Miekie

collageVanjaar was Miekie se 20ste verjaarsdag. 20 jaar voel so lank, tog nog soos nou-die-dag. Ek onthou toe pappa my by die kleuterskool kom haal het. Ek was 5. Ek weet ek was 5 want Cornelis was in die hospitaal met ‘n outo-immune siekte. Ek kan nie die siekte se naam onthou nie, maar weet sy liggaam het sy bloed aangeval. Hy was 2.

Pappa het nie van katte gehou nie. Is as hondmens grootgemaak en dis mos maar ietwat moeilik vir ‘n Suid-Afrikaanse man om te erken dat ‘n kat ook ‘n oulike troeteldier kan wees. Maar pappa het vir Miekie aangebring. Ek onthou nog hoe ek in die wit Toyota bakkie ingeklim het en daar skielik ‘n klein wit katjie met die blouste oë, wat tot in jou siel in kan kyk, onder die sitplek uitgekruip het. Pappa het nog al te verbaas gemaak asof hy nie weet waar die katjie vandaan kom nie.

Miekie was veronderstel om my maatjie te wees terwyl Cornelis siek was. Sodat ek nie afgeskeep voel as hy al ma en pa se aandag verg nie. En sy’t dit goed reggekry. Ek kon saam Miekie lag, huil en vir haar stories vertel. Ek’t ook gesorg dat sy gedoop kom en het haar gedoop in die honde se drinkemmer by die kraan onder die olyfboom by Gruno. In die Naam van die Vader, Seun, én Heilige Gees. Ook al haar kleintjies is gedoop voor hul nuwe huise gekry het…

Miekie was ‘n slim kat, befoetert en lief tegelyk. Sy kon klavier speel en het altyd as ek klavier moes oefen ook ‘n handjie kom bysit. Sy’t ook altyd jou ‘n tikkie gegee met haar poot as sy ‘n happie vleis van die tafel af wou hê. Net so ligte tikkie. En as jy in daardie poele blou oë gekyk het, kon jy nie anders as om te gehoorsaam nie. Sy was ‘n ma-kat, ‘n paar keer! En elke keer tussen 5 en 7 kleintjies. Twee insidente wat van haar slimgeit en moedersinstink getuig is:

  1. die keer wat sy vir elke kleintjie ‘n muis gevang het. Sy het al 5 muise so in ‘n ry laat lê en toe die 5 kleintjies gaan roep. Ek’t dit nog nooit weer by ‘n ander kat gesien nie.
  2. die keer wat sy die hond aangeval het wat dit gedurf waag het om aan haar kinders te ruik. Ons ou boerboel, Marlientjie, was heel nuuskierig oor die klein wolletjies wat op die gras rond gespeel het. Sy’t heel onskuldig kom ruik. Miekie het egter nie die vrede vertrou nie en haar gestorm. Marlientjie was bloedhale gekrap soos wat Miekie haar gefoeter het!

Miekie het saam ons rondgetrek: 8 keer! Ek dink sy’t al gewoond geraak daaraan om elke 2 jaar na ‘n nuwe huis te trek saam ons. Sy was ook die rustigste van al ons katte met die trek. Sy’t geweet dis nie so erg nie.

Die laaste paar jaar het sy egter begin agteruitgaan. Soos wat mens seker kan verwag as ‘n kat ouer as 15 jaar word. Ons het gereeld ‘n vrot tand laat trek, die laaste ene ‘n jaar gelede en moes sy van toe af maar met haar gums kou. Met sagte pakkies-kos en baie fyn gemaakte Bob Martins-pilletjies kan mens ver kom. Daar het mense my gevra hoekom ek haar nie net laat uitsit nie. Want ek glo nie as mens jou tande verloor jy net doodgemaak moet word nie, veral nie omdat sy eintlik nog in goeie kondisie was nie. Sal jy jou ouma laat doodmaak as sy skielik nou valstande moet kry? Presies. So by the way….indien jy een van daardie mense was wat dit vir my gesê het: dit was ontsettend gevoelloos van jou. Ek’s jammer jy’t nooit die kans gehad om so lief te wees vir ‘n dier nie.

Miekie was tot aan die einde die matriarg onder die katte (en selfs die honde). So oud soos sy was en hoe swak haar liggaampie begin word het, het nie saak gemaak nie. As Miekie jou ‘die kyk’ gegee het, het jy gekniel.

Daardie blou poele kyk tot in mens se siel.

Daardie blou poele kyk tot in mens se siel.

Dit was vir my altyd verbasend hoe die ander ses katte altyd ondergeskik aan haar gebly het, al was hul baie groter en sterker as sy. Dit sê nogals iets van respek vir jou oumense! Haar gunsteling maatjies in die huis was Swartjie en Skye. Beide van hulle is weeskinders wie se vorige eienaars oorlede is. Ek hou daarvan om te dink dat Miekie hul onder haar vlerk wou neem.

Toe  ek weer in SA kom kuier het, het Miekie haar sommer dadelik in my tas kom tuismaak...

Toe ek weer in SA kom kuier het, het Miekie haar sommer dadelik in my tas kom tuismaak…

Ek was nou vir 3 weke terug SA toe om te gaan kuier. En was ontsettend bevoorregt om weer vir Miekie te kon sien. Om haar op my skoot te kon hê in die aande voor TV, was so lekker. Miekie het vir my gewag. Die laaste dag van my kuiertjie was ook Miekie se laaste daggie op aarde. Dit was verskriklik. Dis so moeilik om vir mense te vertel dat mens treur oor ‘n kat… Dis mos, net ‘n dier, jy weet… 20 jaar is mos nie ‘n lang tyd nie… ek ken mos nie my kat al langer as wat ek vir jou ken nie…

Maar nou ja, die tyd moes seker een of ander tyd kom om te groet en ek is regtig dankbaar dat ek vir Miekie tot op die einde as my katjie kon hê. Dat sy vir oulaas met haar blouste blou oë vas in my oë kon kyk. Ek is dankbaar teenoor my ouers wat so mooi vir haar gesorg het terwyl ek oorsee is. En ek’s dankbaar vir kleinboet Bernard wat haar in die hoek van die tuin gaan begrawe het. Ek is dankbaar vir 20 jaar. Dankbaar dat ek vir so lank vreugde uit my katjie kon put. Dankbaar dat die Here vir ons troeteldiere gegee het wat ons lewens voller maak en dankbaar dat diere hemel toe gaan…

1002438_10151673290013476_1012303673_n 1378072_10151906814563476_1380209433_n 10527288_10152525255283476_3579042433088849297_n 18708_10151737995108476_1753525556_n 11225_10152003054833476_818195699_n

http://www.slideshare.net/frontfel/will-animals-be-in-heaven?qid=0a389f8e-3443-4353-9cef-5c18f9456150&v=qf1&b=&from_search=2

1 thoughts on “Miekie

  1. Shani sê:

    Dis baie mooi. Pragtige storie.

    U is geseënd.

    Spreuke 12:10 Die regverdige ken die natuur van sy dier, maar die barmhartigheid van die goddelose is wreed.

    Dankie vir die deel. Here seën vir u!

    Like

Lewer kommentaar