Korea #11 (13 Des 2012)

Hellooooo julle
Ek het bietjie lanklaas geskryf – meestal maar lui-geit en ook omdat ons seker nou al gewoond geraak het aan die meeste vreemde dinge. Ons nuutste vreemde ervaring is natuurlik die sneeu! En die koue. Dis baie baie baie koud hier. So koud dat lugpartikels vries en rondsweef…. Vanoggend toe ek half 9 opstaan het my foon se weer-app -14 grade Celsius gemeet – en dit is die warmste die week. Eish met eish ja… en die Koreaanse dametjies dra nogsteeds hulle kort broekies en rompies…darem met sykouse (LW, nie van daai wol-soort nie, sommer die gewones!!). Ek weet nie hoe de hel jou voorkoms so belangrik is dat jy amper moet doodvries nie. 
10111_10151294351658476_1807435129_nDie yskristalle wat oral vorm fassineer my seker die meeste…ek kan vir ure na al die patroontjies wat vorm op die vensters kyk!
297103_10151273513748476_44210421_nOns het ook al heelwat pret gehad in die sneeu – het al ‘n sneeuman gebou, snow-angels gemaak en Adi het al so paar keer in die sneeu geduik. 313518_10151273513888476_859988025_nDis dons-sag net na dit gesneeu het, voel letterlik of mens op lug loop…
Ons het sneeugeveg ook al met die kinders gehad. Dis groot pret, maar ek’t van daardie handskoene wat se vingerpunte oop is aangehad en Adi het glad nie handskoene aangehad nie. 76430_10151271721693476_1768762300_nOns hande het so gepyn van die koue, ons wou huil!! My duime het eers teen die aand se kant weer begin gevoel kry. Ek het regtig begin stres dat ek vriesbrand kon opdoen!!
Ons het ons hasie ook al uitgeneem vir ‘n stappie en sy het die sneeu ook heelwat geniet.261429_10151273511778476_790813505_n300028_10151273511933476_1292418822_n
Ons het laas Vrydag afgekry by die skool omdat die sneeu te erg was – dit was so ekstra bonussie gewees. Hulle het ons so ampertjies by die skool vergeet! Ons is skool toe die oggend en ons wag en ons wag en ons wag dat ons klasse moet kom. Die Engelse deel van die skool is half apart van die res van die kindergarten. Op ‘n stadium kyk ek by die venster uit en sien al die kindertjies met hul tassies klim weer op die bus. Ek gaan toe gou kantoor toe om te hoor wat aangaan. Ek sien die juffie skrik so klein bietjie — gee weg dat hul van ons vergeet het — en sê ons moet hardloop vir die bus, ons moet huistoe gaan!  Ek sien daar word weer baie sneeu voorspeel vir hierdie naweek – ek hou duimvas Vrydag is weer ‘n snow day!!
Ek en Adi was albei vir omtrent 3 weke verkoue gewees, dit voel darem of ons hom begin wen. Dink hierdie seisoensverandering was dalk bietjie te erg op ons.
Volgende week is die laaste werksweek voor die vakansie – net betyds vir die wêreld-einde volgens die Mayans. Ons hoop maar die einde is nog ver, want ons beplan bietjie ‘n vakansie in Europa waar ons in Duitsland, Belgie en Nederland gaan toer en by vriende kuier. As enige van julle dalk ook toevallig in daardie rigting is, laat weet my!!
Ons het ‘n Duitse-groepie gevind in ons buurdorp, so ons almal ontmoet elke 2 weke dan oefen ons bietjie ons Duits. Gisteraand het ons bietjie gluhwein by die coffee shop ingesmokkel. Het lekker stout gevoel.
Ons is baie gelukkig dat ons skool vir ons 2 weke vakansie gee. Baie van die ander engelse onderwysers, veral die by die staatskole, kry net Kersdag af en miskien nuwe jaar. 
Ek en die een Koreaanse juffrou begin goed oor die weg kom hier by die skool. Sy kan nie veel engels praat nie, maar is baie determineerd om te leer. Sy maak heeltyd notas van dit wat ek vir die kinders leer en probeer ook saam gesels. Dis lekker om te sien mense probeer hulself help en verbeter. Ek moet nou nog net haar naam probeer onthou – die koreaanse name is maar lank en vreemd. Hulle van (surname) word mos eerste gese en dan hul name. Die vrouens neem ook glad nie die manne se van aan as hul trou nie. Dus is ek nog Grobler hier. 
Ons kerk het Saterdagaand ‘n talent-aand, so ek, Adi en 2 ander meisies van SA gaan bietjie Somerkersfees vir hulle sing.https://www.youtube.com/watch?v=RerQA-0GZj0.  Dis vir die Amerikaners die snaaksste ding in die wereld om te hoor dis somer as ons Kersfees het. Partykeer wonder ek of van hulle regtig ooit daarvan bewus was dat die Suidelike halfrond se seisoene andersom is…hulle weet mos gewoonlik nie veel meer wat buite die VSA aangaan nie… Ons vertel vir ons een Amerikaanse vriend van ons Somerkersfeeste in SA. Sy eerste reaksie “What??? You have Christmas in July????”  Gelukkig het hy darem baie gou agtergekom dat dit dalk nie die slimste reaksie was nie en lekker vir sy eie simpelgeit gelag. Ek lag nou nog daaroor…
Verder het ek nie veel nuus nie, sal na ons vakansie weer bietjie skryf. Vir die van julle wat ook die langpad aanpak vir vakansie: veilig ry en geniet dit!
Baie liefde
Lize