Dankie Here, Oscar is vry???

So breek die nuus vandag dat Oscar Pistorius in Augustus op parool vrygelaat word, terwyl hy nog nie eers ‘n jaar in die tjoekie gesit het nie. http://www.news24.com/SouthAfrica/News/Pistorius-parole-confirmed-athlete-out-in-August-20150608.

My eerste gedagte is: “BELAGLIK!” Wat egter vir my meer belaglik was as die feit dat hy na hy iemand vermoor het, soveel ondersteuning kry. En nog meer belaglik as dit, is die feit dat die mense die Here se Naam misbruik deur te maak of dit Sy wil is dat moordenaars vryelik rondloop. En natuurlik word daar vir jou vertel hoe “judgemental” en “hipokrities” ek nou kamma as Christen is omdat ek meen dit is nie regverdig nie.

Dis laat in die aand, en ek’s moeg, so ek gaan nie ‘n lang ding hieroor skryf nie, maar wil net ‘n paar goed noem:

1. Voel hierdie ondersteuners dieselfde opgewondenheid en dankbaarheid teenoor die Here wanneer ander moordenaars binne ‘n jaar vrygelaat word? Ek sien gereeld mense kla oor ons regstelsel wat te vinnig parool gee, maar lyk my in Oscar se geval is dit okay? Ek vra my af hoekom? Is dit omdat hy wit is? Is dit omdat hy ryk is? Is dit omdat hy ‘n sportgod is? Is dit omdat mense hom jammer kry omdat hy nie ‘n been het om op te staan nie (Excuse the pun)…

2. As ons nie moordenaars mag oordeel nie, stem julle dan saam dat ons álle howe, polisiediens ens moet afstel? Dit is dan nou tog verkeerd volgens die persone om oor misdade te oordeel? Hoekom sukkel ons dan om reg en orde in die land te probeer handhaaf?

Ek sien die mense gebruik (lees:misbruik) dan sommer die Bybel om hul ondersteuning te regverdig: soos onder andere dat ons nou nie mag oordeel nie want Jesus het die moordenaar vergewe aan die kruis. Hieroor wil ek graag noem:

1. God het die wet ingestel. Moord word as so ‘n vreeslike sonde gesien dat dit selfs in die 10 gebooie opgeneem is as die 6de gebod. Die straf vir moord is teregstelling.

2. Ons mag oordeel. Ja gaan lees verder as daardie 3 woordjies wat almal so graag aanhaal (moenie oordeel nie). Ons oordeel moet wel altyd regverdig wees. 10357533_782220181835399_1466918528608807587_n

3. Aanhaling wat ek onlangs gelees het: we are free to make choices, but we are not free of the consequences of our choices.” Dieselfde geld vir Oscar.

4. Jesus het die moordenaar langs hom vergewe nadat die moordenaar bekeer het. Dit het egter nie die moordenaar sy kruisdood vir sy moord vrygespreek nie. Hy is wel gered van die hel, maar moes steeds verantwoordelikheid neem vir sy misdaad. Dus, die Here sal enige sonde al is dit hoe groot wel vergewe, maar dit maak jou nogsteeds nie vry van die gevolge van jou sonde nie. Net soos ‘n losbandige persoon kan VIGS kry as gevolg van hul lewensstyl, kan die persoon natuurlik bekeer en deur God vergewe word, maar hy gaan steeds aan die siekte ly.

Dan is daar natuurlik die redenasie waar mense meen dat hy nie ‘n moordenaar is nie aangesien hy skuldig bevind is van manslag. Waar, hy is nie aan moord skuldig bevind nie. Maar ek sukkel maar om te byt daaraan dat jy iemand vir ‘n dief gaan verwar op die toilet. En dat 4 skote nodig is. En dat jy nooit kon agterkom dat jou meisie nie langs jou op die bed gelê het voor jy die geweer gegryp het nie. Dan moet mens ook nie vergeet van die voorafgaande bakleiery wat gerapporteer is, die vuurwapen wat hy in ‘n restaurant afgevuur het ens nie. Ek’s jammer, ek koop nie sy storie nie. Sover ek weet is die staat ook besig met ‘n appèlsaak?

Dan… ek hoop van harte dat Oscar berou het vir wat hy gedoen het. Ek hoop dat hy werklik sal bekeer en ‘n beter mens sal wees na dese. Ek wens hom nie kwaad toe nie, wel dat geregtigheid sal geskied en hy soos ‘n man sy straf sal dra. Mag die Here hom vergewe. Mag die Here ons ook bewaar om nooit ooit sonde goed te keur nie.