Moenie “judge” nie!!!

Hoeveel keer het ons nie al gehoor dat ander mense sê: “moenie judge nie”. Soms voel dit vir my of Mattheus 7:1a die enigste vers is wat die persoon in sy hele Bybel ken. Dus het ek my voorgeneem om elke keer as iemand op facebook ‘n prentjie post van iets wat te doen het met “judge”, dit te gaan save. In die paar dae (so bietjie minder as ‘n week) wat ek dit begin doen het, het dit my laat wonder of ons mense nie bietjie obsessief geraak het oor “judge” nie en of ons nie die betekenis heeltemal verloor het nie. Ek’t besluit om ‘n blog te skryf en my opinie te gee oor elkeen van hierdie prentjies. Dit is dalk beter as wat ek dit op facebook comment…want net nou is ek dalk te ‘judgemental’.

10168178_661135377318151_1645126687422399842_n

nr 1

1.  Ek moet sê, met hierdie prentjie stem ek saam in ‘n mate. Dit gebeur taamlik baie dat ons iemand se woord vat vir ‘hoe’ iemand anders is, sonder wat ons self daardie persoon leer ken. Ek dink dit is baie belangrik om die waarheid van iemand self eers uit te vind en dalk self moeite te probeer doen om daardie persoon te leer ken, waar moontlik. Terselfdertyd moet mens jou egter afvra hoekom mense ‘n sekere ding oor iemand sal sê. Die ou gesegde is mos “waar ‘n rokie trek, is ‘n vuurtjie.” So wat jy van iemand anders hoor, is heel moontlik 80% van die tyd die waarheid. Ek sien gereeld mense wat kla oor klein dorpies waar die mense te veel skinder. My raad: Mense sal nie die nut vind om oor jou te skinder tensy jy nie vir hul ‘n rede gee nie. In baie gevalle skinder mense wel uit jaloesie, maar dis gewoonlik ook die praatjies wat doodloop omdat te veel mense besef dat dit nie die waarheid is nie. As jy jouself dus losbandig gaan gedra, moenie kom huil as jy ‘n slegte reputasie kry nie. Probeer eerder harder werk daaraan om jou reputasie te verbeter deur jouself te gedra.

16109_10152559174862819_1704214556127268277_n

nr. 2

Nr. 2: Met hierdie prentjie stem ek teoreties ook saam. Maar dit is mits jy jou lewe ten goede verander het in die hede. As jy nogsteeds aangaan soos jou verlede, kan jy nie kla dat mense jou op jou verlede oordeel nie, want dit is dan nog presies dieselfde. As mense kan sien jy’t werklik verander, dan sal hul jou ook nie meer oordeel nie (tensy hul net regtig wil moeilik wees). Ek is ‘n voorstander daarvan om mense hul verlede te vergewe MAAR nie om te vergeet nie. Vergewe hulle, maar ONTHOU dat jy vergewe het. Baie keer as mens vergeet wat in die verlede gebeur het, kan jy jouself baie kwesbaar maak om weer in dieselfde slaggat te laat trap. Dr. Phil sê gereeld op sy show: “The best predictor of future behavior is … past behavior”. Om net ‘n voorbeeld te noem: As jou oupa jou gemolesteer het, kan jy hom dalk vergewe. Maar dit sal mos net dom-onnosel wees om jou eie dogtertjie eendag alleen by hom te los. Of as iemand vroeër geld by jou gesteel het, gaan jy mos nie jou beursie oop en bloot laat lê die volgende keer as daardie persoon kom kuier nie? Nee, jy gaan vir hom wegsteek! Dus, my punt is: Ons moet mense vergewe en nie vir altyd ‘n fout teen hul hou nie. Maar daar is gevalle wat ons gaan noodsaak om anders teen hul op te tree as vroeër.

