na die negatiewe houding wat Suid-Afrikaners (lees: wit Afrikaners) daaromtrent inneem. Jammerte dat ons ou volkie so deur die formulemelk maatskappye gebreinspoel is om te dink dis iets immoreels of sleg.
  12. Tradisies soos Sint Maarten en Sinterklaas. Sint Maarten vind plaas middel November. Die kinders maak dan lanterntjies en gaan dan in die buurt by al die huise om en gaan sing liedjies. Die mense gee dan vir hulle lekkers of vrugte. In ‘n sin seker baie dieselfde as die Amerikaanse trick-or-treat minus die gross stuff. En Sint Maarten het ook ‘n mooi storie daaragter van ‘n belangrike man wat barmhartigheid aan ‘n behoeftige man bewys het deur sy mantel met die man te deel. Sinterklaas is ook ‘n tradisie wat afkomstig is van ons kerkgeskiedenis van Sint Nikolas. Eintlik ‘n merkwaardige verhaal – Sint Nikolas het by die “counsel of Nicea” vir Arius deur die gesig geslaan omdat Arius dit gewaag het om Jesus se goddelikheid te bevraagteken. Ek ken ook nie al die details nie, maar soos ek verstaan het hy ook slawe wat gevlug het vanaf hul Marrokkaanse of Turkse slawedrywers ingeneem en gehelp – vandaar die Zwarte Pieten wat ook deesdae uit verband geruk word deur die vervelig rassisme deuntjie wat elke tweede poepol deesdae sing. Sinterklaas se intog in die stad is dan ook altyd ‘n prettige feesdag, veral vir kinders. Hy en sy Pieten kom op die bote aan met ‘n gesing en gejubel voor hy dan op sy wit perd (Amerigo) klim en deur die stad ry. Die tradisie is om op 5 Des (in Noord-Nederland) of 6 Des (in die Suide) aan die kinders klein presentjies uit te deel. Dit gaan ook gepaard met speletjies en kruidnoten is ‘n egte Sinterklaas koekie wat mens net die tyd van die jaar in die winkels te koop kry — en wat heerlik is! Waarskuwing: Dis verslawend!

  13. Nog ‘n lekker tradisie is Koningsdag. Dit vind plaas op die koning se verjaarsdag. Almal kan dan hul wit olifante op ‘n vlooimark smous. Daar is natuurlik ook oranje gekte met almal wat oranje aantrek vir die dag.

  14. Dis naby ander Europese lande. Dus is dit maklik om te reis en meer van die wêreld te kan sien. Ook is inter-Europese vliegkaartjies spotgoedkoop en hoef jy ook nie ‘n plaas se prys te betaal om nog ‘n land by jou “places-to-see” lysie af te merk nie.
  15. Lente-tyd. Natuurlik het ons ook lente in Suid-Afrika, maar mens sien nie die verandering so kwaai soos wat mens dit in Nederland sien nie. Al die blomme en bloeisels en klein diertjies ens ens! Te pragtig vir woorde.

  16. 33268bb3fe2f45d2d2c6b93a9a52ee85Die Nederlandse taal. Sommige dinge sê net ongelooflik lekker. En hul idiome en gesegdes is baie kreatief. Ek gaan vir seker die Nederlandse ondertitels mis – soms is die vertalings skreeusnaaks…en natuurlik klink baie woorde soos vloekwoorde… Poes is ‘n kat en kont is jou boude. En kak is nie ‘n vloekwoord nie. Moet net nie jouself verskoon vanaf die etenstafel nie!

Nou is my brein moeg – dink die swangerskapshormone maak ook nou dat ek nie verder aan nog iets kan dink nie. Ander Saffas in Nederland kan gerus comment as hul nog iets het wat ek by die lysie kan voeg!

The American dream – ‘n nagmerrie by die konsulaat

Tydens die Somer van 2015 is ek en Adi bietjie na Amerika gewees waar ons van ons Facebook vriende in persoon gaan ontmoet het en waar Adi vir 4 Sondae by ‘n klein kerkie gaan preek het. Maar meer oor ons trippie later. Eers wil ek my ervaring met die visum-aansoek deel.

