Korea #10 (29 Okt 2012)

Ek is darem maar dankbaar ek was nie ‘n kind in Korea nie….
Hier word verskriklik klem gelê om te presteer, veral in die akademie. Ouers wil mos almal die slimste kinders hê. Dit skep darem vir ons werk, want in SA sou die ouers nou nie veel gevoel het dis nodig dat hul 3-jarige ekstra engelse klasse moet kry nie.
Hoërskool leerlinge kom eers 7pm van die skool af!! Ja, net van die SKOOL af!! Dan begin hul eers met hul buitemuurse aktiwiteite soos Tae Kwon Do, sokker, musiek of wat ook al. Soms hou skool selfs tot 11pm aan…. Dan moet die kinders nog huiswerk doen ook. So die meeste Koreaantjies kom eers middernag se kant in die bed.
Ons werk gelukkig net by ‘n kleuterskool, maar dis selfs vir my erg dat die kleintjies tot 6pm daar bly. En moenie dink dis soos ‘n SA naskool waar jy net çhill in die middae nie… nee jong, die kleintjies word die heeltyd besig gehou met engelse klas, chinese klas, musiek ens ens. Soms as van daai 3-jariges by jou kom, dan kan mens sien die arme bloedjies is oormoeg en kan nie meer konsentreer nie.
Hierdie druk wat so op die kinders geplaas word is natuurlik ook die grootste rede hoekom Suid-Korea die land met die meeste tienerselfmoorde is. Selfmoorde vind verskriklik baie hier plaas, en dis ‘n land waar niemand eers ‘n vuurwapen mag besit nie. Dit is ook ‘n vreeslike skande vir die familie as iemand selfmoord pleeg en die kind se hele bestaan word letterlik uitgewis, asof hy nooit daar was nie. Ouers kry ook geen simpatie van ander af nie.
Dit is nou naby aan hul nasionale eksamens, en dis die tyd van die meeste selfmoorde.
Ek sit bietjie ‘n link op van die eksamens dan kan jul self lees hoe absurd al die maatreëls is. Vlugte word selfs uitgestel dat die vliegtuie wat oor Korea vlieg nie die kinders kan pla nie. Inkomende vlugte moet ook hierby hou!! Maar hier is die link: http://www.korea4expats.com/article-csat-korea.html .
Adi het ook ‘n artikel geskryf oor hoe hy sover die Koreane ervaar as jul belangstel om dit bietjie te lees:
44782_10151528819948476_1161836577_n 259946_10151245345618476_1492877123_nVerder gaan dit baie goed met ons, ons het vir ons ‘n troetelhasie gekry wat ons besig hou. Dis nou nog nie so oulik soos ‘n kat nie, maar minder moeite as ‘n hond. Dis darem lekker om nog so asempie in die woonstel te hê. Dit raak nou al lekker koud en ons maksimum temperature is nou al onder 20’C .

Korea #9 (13 Oktober 2012)