10690037_623532974421844_2748347296120444090_n

nr. 3

nr. 3. Waar. Mens kry huigelaars in die kerk. Mens kry ook oulike mense met tattoos. Maar so kry jy ook baie goeie mense in die kerk en baie slegte mense met tattoos. Ek weet nie juis wat die persoon presies wil sê met die prentjie  en wat die boodskap presies veronderstel is om te wees nie. Is dit om pro-tattoos te wees? Anti-kerk? Anti-‘judgemental’? Is dit om die boodskap van ‘don’t judge a book by its cover’ tuis te bring? My opinie: Eerstens glo ek dat stereotipering daar is vir ‘n rede. Niemand sou enigiemand kon stereotipeer as dit nie al oor en oor bewys is nie. Ja, oulike en goeie mense het ook tattoos. Maar dit is tog algemeen bekend dat tattoos ook ‘n ‘bad boy’ ding is? En ja, kerkmense ‘judge’. Nou my tweede punt. Judgemental word hier gesien as ‘n negatiewe ding. Is dit? Onregverdige oordeel is verkeerd. Maar wat baie mense nie weet nie, is dat regverdige oordeel heeltemal okay is! Die Bybel se vereistes is dat ons regverdig MOET oordeel oor ons mede-Christen broers en suster. Dit moet egter altyd in liefde gedoen word met die doel dat die persoon hom sal bekeer en weer op die regte pad sal loop. Ook moet jy nie jouself skuldig maak aan DIESELFDE sonde nie.

1597_10152757915748032_3424865218774773050_n 10698687_778409318886678_1088217198415347226_n

nr. 4 en 5: Die prentjie is reg. Ons almal word geoordeel deur iemand wat nie perfek is nie. Maar beteken dit as ons iemand tereg wys op sonde dat ons perfek moet wees? Gewis nie! Ons moet wel let dat ons nie dieselfde sonde aangaan nie. Ek mag byvoorbeeld nie vir Oscar Pistorius veroordeel as ek ook iemand vermoor het nie, want wie is ek dan? (Inteendeel, as hierdie prentjie tot sy logiese gevolge geneem word, moet ons alle howe, die polisie en die hele regstelsel afskaf, asook alle regstudente “oordeel” vir onchristelike gedrag). Ons moet ook nie die uitwys van sonde en oordeel met mekaar verwar nie! Deur te sê iets is sonde, beteken nie noodwendig jy verdoem iemand na die hel nie. As iemand jou dus tereg wys op iets wat jy doen wat dalk kan sonde wees, moenie op jou perdjie spring en sê ‘maar jy doen dan dit en dat en en en …’ om jouself te verdedig nie. Aanvaar die berisping. Moenie die feit dat die persoon ook sondig is nie (ons almal is immers sondaars) as verskoning gebruik om in jou eie sonde te volhard nie. Ek sien dit nogal baie in Suid-Afrika ook gebeur, veral met misdaad. Die werker voel hy word nie genoeg betaal nie, dus beskou hy dit as ‘n verskoning en ‘n reg om sy werkgewer te vermoor.

1557547_791970334163898_830068861_n

nr. 6

Nr. 6. Hierdie is seker die prentjie wat ek die meeste gesien het op my facebook die afgelope week. Dit is ook die prentjie waarmee ek GEENSINS saamstem nie. Eerstens, Christene is veronderstel om sonde te oordeel! God het aan ons die gawe gegee om tussen reg en verkeerd te kan onderskei. Die enigste ding wat ons nie mag doen nie, is om iemand na die hel te verdoem omdat die oordeel alleen God se werk is. Tweedens: dit is juis as iemand se sonde anders as joune is, wat jy daaroor mag oordeel. Die Bybel praat dat jy nie die splinter uit jou broer se oog moet haal as daar ‘n hele balk in jou oog is nie…. Nou dink gou mooi… beide ‘n splinter én ‘n balk is van hout. Dus is die boodskap daar vir ons dat indien jy dieselfde sonde het, mag jy nie iets daaroor te sê hê, voor jy dit nie self in jou eie lewe reggestel het nie (Mat 7:3-5). Ek sien baie keer mense wat geen issue het met homoseksualiteit nie, maar dan is dit vir hul onaanvaarbaar dat mense voorhuwelikse seks beoefen. Of dit is iemand wat self losbandig lewe, wat weer ‘n probleem met homoseksualiteit het. Beide is sonde, ja! Maar die punt is…as jy self seksueel immoreel lewe, moet jy dit eers regmaak voor jy aan ander begin preek.

Ek weet meeste van die tyd nie wat die persone wat die prentjies share se motivering agter dit is nie. Ongelukkig dink ek baie mense share dit om hul eie sondes te regverdig. Laat ons eerder introspeksie oor ons eie lewens maak, en regmaak wat verkeerd is. En laat ons ons broers en susters in Christus regverdig en met liefde oordeel sodat hulle hul sal bekeer van hul sonde. Sommiges meen dat dit nie liefde is wanneer ons oordeel nie…maar as jy jou broer of suster net laat begaan in hul sonde, terwyl jy weet dat die loon van die sonde die dood is (Rom 6:23a), is dit dan nie baie meer liefdeloos nie?

Johannes 7:24 “Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel ’n regverdige oordeel.”


Lewer kommentaar