Ek wou al lankal vertel, maar was so bang ek word gearresteer of assassinate as ek uitpraat voor ons trippie dat ek dit vir ‘n rukkie eers uitgestel het, haha.

Eerstens as jy op die internet jou afspraak maak, moet jy ‘n vraelys invul. Die vreemdste vrae onder die son. Vrae soos: “Do you plan on being a prostitute” of “do you plan to engage in terrorist activities?” Imagine nou ek tick “no” en gaan blaas ‘n bank of iets op… Gaan hul dan met my raas en sê “Jy’t BELOWE jy sal nie!!!”

Op die website sê hul dat as mens jou selfoon saambring, dit dalk jou afspraak kan vertraag weens sekuriteitskontrole. Maar aangesien ek die middag weer terug in Groningen moes wees om die oppaskinders by die skool op te tel en ek nie geweet het hoe lank dit gaan vat nie (die treinrit alleen is 2 ure lank), kon ek nie regtig my foon tuis los nie aangesien ek die kinders se ouers sou moes bel as ek nie betyds kon terug wees nie. Dus beplan ek toe om ‘n uur vroeër al vir my afspraak daar op te daag.

Daar gekom staan daar een norse man voor die konsulaat. Ek gaan na hom en wys my papiere. Hy sien ek’s vroeg en stuur my toe weg. “Come back at your appointed time.” Nou ja, ek stroll toe maar daar op Amsterdam se museumplein rond, drink ‘n koffie’kie en eet ‘n stroopwafel. So 5 minute voor my afspraaktyd gaan ek terug. Die keer verloor die meneer dit en skree op my “I told you to come back at your appointed time!!!!” F****t ou, haal die boeing uit jou hol, dis net 5 minute!!! (Ek’t dit net gedink – nie hardop gesê nie, maar ek wou).

Ek’t maar weer vir 5 minute gaan stap en toe teruggekom. Terug daar, vra hy of ek my selfoon by my het. Ja ek het. Ek het dit ook al die eerste keer wat ek soontoe gegaan het vir hom gesê. Baie nors word ek na ‘n ander ry gestuur. Die ry van die “stout kinders” wat hul selfone by hul het.

Daar staan ons toe vir seker ‘n driekwartier en wag tot ‘n sekuriteitswag uitkom en vir ons vertel dat die konsulaat nou gaan sluit en dis nou sleg vir ons maar ons moet re-schedule want hul het nie tyd om ons selfone deur die security check te sit nie. Maar….hy sê toe ook: “If you can get rid of your phone within the next 10 minutes, you can go right in.” Ek en die een Hollander daar dink dadelik dieselfde ding en ons hardloop na ‘n blombedding aan die oorkant van die plein en gooi ons fone sommer daar in. Ons het besluit ons vat die kans vir ons fone om gesteel te word — myne was toe net ‘n ou Blackberry en dit sou my inelkgeval meer gekos het om te re-schedule. Terug by die konsulaat kom daar ‘n shitload sekuriteit uit. “You have committed an act of terrorism by planting electronic devices in front of a US consulate, this is a felony.”

Kyk, ek bevuil amper myself en bars in trane uit. Ek sê vir die mense “do I look like a terrorist??? You told us to get rid of our phones, that’s what we did!” Ons word toe beveel om ons fone te gaan haal, hul sal gou die check doen. Ek glo nie hul wou ons regtig arresteer nie, net weer bietjie hul eie magsgevoel boost deur ons te intimideer.

Hollandertjie word beveel om sy foon se battery uit te haal. Ek wil nie tyd mors nie en haal my battery ook uit. Die offisier ontplof. “I did not tell YOU to take out your battery, I need to see it on!!!!” Okay okay, ek sit weer die battery in. Nou ek weet nie of jy weet hoe lank ‘n Blackberry vat om aan te gaan as jy die battery insit nie. Laaaaaank. Offisier verloor weer sy cool en dinges my uit omdat my foon so lank vat. Ek kan mós die foon aanjaag. Op die ou end is hy te ongeduldig om te wag tot die foon aangaan en word ek gevra om die battery uit te haal. Nou weet julle wat is die sekuriteits check wat apparently so lank vat??? Dis so wit papiertjie dingetjie wat hy net so oor my foon waai. Vat 2 sekondes tops!!!

