Swart kat wat net geluk gebring het

Ek onthou toe ons vir Swartjie gaan haal het. Haar in haar kat-hok gesit en op die agtersitplek van Pretoria na ons plaas naby Warmbad geneem. Dit was nie lekker nie. Ons het pas vir ouma Tienie in ‘n hospies gaan inboek en ons moes van nou af vir Swartjie sorg. Swartjie het die hele 90 kilometer gehuil. Sulke diep, benoude miaaus. Ek en mamma het saam gehuil. Dit was ‘n Sondag.

2014-08-15 10.08.55 2014-03-24 18.08.04 2014-04-01 20.00.20 2014-04-27 21.02.16

Swartjie was doodbang vir ons. As klein katjie is sy vreeslik verjaag deur ander mense in die aftreeoord asook die sekuriteit, tot my ouma ingegryp het en haar aangeneem het. Swartjie het nét vir ouma vertrou. By haar gewaak in haar laaste dae. Die swart kat op die bloedrooi kombers.

Die plaas was vir Swartjie vreesaanjaend. Sy het in ‘n kamertjie weggekruip op een van die handdoeke wat nog van ouma gekom het. Dinsdagoggend het sy 5 uur die oggend my pa kom wakker maak. Getrap soos net ‘n kat kon tot hy besluit het hy gaan maar draf – aangesien hy nou wakker is. Hy’t nie verstaan dat Swartjie iets wou sê nie. Sy’t toe maar my ma wakker gemaak. Die oomblik toe mamma wakker word, toe lui die foon. Ouma is oorlede. Ons glo tot vandag toe het Swartjie dit geweet – en sy het my ma kom vertel en kom troos.

Van ouma Tienie se dood af het Swartjie ‘n hele persoonlikheidsverandering ondergaan. Asof sy dadelik geweet het dat sy nou maar die beste van die saak moet maak en ons as haar familie moet aanneem. Sy het die mees liefdevolste kat geword. Altyd vol drukkies en soentjies, met ‘n spesiale liefde vir my ma. Ek glo nou nog vas die Here het haar vir my ma gegee om haar as troos te wees na haar mammie se dood. ‘n Soenoffer soos my ma haar genoem het. ‘n Laaste eer aan my ouma om mooi vir haar geliefde katjie te sorg.

Swartjie is vanjaar op 22 November 2014 oorlede. ‘n Dekade na ouma se dood en op ouma se verjaarsdag. Ek glo datums is belangrik en dat dit nie net ‘n toevalligheid is nie. Ons gaan Swartjie se squeeky-geluidjies mis, en die warmsakkie wat sy in die winter vir almal op wie se skoot sy gesit het was. Maar dit help om te weet dat sy weer by ouma en oupa Viljoen se skote kan sit en die hemel sommer nog lekkerder kan maak!

Stories en verhale beeld baie keer swart katte as ongeluk uit. Maar Swartjie het hul almal verkeerd bewys. In die Grobler huis het sy net geluk gebring. My laaste pleit vir diegene wat hier lees: Ek hoor so baie dat mense in hul testamente vra dat hul diere uitgesit moet word, sou hul doodgaan. Oorweeg asb die moontlikheid om dit NIE te doen nie… Van die redes is:

“My dier sal homself doodtreur” – Dalk moeilik vir jou om te glo, maar hy sal nie. Die lewe gaan aan. Ons almal ‘deal’ met verlies. Ek treur ook oor my ouma, dit beteken nie dat ek ook uitgesit moet word nie. Jou dier KAN nog ‘n vol en mooi lewe sonder jou lewe.

“Ek wil nie my kinders met my diere opsaal nie” – Dit is dalk waar dat dit ‘n kwessie kan word, dit sal ek nie ontken nie. Maar dalk is dit ‘n keuse wat jy vir jou kinders kan los? Dalk kan jou diertjie net soveel troos aan jou kinders bied soos wat Swartjie aan my ma gebied het.

Moet asb nie onnodig jou diertjie laat sterwe omdat jy gesterwe het nie. Dit is nie ‘fair’ nie.

Kinders…waardeer jul ouers, grootouers. Hul gaan nie vir ewig daar wees nie. Waardeer ook jul troeteldiere, want hul gaan ook nie vir altyd met ons wees nie.