Nuus uit Nederland #1 (Des 2013)

Goeie aand!

Eerstens… Geseënde Kersfees en ‘n voorspoedige nuwe jaar vir julle almal.

Kersboom op die Grote Markt

Kersboom op die Grote Markt

Terwyl julle almal op die strand baljaar (die fotos op facebook maak my groen van jaloesie), bibber ek vandag lekker hier in Nederland. Maar ek kan nie kla nie, ons het eintlik goeie weer met baie sonskyndae beleef die afgelope 2 weke.

Ek het ‘n werk as kinderoppasser gekry by ‘n gesin wat net sowat 200m van ons af woon, so dit is baie gerieflik. Die mense het 2 seuntjies, 8 en 10 jaar oud. Hulle lyk baie gaaf en ek hoop dat dit ook lekker sal wees om daar te werk. Ons gaan nou hierdie week hulle net leer ken en dan sal ek op 6 Januarie amptelik begin. Die oudste seuntjie is die jaar nogals deur trauma…sy een maatjie is dood in ‘n gesinsmoord en sy ander maatjie se pa het selfmoord gepleeg. Dis nogal jammer dat hierdie mense nie gelowiges is nie, dit is soveel makliker om trauma te verwerk en getroos te word as jy die Trooster ken.

Ons het ‘n taamlike besige week agter die rug met vele ‘events’. Ons was Sondag vir middag-en aandete by die familie Hoving.

Eet by familie Hoving

Eet by familie Hoving

Hulle het vir 10 jaar lank in Suid-Afrika gewoon en het ons onder hul vlerk geneem. Hul een seun Nico (hulle het 6 kinders) , is ook ons lift kerk toe. Hy is ook in SA gebore en besit dubbele burgerskap, so hy gaan kuier gereeld daar. Hy spot dat hy nog met ‘n Afrikaanse meisie wil trou.

Dinsdag was ek na ‘n girls night (meide avond) saam met al die jong vrouens van die kerk waar ons fondue geëet het en net gesels het. Die mense is almal baie vriendelik en die Nederlands heel verstaanbaar, mens moet net ekstra hard konsentreer en dit raak nogals uitputtend. Gelukkig is die Groningse dialek eintlik makliker vir ons omdat hulle met meer van ‘n Duitse aksent praat wat dit meer na Afrikaans laat klink.

Woensdag was Adi bietjie uit saam sy mede-PhD studente en Donderdag is ons na die kerk se studentevereniging se dinee. Daar was wel so bietjie van ‘n blaps…op die uitnodiging het gestaan ‘diner’. En so neem ons toe aan dat dit ‘n ete is en daag toe heel casual daar op (jeans en trui) terwyl almal in aandrokke en aandpakke is. Bummer! Gelukkig was die kos heerlik gewees…

Die naweek is dit die winterwelvaart-fees hier in Groningen. Al die bote is met Kersliggies versier en hier is ‘n hele kermis aan die gang. Ook orals musikante en kore wat die atmosfeer nog meer geselliger maak.

Winterwelvaart. A-kerk toring in die agtergrond.

Winterwelvaart. A-kerk toring in die agtergrond.

Ek is nie presies heeltemal seker wat die winterwelvaart is nie, maar dit wil vir my lyk of dit amper ‘n kunsfees-tipe ding kan wees want daar word lesings en aktiwiteite aangebied regdeur die naweek.

Soos jul kan aflei het ons klaar by ‘n kerk ingeskakel. Ons het in Korea agtergekom hoe baie dit ook kan help met vriende maak en om aan te pas indien jy ‘n kerkfamilie vind, so ek is bly ons kon so vinnig ‘n kerk in NL vind waar ons gemaklik voel. Die kerk is egter in ‘n ander dorp en als is in Nederlands, maar tog heeltemal verstaanbaar. Die denominasie is ‘Gereformeerd Hersteld’. Die mense is super-vriendelik en ons kry heeltyd uitnodigings om by mense te kom eet. Die kerk het ook ‘n oggend en ‘n middagdiens waar almal beide heen gaan. Dit is so bietjie anders as waaraan ons gewoond is. Tussen-in die dienste gaan eet ons dan by wie ook al ons nooi, so dan leer ons ook die mense beter ken. Die gesin by wie ons vandag gaan eet het is ook baie oulik. Die oom vertel dat hy graag Afrikaanse boere-oorlog stories gelees het en hy ken omtrent al die boere-leiers op die punte van sy vingers.

Iets wat ook vir my opvallend is, is die feit dat die mense so lekker pepperminte eet in die kerk. Amper asof dit ‘n hele ritueel is! Ek onthou as kind het die ou ooms en tannies en my oupa en ouma altyd vir ons pepperminte gegee in die kerk, maar ek’t altyd gedink dis omdat ons klein en cute was. Nou begin ek wonder of dit dalk ‘n tradisie kan wees. Maar die snaakste deel van dit is die feit dat almal op dieselfde tyd hul pepperminte uithaal en eet. Sodra die ds klaar die skrif gelees het, word dit die eerste keer uitgehaal voor hy begin preek. Daarna elke keer as hy sê ‘en tweedens’ of ‘en derdens’. Dit is amper asof hy ‘n kans gee dat almal gou eers hul peppermint kan kry voor hy aangaan. Ek sal maar vir ons ook ‘n pakkie pepperminte vir kerk moet gaan aanskaf…

Sover het ek nie veel nuus nie, ons is darem nie alleen vir Kersfees nie aangesien my vriendin van SA wat ook in Antwerpen studeer, Vivo, vir ‘n paar dae hier kom kuier. Presies ‘n jaar terug wat ons vir haar gaan kuier het. So dis maar ‘n nuwe tradisies lyk dit my…

Vivo en Adi by ons Kerstafel.

Vivo en Adi by ons Kerstafel.

Lewer kommentaar