Hello julle oukies en vroukies!!
Jammer ek vat soooo lank om te skryf, maar ons het hierdie maand of 2 bietjie tot ruste gekom en in ons huisie in gesettle. So wou julle nie te veel verveel nie.
Ons geniet ons dorpie meer as in Seoul. Dis rustiger en hy het als wat ons nodig het. En by die skool is ons taamlik op ons eie en kan ons ons eie ding doen (dis nou die voordeel as die ander onderwysers nie juis engels verstaan nie). Ons meeste vriende is maar in die buurdorp, Cheongju, asook ons kerk. Ons gaan nou na ‘n presbiteriaanse kerk met ‘n Koreaanse dominee wat in Amerika grootgeword het. So sy engels is goed en hy ken die westerse leefstyl. Hy glo baie dieselfe as ons (Calvinisties/gereformeerd) waaroor ek baie bly is, is al moeg vir dominees wat als net sugarcoat en wat sê wat mense wil hoor. Ons het ‘n baie lekker kerkgemeenskap met heelwat ander buitelanders vanaf Amerika, Kanada, Australië, Brittanje en tot Zimbabwe. Ons is 4 Saffas. Na kerk gaan eet ons almal gewoonlik saam by Mac Donalds en kuier letterlik tot 6h die aand. En om te dink ons kerkdiens eindig al 1h! Dit is verseker die lekkerste kerk waarby ek nog lid was. Ek wens ek kan hulle sommer saamvat as ek ooit weer SA toe kom. Ek gaan ook nou begin om in die kerk se band te sing – alhoewel dit vir my nog so effens scary is…
Ons kerk het regtig ook baie sosiale aktiwiteite, wat dit veral lekker maak in ‘n vreemde land soos Korea. Ons gaan bv oor 2 weke op ‘n een-dag staptoer. Ek sien nogals uit, maar ek’s soooo onfiks, ek hoop ek maak dit!
Ons beste vriende is op die oomblik ‘n paartjie van Amerika (Sam & Nicole), wat ook omtrent ons ouderdom is. Hulle kom uit vreeslike groot gesinne!! Die man is die oudste van 10 en sy vrou is die oudste van 11. Hulle lewensuitkyk is nogals baie dieselfde as ons s’n, en dis nogal lekker om net met mense te kan kuier sonder om te worry of jy hulle nou gaan ‘offend’ of nie.
Ons het ook so kort vakansie begin Oktober gehad. Die Koreane het Chuseok. Dit is ‘n fees aan die einde van die oes.
Chuseok (Korean: 추석), originally known as Hangawi (한가위, from archaic Korean for “the great middle (of autumn)”), is a major harvest festival and a three-day holiday in Korea celebrated on the 15th day of the 8th month of the lunar calendar. Like many other harvest festivals, it is held around the Autumn Equinox. As a celebration of the good harvest, Koreans visit their ancestral hometowns and share a feast of Korean traditional food such as songpyeon and rice wines such as sindoju and dongdongju. – Wikipedia
Almal gaan dan na hul families en gee vir mekaar geskenke. Dis amper soos wat ons met Kersfees sou doen. So het ons toe ‘n lekker 5-dag langnaweek gehad. Ons is bietjie Seoul toe waar ons ook vir Ingrid, ‘n Universiteitsvriendin van my ontmoet het.                                                                                                                                                                                                                    404046_10151171408868476_224773466_n644579_10151171406143476_847123299_n   Ons het die trick-eye museum besoek. Daar is orals prente op die mure geverf waar jy dan fotos saam kan neem dan lyk dit amper of jy deel is van die portret… of so iets.

Ingrid het laatmiddag ‘n teaterstuk gaan kyk, maar ons was bietjie suinig, dit was so $40 per persoon, so toe het ek en Adi bietjie Seoul Tower toe gegaan.199339_10151171409473476_1547478624_n

247740_10151171409733476_1787203814_n

Pragtige uitsig oor Seoul vanaf die toring

Ons kon toe oor die hele Seoul uitkyk en ons het ook die lekkerste hamburgers ooit geëet. Ek sal graag in die dag ook wil teruggaan soontoe.