Binne die gebou moet ons ook deur een van daardie scanner goed loop. Stupid kaaskop het toe ‘n broodmes in sy tas! Ja, dis nou een ding van die Hollanders. Hul pak nie ‘n klaargemaakte broodjie vir die dag in nie. Hul pak ‘n halwe brood, mes en grondboontjiebotter in en maak dan deur die dag broodjies wanneer hul honger is.

Eerste balie waar ek moet aanmeld daar binne kry ek toe ‘n baie vriendelike man wat my help. Toevallig is hy ‘n Nederlander. Baie opgewonde toe hy my SA paspoort sien en wil net hê ek moet asseblief bietjie Afrikaans met hom praat. Hy’t my nogals gehelp om te kalmeer na my “felony” van vroeër.

In die onderhoud ry hoor ek die gesprek met die meisie voor my. Sy word haar visum geweier. Sy’s oppad na ‘n konferensie in die VSA, maar het pas klaar studeer en nog nie werk in Nederland nie, toe figure die beampte dat sy nie genoeg bewyse het dat sy gaan terugkom nie. O donner, ek gaan nie my visum vandag kry nie, is al waaraan ek kan dink.

My beurt. Nog ‘n nors Amerikaner. Hy val weg met klomp name wat hy opnoem en vra of ken ek die mense. Ek ken niemand nie. Hy kyk my aan asof hy nie ‘n woord uit my mond glo nie met “are you sure you don’t know them?” Hy vra toe wat ek in Nederland doen vir ‘n werk. Ek’s ‘n nanny. Nee ek het nie ‘n kontrak nie. Maar geluk (prys die Here) het ek ‘n brief van my werkgewers wat my vakansiedatums uitstippel en wanneer ek weer moet begin werk. Volgende vraag: hoe ken ek my vriende in die VSA? Okay, so ek kon net nie vir hom sê dat ons hul op Facebook ontmoet het nie. Dan gaan ek mós die visum kry. Ek sê “networking”. Hy kyk my weer weird aan. Dit lyk nie of ek die visum gaan kry nie. Hy vra my “What are you going to do at thát church?” Nou omdat daardie kerkie nog bitter klein is en nog nie geregistreer is as ‘n kerk nie het ek heeltemal niks daaroor gesê of so nie. Bloot net dat ons vir vriende gaan kuier. Dus het hul op ‘n manier goed op my gespy om goed te weet wat ek nie vertel het nie. My tong knoop amper soos wat ek iets probeer uitdink “we are Christians and planning to attend church on Sundays.”

Skielik kry ek die brainwave om te sê dat Adi al die mense ontmoet het. Hy was vroeër die jaar in Florida vir ‘n konferensie. Ek sê dit vir die man. “Did we issue his visa?” Yes. Gelukkig het ek op die laaste minuut voor ek die oggend by die huis weg is, sy paspoort saamgevat en kon ek vir hom wys. Toe wou hy weet wat ons in Korea gesoek het… Net bietjie gaan geld maak ou.

Die man kyk my stip in die oë. Ek dink “o shit.” Hy sê: “Enjoy your stay in the United States of America.” Ek glo dit nie. Ek vra hom “so is my visa approved????” “Yes.”

All’s well that ends well, maar dit was vir seker een van die mees stresvolle dinge wat ek nog gedoen het. Oppad terug Groningen toe tjank ek van verligting in die trein. Drie dae later word my paspoort met die visa by my afgelewer. 10 jaar geldig. Dankie tog!! Nou weet ek darem vir seker ek hoef die volgende 10 jaar nie deur dieselfde stront te gaan nie.

Nou wonder ek… julle Amerikaanse boikies, gaan julle my blog vertaal en lees? Watch my lekker hoor!