Die aand: ons het besluit om by ‘n Jinjilbang oor te slaap. Nou dit is ‘n Koreaanse tipe spa. Jy betaal $12 vir 12 ure en dan kan jy op die vloer in die saal slaap as jy wil en dan ook gebruik maak van die jacuzzis en warm baddens (mans en vrouens apart). Vir behandelinkies moet jy ekstra betaal. Die weird deel van dit is, die warmbaddens/jacuzzi deel. Jy moet kaal wees. Almal is kaal. Vir ons was dit baie vreemd en ons het eers met ons handdoekies orals heen geloop. Al die naakte Koreane was ook maar iets anders. Hulle loop daar rond asof dit hul glad nie pla nie. Die snaaksste deel was waar daar so ry baddens is wat nou water uitspuit om jou te masseer. Ons gaan lê toe elkeen in een… hoe snaaks (en weird) was dit nie toe ons teruglê en sien daar is spieels teen die dak nie!! En natuurlik Koreaanse meisies wat van die geleentheid gebruik maak om te kyk of ons nou anders as hulle is…. Maar ons het dit nogal geniet, veral na amper 4 maande van geen bad nie. Ons het net ‘n stort in ons appartment.
Dit was egter een te erg vir Adi en hy het uit die badkamers gevlug.
Die Dinsdag was nie ‘n amptelike vakansiedag nie, maar omdat die Woensdag ook een was, het ons skool vir ons af gegee. Ons het toe weer Seoul toe gegaan en gaan aansoek doen vir ons Duitse visas vir Desember vakansie. Ons gaan vir Kersfees en nuwe jaar by my Duitse vriendin Luise en my vriendin Vivo wat nou in België swot, gaan kuier. Ons hou nou maar duim vas dat ons visas goedgekeur word, alhoewel ek nie dink daar probleme sal wees nie. Dit was nogals ook geluk dat ons betyds by die ambassade was. Ons het die oggend van Ochang af die bus gevat, vliegkaartjies gaan koop, bank toe gegaan vir state, visa fotos gaan neem en fotostate van dokumente gaan maak…en toe kom ons 3 min voor 12h by die ambassade! Is bly ons het hom net-net oop gevang, anders sou ons onbetaalde verlof by die skool moes neem op ‘n ander dag en dit sou ons so R1000 gekos het.
Verder het ons culture day by ons skool gehad waar ons die kindertjies iets moes leer oor ons kultuur. Die juffrou kom nogals die Vrydag by ons aan en vra dat ons American folkdance moet doen. Kyk, hulle weier om te glo ons is van Afrika omdat ons nie swart is nie, al het hulle al ons paspoorte gesien. Ek sê toe vir haar “we no American, we teach African folkdance?” en sy sê toe maar “okay”.
Maar toe ons Dinsdag in die klas kom, toe is hy versier met Amerikaanse vlae en model-beeldjies van mount Rushmore en die White house ens. Wel, ons het nogsteeds vir die kinders Jan Pierewiet geleer, met ‘n tipe Volkspele dansie. Die onderwysers was eers bietjie verward elke keer as ons sê ons leer ‘n South African song, maar tog het die kinders dit baie geniet. https://www.facebook.com/video.php?v=10151184230698476&set=vb.811663475&type=3&theater Jan Pierewiet is regtig die maklikste Afrikaanse liedjie om vir ‘n kind te leer met al die herhalings. Gister toe ek in die bussie klim, toe sing die een 3-jarige dit vir my!! En haar uitspraak was nogals in die kol! Hulle klassie was Dinsdag maar net vir 10min by ons. Ek was nogals impressed! Net jammer dis nou die dag wat ek nie my kamera saamgebring het nie. Maar ek gaan verseker Maandag probeer om haar af te neem as sy dit sing. En sy is DIE cuteste kleintjie in die skool.https://www.facebook.com/video.php?v=10151201949433476&set=vb.811663475&type=3&theater

Deesdae dink die kindertjies hulle is baie oulik as hulle al hul engelse liedjies in die skoolbus oppad huistoe sing. Dit is nogals gesellig! Die kleintjies wat agter my in die bus sit, het ook begin om my nek en rug te kielie, nou lag ek fake sodat hulle moet aanhou…

602270_10151254444603476_1304269624_n

Na ‘n daggie by die skool wat eers 6pm eindig, is die kindertjies poegaai. Een liedjie op die bus en dan kap hulle uit.

Die een wat altyd in Adi se klas begin huil het as sy hom sien, het darem nou na 3 maande aan hom gewoond geraak, alhoewel dit nog nie lyk of sy hom heeltemal vertrou nie.

420929_10151168865953476_109228202_n

Tot aan die einde het hierdie meisietjie nooit vir Adi heeltemal vertrou nie. Hier is sy in haar Chuseok-klere.

Haha! Dis seker sy rooi hare en baard wat vir haar net een te erg is. Die ander kinders is nou weer heeltemal gefassineerd daarmee. Hulle sal heeltyd aan sy bene of arms kom vryf. Hier is die Koreane mos nie harig nie, so lyfhare is vir hulle iets heeltemal anders. Ekt ook nog nie juis iemand met ‘n snor of baard hier gesien nie, behalwe ‘n baie ou omie.

Dit raak nou lekker koud hier. Hierdie week was die maksimum temperature maar 18’C en die minimum so 7. So dis bykans Warmbad se winter-weer. Ek sien glad nie uit na die winter nie, ek’t so idee dit gaan vrek koud wees. Hier by ons sneeu dit ook glo baie. Hopelik kry ons ook snow-days soos in Amerika waar die skole toe is agv te veel sneeu. Ons skool is juis buite die dorp en oppad soontoe is daar maar heuwels en draaie om daar uit te kom.
Mooi bly en ek hoop ek hoor sommer gou weer van julle!
Baie liefde
Lize & Adi